Afrikaans en tweetaligheid oor die grense heen

20/05/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
Afrikaans en tweetaligheid oor die grense heen

Die konsep van tweetaligheid – veral met Afrikaans as een van die tale – neem ’n interessante wending in die buiteland waar dit nie net ’n manier van kommunikasie is nie, maar ook ’n simbool van kulturele erfenis en identiteit.

Met die beweging van mense oor grense heen, ontstaan daar ’n unieke uitdaging en geleentheid vir die handhawing en bevordering van tweetaligheid in die buiteland.

Met die hulp van inisiatiewe soos AfriForum Wêreldwyd, wat toegewy is om ondersteuning te bied aan die Afrikaanse gemeenskap deur die verspreiding van Afrikaanse hulpmiddels in die buiteland, bly die taal ’n lewendige en dinamiese deel van sy sprekers se daaglikse lewe, selfs al woon hulle in die buiteland. Ons moedig die Afrikaanse gemeenskap wêreldwyd aan om hul taal met trots te gebruik en te bewaar.

Ons Wêreldwyd-vriende deel die volgende met ons op AfriForum Wêreldwyd se Facebook-blad:

“Afrikaans is ’n briljante, kleurvolle, raaksê-taal. Dit is ’n besigheidstaal, ’n liefdestaal, ’n kook-taal, dié rugbytaal, ’n taal vir speel, bid en leer. So ek wil my deel doen om Afrikaans ook in die buiteland te bevorder. Ek doen ook wat ek kan vir die wyer gemeenskap.” – Jeannie van Zyl, eienaar van Boekwurm in Australië.

“Tweetaligheid hou ook voordele in vir albei kante van die ouderdomspektrum: Tweetalige kinders so jonk as sewe maande pas beter by omgewingsveranderinge aan, terwyl seniors wat vlot is in twee tale minder kognitiewe agteruitgang kan ervaar. Ons het in 2018 Nederland toe geïmmigreer. Ons tweeling was toe vyf jaar oud. Ná ses maande het hul vlot Nederlands gepraat. Hulle wissel sonder moeite van Afrikaans na Nederlands asook Engels. Elke taal wat hul praat het ook die korrekte aksent. Een ding wat ek moet beklemtoon: ’n Kind moet ’n basis behou, ’n moedertaal. Afrikaans is ons leef-en-lag-taal.” – Lorraine Blauw

“Ons praat net Afrikaans in ons huis, my kinders lees ook Afrikaans. Die een voordeel van ouer kinders wat immigreer. Ons dogter moes in graad 8 nog boonop Kanada se ander offisiële taal, Frans, begin neem. Ons het ook Afrikaanse vriende.” – Elmarie Kemp

“My kleinkinders het agtergekom hul kan skinder in hul moedertaal.” – Teresa Riggien Griesel

“Drie van my kleinkinders is in Kanada gebore en praat Afrikaans en Engels. Hulle huistaal is Afrikaans. Hoe kleiner en jonger ’n kind is, hoe makliker is dit vir hulle om ’n ander taal aan te leer.” – Ria Gauché

“Ons praat Afrikaans konsekwent tuis. Die Duitse skole moedig aan dat ouers hul moedertaal tuis bly praat.” – Jolene Harley

“Ons woon in Frankryk en mense vra gereeld waar ons oorspronklik vandaan kom en watter taal ons praat. So ontmoet ons interessante mense en gee dan sommer vir hul ’n kort geskiedenisles oor die ontstaan van Afrikaans.” – Magriet Rossouw

“Ons woon in Australië al vir 11 jaar. Al twee ons kinders praat Afrikaans en Engels. Ons praat net Afrikaans met ons kinders, beste besluit ooit!” –  Jenny Geyser

Toekomsgerigte inisiatiewe

Die voortdurende uitbreiding van Afrikaanse hulpmiddels in die buiteland toon ’n groeiende behoefte aan materiale wat nie net taalvaardighede ondersteun nie, maar ook kulturele bewustheid bevorder. Digitale platforms, opvoedkundige gereedskap, en kulturele uitruilprogramme kan almal bydra tot die versterking van die Afrikaanse gemeenskap wêreldwyd.

AfriForum Wêreldwyd is toegewyd om Afrikaans in die buiteland te bevorder, maar ons wil graag van julle hoor. Watter Afrikaanse hulpmiddels mis jy in die buiteland? Waaroor wil julle meer lees of leer? Laat ons weet watter hulpbronne ons kan ontwikkel of beskikbaar stel om julle ervaring van Afrikaans in die buiteland te verryk. Deel asseblief julle gedagtes en ervarings, en help ons om ’n nog sterker globale Afrikaanse gemeenskap te bou.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Deel op

Nuutste artikels