’n Boeremark en ander avonture op ’n Sondag

10/05/2023
| Deur Anton van Zyl
IMG_5934-scaled

Deur Anton van Zyl

Ons het ’n ou gewoonte om nuwe plekke te vind om te besoek oor naweke, veral wanneer dit binne minder as een uur se ry van ons woonstel in Portsmouth af is. 

April breek toe aan in Engeland; teen alle verwagtinge in is dit maar nog koud en reënerig, waar ons ander jare hierdie tyd al in T-hemde en plakkies rondgeloop het.

Hoe dit ook al sy, ons staan toe op, eet ’n heerlike avokadopeer, eier en roosterbrood ontbyt, en vat die pad weswaarts tot aan die oorkant van die Hamblerivier. Ons was die vorige dag op die naaste oewer by Warsash. Die markte is hier gewoonlik op Sondae en my vrou het gelees van die mark by Hamble-le-Rice, aan die oorkant van die rivier.

Die mark was redelik stil toe ons daar aankom, en sommige het nog stalletjies opgeslaan. Daar was allerhande produkte uit die omgewing, en ook tamaties van die Isle of Wight, wat baie herinner aan produkte uit die Laeveld van Mpumalanga. 

Eenkant was ’n stalletjie wat allerhande soorte wildsprodukte gebraai het, van burgers tot wors, maar dit is maar nie dieselfde as boerewors nie, hoewel ons ’n paar pakkies wildsvleis gekoop het om huis toe te vat. 

Op ’n manier het die mark herinner aan van die boeremarkte in en om Pretoria, waar ons gewoon het. 

Klaar met die mark, stel ons toe ons navigasie in op die kortste roete terug huis toe, wat soos gewoonlik nie teleurgestel het nie. Op hierdie pad kom ons toe af op die ruïnes van die Netley Abdy, een van die wat Henry VIII ontbind het, en vir sy vriend gegee het om in ’n privaat paleis te omskep. Dit het goed gegaan vir ’n paar geslagte, maar toe ’n natuurlike dood gesterf, want gesteelde goed gaan mos maar nooit oor in eienaarskap nie. 
Hierdie ruïnes is merkwaardig, tot so ’n mate dat heelwat Engelse skilders en digters dit gebruik as inspirasie vir hulle werk – reeds vir amper twee honderd jaar. 

Op pad terug na ons kar toe kry ons toe ook dan twee dames in periodedrag uit die tyd van Jane Austin, wat daar was vir ’n piekniek. Nogal oulik, veral toe nog meer dames begin opdaag in dieselfde drag. Die kleredrag het sterk herinner aan die voorgeskrewe boek deur dieselfde outeur, Emma, waardeur ons destyds op universiteit geworstel het. 


Soos altyd was dit ’n heerlike uitstappie; dit is tog immers belangrik dat ’n mens jou omgewing verken en deelneem aan die kultuur waarbinne jy jouself bevind.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels