Waarom moet ek my moedertaal in die buiteland behou?

07/06/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
getty-images-eBX_xOImfDw-unsplash-scaled

Deur Sue-Ann de Wet

Om meer as een taal te kan praat is beslis ’n waardevolle vaardigheid, veral in ’n wêreld wat toenemend globaliseer. Tog kan die uitdaging om jou moedertaal te behou terwyl jy in die buiteland woon dikwels oorweldigend wees. Terwyl jy by ’n nuwe kultuur aanpas en dalk ’n nuwe taal aanleer, mag jy dalk dink dit sal makliker wees om op te hou om jou moedertaal te gebruik. Dit is egter noodsaaklik om kreatiewe maniere te vind om Afrikaans lewend te hou.

Hier is ’n paar redes waarom dit so belangrik is om jou moedertaal Afrikaans te behou, selfs wanneer jy in ’n ander land woon.

1. Bevorder jou eie identiteit en kultuur

Jou moedertaal is ’n sleutelkomponent van jou kulturele identiteit. Dit is die taal waarin jy grootgeword het, waarin jou ouers en grootouers jou herinneringe en tradisies gedeel het.

Deur Afrikaans te praat en te koester, behou jy ’n diep verbintenis met jou kultuur en erfenis en gee dit vir jou ’n gevoel van behoort, selfs in ’n vreemde land. Hierdie band is moeilik om in ’n tweede taal te ervaar. Dit verseker dat die ryk erfenis van jou gesin voortleef vir toekomstige generasies en dit is ’n waardevolle nalatenskap wat jy aan kinders kan gee.

2. Versterk bande met familie en vriende

Om jou moedertaal te behou maak dit makliker om kontak met jou familie en vriende in Suid-Afrika te hou. Deur gereeld in Afrikaans te kommunikeer, behou jy sterk bande met jou geliefdes. Dit is veral belangrik vir ouers wat wil hê hul kinders moet ’n sterk verhouding met hul oumas, oupas en ander familielede hê.

Afrikaans is nog steeds ons huistaal en ons praat daagliks Afrikaans met nabye vriende en oor WhatsApp-oproepe met ons familie tuis. Ek is baie trots op Jana en Conrad wat met net graad 1- en graad 4-Afrikaans pragtig Afrikaans praat, lees en skryf hier. Melbourne is baie multikultureel en uit respek praat die meeste mense by plekke soos die kerk maar Engels, maar waar daar ’n geleentheid is om met ander Afrikaners te kuier, vloei die Afrikaans mildelik. Vir ons is dit belangrik dat ons kinders bande met hul oupa en oumas, neefs en niggies in Suid-Afrika behou en ons is dankbaar dat die oupa en oumas met ons en die kinders teruggesels. – Christina du Toit

3. Taalvaardighede en meertaligheid

Om jou moedertaal te behou, kan jou ook help om ander tale makliker aan te leer en taalstrukture vinniger te verstaan. Navorsing toon dat meertaligheid kognitiewe vaardighede verbeter, probleemoplossingsvermoëns verskerp en jou teen die kognitiewe verouderingsproses beskerm. Deur jou moedertaal te behou, benut jy hierdie voordele en hou jy jou brein aktief en gesond.

Lees ook: ’n Spraakterapeut praat oor tweetaligheid

4. Kulturele diversiteit

Om jou moedertaal te behou, dra by tot die kulturele diversiteit van die gemeenskap waarin jy woon. Dit kan ander inspireer om hul eie taal en kultuur te waardeer en te bewaar. Deur Afrikaans in die buiteland te praat, dra jy by tot ’n ryker, meer diverse wêreld waarin verskillende kulture en tale gekoester en gevier word.

5. Heimwee en geborgenheid

Die gebruik van jou moedertaal kan ’n intense gevoel van heimwee en geborgenheid oproep. Dit is dikwels die klein dinge – ’n spesifieke uitdrukking, ’n bekende liedjie of ’n gedeelde grappie – wat ’n groot verskil maak in hoe tuis jy voel. Afrikaans is deel van wie jy is en deur dit te praat, dra jy ’n deel van Suid-Afrika saam met jou, ongeag waar in die wêreld jy jouself bevind.

Ons praat nog Afrikaans by die huis en tussen ons Afrikaanse vriende hier. Ons is ’n groep van vyf Suid-Afrikaanse families in ons dorpie wat gereeld saam kuier.

In Mei hierdie jaar is die eerste Afrikaanse kerkdiens gehou en hierdie naweek gaan ons braai, rugby kyk en ’n boeresportdag saam met ons geloofsfamilie hou. Die skool het ons ook aangemoedig om Afrikaans met ons kinders te praat sodat hulle ’n goeie taalfondasie kan bou. Ons wil nie Nederlanders word nie; ons wil Afrikaners wees wat in Nederland woon. Gelukkig het ek my Kook en Geniet saamgebring uit Suid-Afrika, so beskuit bak en eie vetkoekdeeg maak is iets wat ek hier moes leer. – Carlien van Aardt Kotzé wat in Nederland woon.

Ses kreatiewe maniere om jou moedertaal te behou

Wanneer jy uit voeling met Afrikaans begin raak, is dit noodsaaklik om kreatiewe maniere te vind om die taal lewendig te hou. Hier is ’n paar idees:

1. Lees en skryf in Afrikaans

Lees boeke, tydskrifte en nuus in Afrikaans. Skryf dagboeke, gedigte of selfs kortverhale in jou moedertaal. Dit kan help om jou taalvaardighede op te skerp. Volg ook Afrikaanse blogs en sosialemediaplatforms.

Lees ook: Hou jou Afrikaans speel-speel lewendig

2. Luister na Afrikaanse musiek en radio   

Dit hou jou blootgestel aan die taal en kan lekker en vermaaklik wees.

3. Kyk na Afrikaanse vermaak

Dit help jou om die taal op ’n natuurlike manier te ervaar en jou woordeskat uit te brei.

4. Praat gereeld Afrikaans met jou gesin en vriende

Maak dit ’n reël om Afrikaans by die huis te praat. Vind geleenthede om Afrikaans te praat, selfs al is dit net met jouself. Gebruik tegnologie om met familie en vriende tuis te gesels. Sluit aan by aanlyn gemeenskappe of plaaslike groepe wat Afrikaans praat.

5. Kultuuraande

Hou kultuuraande waar jy Afrikaanse kos maak, tradisionele speletjies speel en volksverhale vertel. Dit hou jou taal lewendig en maak die ervaring van jou kultuur ryk en betekenisvol. Jy kan selfs plaaslike gemeenskappe of kulturele groepe stig om Afrikaans te bevorder.

6. Leer jou kinders

Leer jou kinders van hulle Afrikaanse erfenis. Maak ’n doelbewuste besluit om jou kinders Afrikaans te leer lees en skryf.

Lees ook: Afrikaanse hulpmiddels vir jou kind in die buiteland

Om jou moedertaal in die buiteland te behou verg dalk ’n bietjie moeite en toewyding, maar die voordele daarvan is onoortreflik. Afrikaans is ’n kosbare deel van wie jy is, dit is deel van jou identiteit en kan familiebande en taalvaardighede versterk. Deur jou moedertaal te behou, verryk jy nie net jou eie lewe nie, maar ook die lewens van diegene rondom jou. Dit is ’n belegging in jou gesin en jou toekoms. So, wees trots op jou taal en hou dit lewendig, waar jy ook al gaan. Dus, wat die hart van vol is, loop die mond van oor – en in hierdie geval is dit vol van Afrikaans.

Deel op

Nuutste artikels