Oorseeland – Die gras is beslis nie altyd groener nie

24/07/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Oorseeland – Die gras is beslis nie altyd groener nie

Deur dr. Rineé Pretorius

Daar is so baie verhale en stories van die groen gras aan die ander kant. My ervaring was egter anders.

Vrywaring: Ek besef almal se storie en perspektief is uniek – en bedoel nie dat enigiemand hulle met my storie hoef te kan vereenselwig of my menings met my hoef te deel nie.

Daarom, as ek mag, vertel ek graag van die wroeging wat ek gehad het in my tyd in die buiteland asook my paadjie terug huis toe.

“Ek doen dit ter wille van my kinders.” … “Hier is tog geen hoop op ’n toekoms nie.” … “Ons veg ’n hopelose stryd op oorlewing … hier is ons as Westerlinge vasgevang in ’n derdewêreldland.” …  “Ons kan mos altyd weer kom kuier”.

Om bogenoemde (en ander) redes het ek myself vir groot gedeeltes van my eerste ses jaar ná skool in “oorseeland” bevind.

In oorseeland is dit veilig. Hier kan die kinders mos nog veilig in die strate met hul fietse ry. “Alles werk hier,” hoor ek myself sê oor die foon aan my geliefdes in Suid-Afrika. Daar’s egter min opgewondenheid in my stem.

“Hier sluit die mense nie hul deure in die nag nie … Hier is die wêreld ’n oester met legio geleenthede vir my kinders eendag,” vertel ek myself om net weer te onthou waarom ek hier is.

Ek kry egter swaar.

Wat is fout met my? Is dit maar net aanpassing wat sal oorwaai soos ek begin wortel skiet hier? Duisende ander soos ek bevind hulle tog ook in oorseeland en is dan so gelukkig en voorspoedig hier.

Elke keer as ek kom kuier in Suid-Afrika, is ek fyn ingestel op alles wat verkeerd loop hier en probeer ek weer vir myself sê: “Rineé, sien jy, dit was tog die regte keuse.” Maar waarom het ek dan nie vrede nie?

As ek in Suid-Afrika is, sien ek verval en as in oorseeland is, is ek verlep. Ek is rusteloos en voel doelloos. Vrede en vreugde bly my ontwyk. 

Soos met ’n eks-kêrel wat jy net nie uit jou gedagtes kan kry nie – betrap ek myself gereeld dat my lyf in oorseeland is, maar my kop bly draai om Suid-Afrika. Ek lees nuusbrokkies, volg die sport en op YouTube navigeer ek maar elke keer onwillekeurig na Afrikaanse liedjies en onderaan die liedjies sien ek my eie en hordes van my mede-oorseelanders se verlange uitgedruk in kommentaar. Ek kan maar net nie Suid-Afrika uit my gedagtes kry nie …

Oorseelanders is so aangenaam, vriendelik en meestal sorgvry. Hulle gesels graag, maar dit voel “bolangs” en onbevredigend en daarom droog die geselsies maar gewoonlik vinnig op.

As die verlange te erg raak, gaan soek ek mede-Saffas op en herinner (oortuig) ons mekaar elke keer net gou weer om die “gesellige” gasbraai waarom ons darem bly is ons het “uitgekom terwyl ’n mens nog kan.”

Hoe is dit dat hierdie mense min of meer soos ek lyk, maar tog nie voel soos eende van my (plaas)dam nie? Sal ek maar uithou ter wille van my kinders? Sal ek maar die uitlander hier wees sodat hulle eendag deel kan wees van ’n plek waar hulle welkom voel?

Weldra dring die besef tot my deur: die blote afwesigheid van hoë mate van misdaad, verval en korrupsie beteken toe nou nie geluk nie, en bring beslis nie die vrede wat dit beloof het om te bring nie.

Verder dink ek aan my eie ouers wat ouer word, en aan ouetehuise vol eensame oumensies met pragtige kiekies teen die mure van die kinders en kleinkinders voor die Sydney Operahuis, in plaas van kiekies waarin die kleinkinders op oupa se knie of saam met ouma in die kombuis is. Wie erf die waardevolle wa-kis waarop die TV staan of ouma se trouring wat sy by haar ma geërf het dekades gelede? Of gaan al die boeke en erfgoed maar iewers afgelaai word om verpand te word? Dit is tragies. Ek sukkel om myself te oortuig dat dit “oukei” is om die vorige geslag so alleen agter te laat. Wie se “las” moet hulle word as hul swakker word? Ongelukkig voel ek dat ek ook ’n verantwoordelikheid teenoor hulle het. Ek besef dat wat vir my ouers die beste is, nie ’n groot rol gespeel het toe ek oorsee getrek het nie. Of ek dit nou wil hoor of nie – my verantwoordelikheid tot die vorige geslag is nie minder belangrik as my verantwoordelikheid tot die volgende geslag nie. Nie net is dit ’n verantwoordelikheid nie, maar ’n voorreg, wat ek met die grootste liefde en deernis wil opneem.

Nog ’n gewaarwording wat ek gehad het is dat ons, ek en my kinders, dalk fisies in gevaar is in Suid-Afrika, maar in oorseeland is my en veral my kinders se siele in gevaar. In oorseeland waar alles “werk”, is die risiko geweldig groot dat ouers – en dus hul kinders ook – geestelik begin verval en verder van God beweeg. Hier, in donker Arika, kan ons nie anders nie as om elke dag heeldag herinner te word dat ons totaal en al afhanklik is van God se genade. Is dit nie ’n groter verantwoordelikheid om te doen wat die beste is met ewigheidsperspektief in gedagte nie?

In oorseeland is ons ook vasgevang in ’n ontwortelde staat van bestaan, altyd die “outsider”; altyd soekend na die ontwykende vrede. Ek sou my kinders ’n onreg aandoen om hul kultuur-, taal-, en erfenisnaelstring te knip sodat hul ook maar eendag rusteloos sou ronddobber in oorseeland sonder ’n sterk sin van identiteit en herkoms. Ek sou kultuur-weeskinders grootmaak wat nie weet wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Die ketting van kennis, geloof en lewenswysheid wat van geslag tot geslag oorgedra word, word wreed gebreek en laat ’n vakuum … wat waarmee gevul sou word?

Die naelstringverbinding met my mense, my taal, my kultuur, my erfenis en my geskiedenis is net te sterk. En Afrika is nou maar eenmaal in my bloed. Ek besef eers doer vêr hoe diep my wortels lê.

Dit is om hierdie rede dat ek terug is in my geboorteland.

Die konstante tweestryd en wroeging wat ek in oorseeland beleef het was baie moeiliker. Soos hierbo genoem, kon ek net nie tot ruste kom daar nie en het vrede en vreugde my bly ontwyk.


Ek weet hoe moeilik dit is om die besluit te neem om terug te keer. Ek weet hoe mens in twee geskeur voel oggend tot aand.

Die raad wat ek sou gee is om, indien jy gelowig is, werklik stil te word en ernstig te bid dat die Here vir jou die rigting sal aanwys waar Hy jou wil gebruik. Dink mooi na oor die rede waarom jy in die eerste plek oorseeland toe is. As jy bloot gevlug het, gaan jy bitter moeilik ooit die vrede en vreugde beleef wat jy najaag. Bid vir vrede in terme van jou besluit. En wanneer jy vrede ervaar dat dit wel hier in Suid-Afrika is waar die Here jou wil gebruik, hou op twyfel en gooi jou gewig pens en pootjies hierdie kant in by mense en groepe wat doelgerig bou en ’n verskil maak. Dit maak ’n mens geweldig positief en laat jou besef dat jy deel is van ’n veel groter prentjie as net ons kort tydjie hier op aarde. Deur ander te dien en deur te doen en te bou, voel ons ons lewe het betekenis, ons lewer ’n bydrae, ons maak ’n verskil; ons bou aan iets om vir ons nageslagte na te laat; en om in totale afhanklikheid van die Here te leef, bring die vrede en die vreugde wat jou dan nie sommer weer sal ontwyk nie.

’n Boom se wortels groei juis in die winter, wanneer die weer maar ongenaakbaar is bo die grond. Dit lyk of die boom swaarkry, maar in die winter word dit sterk, daar onder die grond, waar niemand dit sien nie. Swaarkry kweek volharding. Dit bring groei. As ’n mens elke winter ’n boom sou ontwortel en in “groener” areas plant waar die weer gerieflik is, gaan hy nooit diep kan wortel skiet of sy volle potensiaal bereik nie.

So is dit ook met ons. Watter betekenis is daar in my ontwortelde bestaan oorsee? Wat gaan my nageslag werklik daarby baat? Wat laat ek vir hulle na? Is dit werklik beter waar dit groen en maklik is?

Nee.

Ek bly eerder hier gewortel en verduur die warm Afrikason en soms ongenaakbare omstandighede dienend en bouend – sodat ons nageslag in ons bome van kultuur, taal en erfenis se takke kan klim, klouter en speel in kinderlike vrede en vreugde.

Ek het my storie begin met die redes waarom ek aanvanklik oorsee is. My deuntjie klink nou anders. Nou kan ek met oortuiging sê:

“Ek bly juis hier in Suid-Afrika, ter wille van my kinders …”

Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Psalm 16:5–6 AFR53 

Om te emigreer is een van die mees ingrypende en duurste besluite in ’n individu of gesin se bestaan. Die besluit om te emigreer, te bly, of terug te kom, is ’n persoonlike besluit. Niemand het die reg om enigiemand anders se besluit te veroordeel nie, omdat elkeen van ons ’n eie waardestelsel het wat ons keuses bepaal.

Deel op

Nuutste artikels