Deur Anelia Heese
366 dae. 11 Maart 2021. Een volle (skrikkel)-jaar is ons vandag hier. Hier, waar ons bevoorreg is om ‘n dak oor ons koppe te hê, selfs al was ons elke dag onder dieselfde dak, duisende kilometer van ons tuiste af. Dalk het jy eens geglo dat Suid-Afrika nie meer vir jou plek het nie. Dalk het hierdie pandemie jou laat besef dat dit steeds jou enigste tuiste is.
Hierdie skrikkeljaar het baie van ons laat skrik. Miskien het jy geskrik toe jy nie kon huis toe vlieg nie. Miskien het jy bang geraak vir die onontkenbare verlange wat in jou kom sit het. Miskien was hierdie jaar ’n geleentheid vir bestekopname. Die wolkekrabbers en die uitheemse bloekoms oor die horison tel nie wanneer ons van ’n tuiskoms beroof word nie. Dit is ’n verlange wat slegs deur die oop horisonne onder die Afrika-son gestil kan word.
Dalk is dit in ons bloed: hierdie versugting na ’n oop, ongeskonde horison wanneer die angs ons nie wil los nie. Soos vir ons Afrikanervoorvaders was daar ’n koste aan hierdie ongeskonde horisonne verbonde. Daar was opoffering, maar daar was ook uitbuiting.
Kundiges en ingeligtes het pandemies voorspel. Ons is gewaarsku dat die uitbuiting van die natuur en die ongelykheid tussen dié wat eet en dié wat honger ly tot ’n krisis gaan lei. Hierdie pandemie leer ons as ons nie die weerloses beskerm nie, sal die mure wat ons om ons bou geen beskerming bied nie.
Ons skend die omgewing; tog wil ons met ’n natuurbeeld ’n einde maak aan hierdie pandemie. Die Engelse term “herd immunity” verwys na die beskutting wat geskep word wanneer genoeg mense gesond raak nadat hulle in aanraking met ’n aansteeklike virus gekom het. Die samehorige eenheid van immuniteit skep dan verdere beskerming vir die weerloses wat aan die virus kan omkom.
Ons kan nie altyd die weerloses beskerm nie, maar ons kan met deernisvolle dade die onreg van ongelykheid aanspreek. Slegs op hierdie wyse kan ons mekaar én die weerloses onder ons ’n beter kans op oorlewing te gee.
Hierdie pandemie is ’n duur les oor uitbuiting. Voordat ons dit kan regstel, moet ons eers net wag. Die les oor uitbuiting is ’n les wat ons as Afrikaners al te goed ken. Die prys wat ons daarvoor betaal, is om in ’n vreemde kudde te wag, ’n kudde wat blêr in ’n taal wat ons nie ken nie.
Hierdie skryfstuk het oorspronklik op Herklink se webtuiste verskyn.
Meer oor Herklink
Herklink: Herinnering in klank
Anelia se oupa is in Mei 2020 in die Wes-Kaap oorlede. In Junie skryf haar ouma via WhatsApp: “Ek kon nie eens my maat groet nie … Ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep en ek kon nie daar wees nie.”
Na aanleiding van hierdie hulpgeroep ontwikkel Anelia en Andri ‘n “virtuele gedenkdiens”. Bydraes kom van reg oor die wêreld: sy dogter en kleinkinders in Australië, familie oor die hele land, die NG-gemeente in sy geliefde tuisdorp. Op hierdie besonderse wyse vergader almal een Sondag om 10:30 – elk in hul afsonderlike sitkamer – om afskeid te neem. ’n Skrale plaasvervanger, maar in hierdie tragiese omstandighede kon dit tog troos bied – sodanig dat dit ons roeping geword het om hierdie troos aan ander te skenk.