E-pos uit Sydney, Australië

20/01/2021
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Hunter-Valley.1jpg-002

deur Charlene Breytenbach

2021 is hier en ons almal wil hê dit moet soos ’n nuwe begin voel. Tog voel dit of ons steeds met een voet in 2020 staan.

Ek moet begin deur honderd persent eerlik te wees: Dit is vir my moeilik om dié stuk te skryf, en om die waarheid te sê, weet ek nie waar om te begin nie. Die laaste jaar voel soos ’n groot asblik vol gemors en dié stuk laat my voel of ek deur die gemors soek na ’n paar waardevolle items.

Ek en my man en ons dogtertjie bly in Sydney en 2020 was vir ons gesin net so ’n reuse-tuimeltrein soos vir baie ander. Van Maart tot Mei was Australië in ’n staat van baie streng inperking. Ons almal het by die huis gebly en moes van die huis af werk en skoolgaan en vakansies was buite die kwessie. Ons kon darem buite oefen, so ons grasperke het ook Comrades-paadjies soos baie van die erwe in Suid-Afrika.

Australië bestaan uit sewe state en gebiede. Elke staat het basies sy eie reëls en regulasies, en in Maart 2020 het almal bymekaargekom en besluit die grense tussen state moet toegemaak word en elke staat moet sy COVID-19-gevalle onafhanklik moniteer en reguleer. Die besluit het ons wêreld baie vinnig baie klein gemaak, en ons moes die jaar met ’n nuwe ingesteldheid beplan.

In Junie kon ons in Nieu-Suid-Wallis begin vakansie hou. Dit was so vreemd vir ons, want gewoonlik hou ons in Suid-Afrika of Nieu-Seeland vakansie om familie te sien. Ons het nooit regtig gedink Nieu-Suid-Wallis is ’n vakansieplek nie, maar natuurlik was ons uitgehonger vir ’n breek en ons is Hunter Valley toe vir ’n naweek. Dis ’n wyndistrik net buite Sydney en ons is baie lief vir die area – dalk omdat ek so lief is vir wyn. Dit was ’n vreemde naweek – ons moes orals bespreek en inteken. Niks kon werklik spontaan gebeur nie. Nietemin was dit ’n lekker wegbreek. Dit was veral spesiaal vir my, want dit is die naweek wat ek Suid-Afrika toe sou vlieg om my familie te sien en om my Comrades Back-to-Back te doen. Dit was een van vele vakansies wat ons ongelukkig in 2020 moes kanselleer (soos vele ander gesinne).

Ná die naweek weg het dit begin voel of ons stadig maar seker kon terugkeer na normaal. Toe tref die groot uitbreking Melbourne. Dit was ’n groot terugslag, nie net vir Victoria nie maar ook vir die res van Australië. Politiese besluite het veroorsaak dat ons nog langer beperk was tot ons eie staat en vakansies buite Nieu-Suid-Wallis was weer buite die kwessie. Dit het ons veral geaffekteer omdat ons baie goeie vriende in Brisbane het nadat ons ses jaar daar gewoon het. Ons vriende in Brisbane is die naaste aan familie wat ons hier in Australië het en ons sou hulle bitter graag wou sien. Ons is so naby mekaar maar tog so ver. Hier was talle stories van gesinne wat deur lewensgebeure moes gaan sonder die ondersteuning van familie wat net ’n paar uur se ry weg is. Maar dinge het weer begin verbeter en almal was hoopvol om Kersfees saam met familie en vriende in Australië te vier.

Op 20 Desember het Sydney egter weer positiewe COVID-19-gevalle gehad en daar is besluit om die area waar die gevalle was in te perk. Dié area, Northern Beaches, is ’n baie mooi en gewilde area in Sydney waar baie families en vriende beplan het om oor Kersfees te ontmoet. Ons het vriende in die area wat hulle self moes isoleer en wat min of geen vriende of familie oor die Kerstyd kon sien nie. Gesinne wat in die area woon, sou ook in ander dele van Australië vakansie gehou het. Binne ’n week was al die staatsgrense weer gesluit en weer moes baie gesinne hulle vakansie kanselleer (ons ook). En die kersie op die koek was dat ons aaklige weer in Sydney gehad het. Die arme kinders moes ’n halfjaar by die huis bly as gevolg van die inperking en toe nog gedurende hul langste vakansie in die huis sit met slegte weer. Op die oomblik kan ons steeds nie buite ons staat gaan vakansie hou nie, maar daar is darem hoop dat die grense binne die volgende maand weer sal oop wees.

Australië is tans baie bekommerd oor die nuwe virusstam in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika en daar is alreeds gevalle in kwarantyn gevind. Brisbane is onlangs vir ’n hele naweek ingeperk as gevolg van ’n toeris uit die Verenigde Koninkryk wat ná tien dae in kwarantyn begin rondbeweeg het en toe positief getoets het vir die virusstam uit die Verenigde Koninkryk.

Ek moet byvoeg as ’n mens kyk wat reg oor die wêreld aangaan, voel die effek van die inperking op vakansies nie werklik soos ’n groot probleem nie; ek skryf al dié goed meer om te verduidelik wat in Australië aangaan as om te kla oor ons huidige omstandighede.

Die moontlikheid van die verslapping van plaaslike inperkingsregulasies bied min verligting vir ons. Ons het meer as ’n jaar laas familie gesien. Ons is baie dankbaar en voel ongelooflik geseënd dat ons goeie vriende om ons het, maar ek het my ouers agtien maande laas gesien en my skoonouers twaalf maande laas. My dogter vra minstens een keer ’n maand wanneer sy weer vir oupa en ouma gaan sien en ek het geen antwoord. Ek het nooit gedink ek sal so smag na fisiese kontak met my familie nie. Tog voel vakansieplanne so onbenullig as ’n mens aan als dink.

Ek moes die afgelope paar maande ook vrede maak daarmee dat iets met my ouers kan gebeur en dat ek hulle nie sal kan groet nie. Vele vriende moes hulle ouers groet sonder om terug te keer na waar hul ouers gewoon het. Op die oomblik voel dit asof dinge in Suid-Afrika al hoe erger raak. Waar daar ’n maand of twee gelede net hier en daar iemand gesterwe het, sterf daar nou daagliks mense. Dis asof die virus jou familie bekruip. Elke brokkie inligting uit Suid-Afrika berig van iemand nader aan jou familie wat gesterwe het of moes afskeid neem van ’n geliefde. Dit voel vir my so wreed dat ’n mens nie behoorlik kan afskeid neem van geliefdes nie en dis een hindernis waarmee ons almal sukkel: Die virus laat jou nie toe om werklik afskeid te neem nie; dit vat net jou geliefde weg sonder enige tweede kans.

In 2020 het plaasmoorde in Suid-Afrika orals hoofopskrifte gehaal en ek was vreeslik bekommerd oor my familie. Ten spyte van ’n bietjie ongerief is ek veilig, maar my familie in Suid-Afrika is steeds onder geweldige druk. Met die werkloosheidsyfer bo 40% is dit baie moeilik om optimisties te wees. Gesinne word uitgeroei deur die virus en die omstandighede in Suid-Afrika en ons sit magteloos hier. Ek wonder so baie hoe als gaan uit werk en waar ons almal gaan eindig en wanneer ons mekaar weer gaan sien. Almal moes wêreldwyd deur soveel aanpassings gaan en die toekoms lyk nog steeds onseker.

Kersfees is veral ’n sensitiewe tyd vir emigrante. Soveel gesinne beplan om vir hul jaarlikse vakansie terug te gaan Suid-Afrika toe of om familie hier in Australië te ontvang. 2020 was verseker in daardie opsig baie anders gewees. Baie families het hul eerste Kersfees alleen deurgebring; ander emigrante het hulle vakansie in Australië spandeer waar hulle gewoonlik in Suid-Afrika sou wees. Hartseer en verlange het ’n toppunt bereik en veral Kersdag en Nuwejaarsdag het ons leemtes in ons hart gehad.

Die meeste emigrante hier in Australië het nie beplan om te emigreer met geen opsie om hul geliefdes weer te sien nie. Soos ek in ’n vorige artikel geskryf het: Almal se emigrasieplan het ’n vakansie in Suid-Afrika of ’n kuier van geliefdes hier in Australië ingesluit. Baie gesinne twyfel daagliks oor hul besluit om te emigreer. Sommige wonder nou wat die swaarste weeg: gemiste geleenthede of die koste van skaars vlugte en duur kwarantyn. Wat is ons bereid om te betaal om ons mense weer te sien? Of wat sal ons opgee? Dis veral ’n moeilike besluit as jy al jare in Australië woon en nog nooit voor so ’n situasie te staan gekom het nie.

Maar ten spyte van al die uitdagings het 2020 vir my soveel perspektief gegee. Ek sal nooit weer ’n vakansie in Suid-Afrika of Nieu-Seeland as vanselfsprekend aanvaar nie. Elke oomblik wat my dogtertjie saam haar oupas en oumas het, sal kosbaar wees en dit sal so gereeld as moontlik gebeur. My besluit om te emigreer het nou ’n duurder prysetiket gekry. Almal se planne is deur 2020 omvêrgegooi, maar dit het ons geleer om dankbaar te wees vir wat ons het. Ek waardeer elke oomblik saam met my gesin nou soveel meer en ons het baie nuwe gesinstradisies begin. Dit was dalk nie deel van ons oorspronklike plan nie, maar dit verryk ons lewe nou op ’n ander manier. Ons het ook dié Kersseisoen tyd gehad om kontak te maak met vriende en om die skoonheid van Australië opnuut te ontdek.

Uiteindelik het 2020 my geleer dat ek diep in my hart altyd in Suid-Afrika gewortel sal wees. Dit maak nie saak hoe lank jy al weg is uit Suid-Afrika nie, jou hart behoort steeds aan die land en sy mense. Wat in Suid-Afrika gebeur, is vir my belangrik en ek gee om en bid vir al die mense van Suid-Afrika. Ek sal altyd smag na kontak met my mense, tyd saam met my mense en kosbare oomblikke wat my hart weer vol maak.

Ek sien uit na 2021 ten spyte van al die uitdagings. Ek sien uit na meer video-oproepe met familie en vriende reg oor die wêreld. Ek sien uit na ’n suksesvolle entstof en lang vlugte na Suid-Afrika, en ek hou vas aan die hoop dat ons eendag weer al ons geliefdes sal sien.

 

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels