Uit en tuis: uit die pen van ’n au pair in Nederland

06/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Foto-13

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Charlise Steenkamp, wat sedert 28 Mei 2023 in Nederland werk as ’n au pair.

Hallo, Charlise! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en waarom het jy besluit om in Nederland te gaan au pair? Waar in Nederland werk jy?

Hallo! Ek kom oorspronklik van ’n skaapplaas naby Vosburg, ’n klein Noord-Kaapse dorpie in die hart van die Karoo, af. Ek het nog altyd ’n hunkering na Nederland gehad. Ek hou baie van gedigte (skryf en lees), en baie van die ou Suid-Afrikaanse letterkunde was deur die Nederlandse taal beïnvloed gewees. My voorvaders aan my ouma se kant was ook Nederlandse immigrante wat in die 1800’s na Suid-Afrika geïmmigreer het. Ek het gevoel om na Nederland te kom het my ’n stukkie nader aan my ouma, asook my geskiedenis, gebring. Ek au pair vir ’n gesin in Soest, ’n dorpie 20 minute van Utrecht af.

Ek op my gasouers se troue

Vertel ons meer van die gesin vir wie jy tans werk.

Ek werk tans vir ’n gesin van vyf. Dit het begin as vier, maar my gasma het aan die begin van April ’n pragtige dogtertjie die wêreld ingebring. Die gesin het ook ’n seuntjie van sewe en ’n dogtertjie van vier jaar oud. Beide my gasouers is persoonlike afrigters in die gym onder hulle huis. My gasma is ook ’n lewensafrigter. Haar ouers woon in die huis langs ons. Hulle is ’n baie liefdevolle en grappige gesin, en ek het nog altyd gevoel asof ek deel is van die familie. My gasouers het nog nooit op my geskree of my enigsins as minderwaardig hanteer nie; hulle het my nog altyd as ’n gelyke gesien en hulle kommunikeer baie goed met my as iets nie heeltemal glad verloop nie. Ons kan baie diep gesprekke met mekaar voer en ek is baie gemaklik in hulle geselskap. Ek het elke week ’n les in Nederlands by my gasma se pa, wat langs ons woon. Ons praat dan net Nederlands met mekaar, ek sal uit ’n boek voorlees en hy sal vir my nuwe woorde leer.

Hoe verloop jou tipiese dag as au pair? Hoe verskil die werkskultuur van dié in Suid-Afrika?

Ek begin elke oggend om 06:45 te werk. Ek begin dan om alles reg te kry vir skool vir die twee oudste kinders. Ek haal hulle brood uit, sit hulle kosblikke reg, tap hulle waterbottels in, ens. Om 07:00 hoor ek gewoonlik die voetjies van die vierjarige wat by die trappe afkom en dan begin hulle twee ontbyt eet. Tussendeur pak ek die skottelgoed weg, voer die diere en help die kinders waar dit nodig is. Teen 07:30 is hulle klaar geëet en dan gaan ons boontoe om hulle gereed te kry vir skool. Teen 08:00 is ons (hopelik) by die deur uit, elkeen op sy eie fiets of te voet. Ek kom dan teen 08:45 se kant terug huis toe en eet ontbyt voordat ek my gasma help met die baba. Dan moet ek my normale huistakies klaarmaak. Dit sluit in stofsuig, die skottelgoedwasser uitpak en/of inpak, wasgoed was en opvou, die kinders se beddens vars oortrek en/of opmaak, die kinders se kamers opruim, die badkamer skoonmaak en vullis uitvat. Op ’n normale dag is ek teen 11:45 klaar met werk. Ek kook maksimum twee aande per week vir die gesin, dus werk ek dan vanaf 16:30 tot 19:00.

In Nederland maak almal regtig daarop staat dat jy betyds is vir werk en vir afsprake. Hulle is baie stiptelik. Dit word as onbeskof gesien as jy nie betyds is nie, want dan veroorsaak jy ook dat ander mense laat kom. As jy byvoorbeeld vyf minute laat is vir jou afspraak om ’n identiteitsbewys af te haal by die IND, word jou afspraak gekanselleer en dan moet jy weer ’n nuwe afspraak maak.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die Nederland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland? Het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Toe ek pas in Nederland aangekom het, was die openbare vervoer iets waaraan ek glad nie gewoond was nie. Jy kan die bus-, trein-, trem- en metroskedules maklik op ’n toep op jou foon volg en ons gebruik een kaart om by alles “in te check”. Meestal is alles betyds. Die grootste aanpassing in die buiteland was definitief die koue gewees. Dit word verskriklik koud en nat in Nederland gedurende die winter. Ek het die son gemis en ek het heeltyd rondgedwaal soos ’n nat katjie. Die son sak ook al teen 16:30 smiddags in die hartjie van die winter en dit het my regtig gevang. Ek het die meerderheid van die winter weg geslaap.

Ek het nie verskriklik gesukkel om nuwe vriende te maak nie, maar dit het my ’n paar maande geneem om ’n vriendegroep te kon vind waarin ek tuis gevoel het. Te danke aan my agentskap, kon ek in September ses ander au pairs by ’n verwelkomingspartytjie ontmoet. Ons groepie het begin as ’n grappie oor ’n pizzaboks en so is die Pizza Au Pairs-groep gebore. P.A.P. is ’n mengelmoes van Suid-Afrikaners, Duitsers, ’n meisie uit Oostenryk en ’n meisie uit Slowenië. Hulle het my werklik deur die koue en donker dae van die Nederlandse winter gedra. Ons is byna elke naweek by mekaar en ons probeer gereeld tydens naweke om ’n nuwe stad saam te verken.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ek mis werklik die barmhartigheid van die Karoo en sy mense. Partykeer wil jy maar net met iemand langs jou op die trein gesels of ’n vreemdeling langs jou in die ry help, maar almal hier is baie privaat in hulle eie lewens. Jy word soms snaaks aangekyk as jy ’n gesprek met ’n vreemdeling wil begin, veral in die groot stede. Ek mis dit ook om iemand “Tannie” te kan noem, want in Nederland noem jy ouer mense op hulle name. Ek voel dan asof ek my sokkies moet optrek en gelyk staan met ’n 65-jarige vrou, wat ’n leeftyd se ondervinding agter haar rug het. Dit is iets wat mense buite die Suid-Afrikaanse kultuur nie regtig verstaan nie. Ek mis ook ’n goeie potjiekos van die plaas af.

Watter interessanthede het jy ontdek van Nederland wat jy nie vantevore geweet het nie?  Interessante feite oor Nederland:

  • Nederland is die rede waarom wortels oranje is.
  • Tuisgeboortes is nog steeds baie gewild in Nederland.
  • In Nederland vier hulle elke jaar die koning se verjaarsdag deur fees te hou en oranje klere aan te trek.
  • Nederlanders vloek met siektes as hulle iemand uitskel.

Hoe behou jy verhoudings met jou familie en vriende terwyl jy in die buiteland werk? Was jy intussen weer in Suid-Afrika vandat jy in Nederland woon?

Ek is in gereelde kontak met my naaste vriende en familielede. Ek was my hele lewe lank in ’n koshuis gewees, dus moes ek al van laerskool af leer hoe om lang tye te gaan sonder om my ouers of vriende te sien. Nederland voel vir my soos nog ’n kwartaal in Bloemfontein of ’n vakansie op die plaas; die afstand voel nie baie erg nie. Natuurlik is dinge baie anders vandat ek uit die skool uit is, vir myself en vir ander. Daarom stuur ek af en toe vir ander vriende en geliefdes ’n boodskap, maar ons klou nie aan ons selfone soos seekatte nie. Ek bel my ma elke dag en ons het ’n familiegroep op WhatsApp met die hele gesin.

Ek was einde Julie vir ’n paar dae in Suid-Afrika gewees vir my ouma se begrafnis. Ek was ongelukkig nie plaas toe nie, want daar was nie tyd gewees nie.

Suid-Afrikaners moet al meer paraat wees wanneer hulle van ’n middelman gebruik maak om veral werkvisums te bekom. Talle agentskappe maak vals beloftes en verdwyn dan sak en pak met deposito’s, of hulle doen net die helfte van die werk wat nodig is vir ’n visum. Watter wenke kan jy vir iemand gee wat ook wil Au Pair in die buiteland?

Maak seker die agentskap is eg voordat jy enige uitbetalings begin doen. Wettiglik mag agentskappe in Nederland nie meer as €34 vra om jou in die buiteland te kry nie. Dit is so min of meer R680. Wees eerlik in jou au pair-profiel, al beteken dit miskien dat jy ’n paar families gaan misloop. Soek vir ’n gesin wat perfek by jou persoonlikheid en denkwyse pas; don’t settle for less. Au pair is nie ’n Gouelokkies-verhaal waar jy vir ’n maand by elke gesin kan bly totdat jy een kry wat reg voel nie; maak seker jy kry jou perfekte gesin voordat jy oorkom. Jy moet bewus wees dat jy vir ’n jaar of meer by jou gasgesin gaan bly en as julle persoonlikhede bots, kan dit ’n baie onaangename ondervinding vir alle partye word. Vertrou hoe jy voel; as jy ná ’n paar maande nog steeds nie lekker met almal oor die weg kom nie, moet jy dit oorweeg om te rematch. Wees gereed vir die kultuurskok; dit sal jou altyd vang, maak nie saak hoe voorbereid jy dink jy is nie! En laastens, pasop vir gesinne wat bietjie “te” perfek lyk. Hulle is die meeste van die tyd eintlik ’n scam of hulle kan verwag dat jy meer werk moet insit wat wettig is. Maak seker jy ken die reëls van die au pair-program in jou land baie goed.

Hoe verskil die kossoorte in Nederland van dié in Suid-Afrika?

Die tradisionele Nederlandse kossoorte kort definitief bietjie meer mamma-liefde en speserye, met alle liefde gesê. Ek moet wel in dieselfde asem sê dat ek gesonder voel en leef vandat ek in Nederland aangekom het. Die produkte in die winkels het baie beperkings en regulasies op die stowwe wat daarin gevoeg word om die vervaldatum te verleng. Nederlanders is gemaklik met hulle kaasbroodjie elke dag vir middagete, waar Suid-Afrikaners liewer ’n braaivleisie of oorskiet potjiekos sal pak.

Ek wat my eerste doner eet in Berlyn

Wat het jy in Nederland gedoen vir ontspanning en kry jy kans om te reis?

In die somer het ek deur die bos gaan ry op my fiets as ek ’n bietjie wou ontspan. Ek loop ook baie deur die dorp of ek neem die wandelroetes. Ek luister musiek, ek skryf my gedigte en ek lees. Ek doen die normale “tiener-dinge” gedurende die week. Naweke reis ek met die trein na die groter stede of na nuwe dorpe. Ek het al die meeste van die land gesien en ek was Paasnaweek in Berlyn gewees saam met my vriendinne. Ek het ook verlede jaar Augustus saam met my gasgesin Italië toe gegaan.

Enige lesse wat jy al tot dusver geleer het?

Moet nooit die laaste trein huis toe vat nie (as jy op ’n klein dorpie woon); hulle word baie keer gekanselleer en dan sit jy eenuur die oggend op Utrecht se treinstasie gestrand.

Jy gaan ongelukkig die keuse moet maak om óf te spaar óf om die land/Europa te verken. Ons verdien min of meer R6 800 ’n maand, maar dit is ’n baie duur land. Dit gebeur met baie au pairs dat daar nie baie geld oorbly aan die einde van die jaar nie. Jy moet ’n goeie plan beraam vir uitstappies en om geld opsy te sit.

En laastens, klim uit jou gemaksone uit! Gaan besoek museums en raak vriende met mense uit ander lande en gaan verken Nederland in haar glorie. Die lewe is baie groter as die glaskas waarin jy jouself wil toesluit; jy kan soveel wonderlike mense ontmoet en pragtige herinneringe maak as jy net jouself daardie geluk toelaat. Jy is tog verantwoordelik vir jou eie geluk.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

My au pair-reis was definitief een om te onthou. Ek het in Nederland aangekom twee dae nadat my oom oorlede is, en ek het binne drie weke ’n ander gesin gesoek weens probleme by my eerste gasgesin. Ek het binne ’n week by ’n nuwe gesin begin werk en alles het dadelik in plek geval. Ongelukkig is my ouma drie weke later oorlede en ek moes vir tien dae terugkeer Suid-Afrika toe vir die begrafnis. Met my terugkoms het my gasgesin my laat weet dat my gasma weer swanger is. Die blydskap was oorweldigend. ’n Maand later het ek ’n vriendin ontmoet wat ongelooflik diep in my hart gekruip het. Sy kom ook van Suid-Afrika af en ons is baie dieselfde. Sy was my rots gewees in die tyd wat ek nog my voete probeer vind het. Ons groepie het natuurlik gegroei en nou het ek ses meisies wat my ’n heel ander mens gemaak het. ’n Mens wat oop is, wat kan lief wees vir alles en almal. Ek sal tien keer weer au pair as ek my gasgesin en vriendinne weer kan ontmoet vir die eerste keer. Om ’n au pair te wees is nie maklik nie, maar jy kry soveel liefde daaruit. My jaar was pragtig gewees en ek hoop dat ander mense dieselfde kan voel aan die einde van hulle au pair-jaar.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels