Author: Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

End of content

End of content