Boekresensie: Emigreer of bly

14/01/2021
| Deur Wian
Leesgenot-scaled

Emigreer of bly is ’n vraag wat jy dalk al in jou kop gehad het of wat iemand jou al gevra het. Ek onthou in ’n onderhoud vir ’n vorige pos het dié vraag in die onderhoud opgekom, ek was nog altyd die “wat jy dink die beste vir jou is op ’n spesifieke tyd” persoon en my antwoord was iets in daai lyn.

Stephan Joubert neem egter ’n baie beter posisie as ek in met hierdie boek. Op ’n eerlike en soms bietjie streng manier verpak hy een vir een die verskillende soort scenario’s wat in mense se gedagtes afspeel. Sy hoek is veral uniek aangesien hy self al ryer én blyer was.

Op ’n humoristiese manier vertel Joubert van die moontlike-ryers wat hy al in die buiteland raakgeloop het en die verskillende maniere hoe mense hul keuses regverdig.

Die vraag oor geluk en geloof kom ook op en dan blyk die antwoord vanselfsprekend te wees. Of jy ry en of jy bly maak seker dat Jesus jou kompas is.

Een van die punte wat vir my uitgestaan het is die idee dat baie mense wat bly eintlik in hul kop reeds gery het en dit wys in hul daaglikse gesprekke en manier van lewe. Dit het my onwillekeurig teruggevoer na braaivleisvuurgesprekke en vriende wat eerder daar of dáár wou wees as hier, hulle werk nou hard sodat hulle oor sus of soveel jaar soontoe kan gaan en daar kan bly. Het hulle dan nie ook op ’n manier reeds gery nie?

As jy self worstel met dié vraag is Joubert se boek beslis een wat ek sal aanbeveel. Moenie dink jy gaan getroos word of beter voel oor die een besluit of ander nie, Joubert gaan jou dwing om oor ALLES te dink.

 

Emigreer of bly
Is die gras werklik groener aan die ander kant?

Stephan Joubert


ISBN: 9780796322272

Epub ISBN: 9780796322289

Uitgewer: Lux Verbi

Datum Vrygestel: Julie 2020

Prys (incl. VAT): R 190,00

Formaat: Sagteband, 192pp

Deel op

Nuutste artikels