Deur Johan Nortje
Die gekerm van bande op sement weerklink deur die parkeerterrein. Aan beide kante van die laan skyn ry op ry rooi liggies bo motors. Ek sien my weerkaatsings in ’n paneelwa se ruit. Die rustelose slaap van die vorige twee aande begin sy tol eis. Die donker kolle onder my oë begin lyk soos ’n modeflater op ’n Milanese loopplank wat nie vlam gevat het nie. Terwyl ek stap, kyk ek na Flightrader24 op my foon. Dit wys dat vlug Lufthansa LH pas oor die Suikerbosrand is en reeds skerp na Kempton Park begin draai het.
Links van my stap ’n gesin op en af tussen die motors deur op soek na hul kar. Pa voor, besig om Marco Polo met sy motoralarm te speel, terwyl sy kindertjies hom al kronkelend soos die fluitspeler van Hameln se kinders agtervolg.
Twee mans uit die Midde-Ooste staan by die ingang van die gebou, besig om diep aan hul sigarette te teug; geklee in leerbaadjies, broeke wat te groot is vir hul onderlywe en gesigte wat te veel son gesien het. ’n Beeldskone vrou met ’n roltas stap verby hulle, salig onbewus van hul bestaan. Hulle fluister onderlangs sonder om hul oë van haar af te haal. Albei trek aan hul sigarette, wetend dat hulle nie ’n kat se kans het nie en die sigarette hul enigste passport to pleasure sal wees.
Ek volg die aanwysings na die aankomsaal. Die lughawe se naam het al twee keer verander. Bloot tyd sal leer of die departement van rame en name weer met mense se geheuevermoë wil ingemeng.
Trapsgewys raak die gange al hoe besiger soos reisigers, toeriste, sakemanne en families uit hoeke en draaie begin saamvloei. Voete stap heen en weer deur die internasionale aankomssaal se ovaalvorm. Met uitsondering van sakemanne dra byna almal slaapsakbaadjies en oefenskoene om hul aktiewe lewenstyl te adverteer.
Geliefdes staan teen die staalreëling voor die outomatiese glasdeur en wag vir hul soene, drukkies en gebede wat verhoor is. Die outomatiese deur kry skaars kans om heeltemal toe te gaan soos wat mense golwend aanhou deurstroom.
Langs my staan ’n drie meter hoë standbeeld van ’n glimlaggend O.R. Tambo – die ontslape eerste president van die ANC – wat wys hoe hy van ’n stel trappe afklim ná ‘n denkbeeldige vlug. Ek vermoed wel sy glimlag sou in ’n frons verander as hy vandag met SAL sou wou vlieg en die ligte op die aanloopbaan van Eskom afhanklik was.
Ek onthou dat die skrywer Paul Thedoux noem dat enige land wat meer as een standbeeld van dieselfde lewende politikus oprig, ’n plek is wat moeilikheid gaan teëkom. Maar ten spyte dat staatsinstellings in skuld verdrink, is ons gelukkig nog nie op daardie pad nie (wel, nog nie).
Ek gaan sit op ’n bankie en drink ’n koffie wat ek by een van die winkeltjies bestel het. Die kennisgewingbord wys dat die vliegtuig pas geland het en besig is om mense en bagasie uit te skud.
’n Nuwe golf mense stroom deur. Chinese toeriste boots die Tambo-standbeeld se houding na. Een se nukkerige vrou neem ’n kiekie van dié mimiek. Hy stap na haar; inspekteer die foto en eis ’n ander een. Ek kon nie verstaan wat hy gesê het nie, maar dis duidelik wie die sweet en wie die sour een is ná die lang vlug.
’n Ouma sit onbewoë op een van die banke en brei aan ’n trui. ’n Wisselkoerskennisgewingbord wys hoe die rand tans teenoor ander geldeenhede presteer. Drie sekuriteitswagte, in blou kamoeflering en swart knuppels aan hul sy, drentel heen en weer deur die lokaal. Kindertjies sit op trollies en speel speletjies op selfone. Hul vlugflou ouers sukkel-stoot aan swaar bagasie. Rooi oë wys dat hulle self net ’n paar tree weg is om van die trollies af te val.
Lughawens is eintlik maar net die moderne weergawes van ou handelsmarkte. En die kleur van jou paspoort bepaal jou grenslot. Reisigers aan die begin van iets; ander aan die einde. Plastiek, kos, gemors en siele word verpak en gekarwei. Die uitvoer van hoop en woede en die invoer van teleurstelling en optimisme.
Ek is nog besig om op my sel te kyk toe ’n ek stem hoor wat ek agt maande gelede laas in lewende lywe gehoor het.
“Gaan ons gou ’n drink kry?” vra hy. Selfs ná 36 lang ure lyk hy uitgerus en op en wakker. Seker omdat hy nie in die “mite” van vlugvoosheid glo nie; óf dit, óf hy het al die pad van Noord-Dakota tot in Afrika espresso’s weggeslaan.
Ons stap en kry sitplek by een van die kroeë. Ons het byna elke week gesels, dus was dit nie nodig om op te vang nie.
“Nog nie jou siening oor emigreer verander nie?” vra ek.
Hy skud sy kop en vat sy eerste sluk Black Label. Hy mag dalk vir twee maande net sneeu gesien het, maar sy vel is nog steeds bruiner as myne.
“Jy kan nie ’n ou inheemse boom vat en dit elders gaan plant nie. Ek is nie lus om nuwe goed my eie te maak nie,” sê hy. Ek glimlag vir sy analogie, want hy was nog nooit een om tussen die boom en die bas te lewe nie.
Miskien is dit party van ons se lot? Om vir inheemse bome voedsel, water en sonlig te bied. Sodat hul wortels onder die grond kan verweef. En hulle bo die grond genoeg ruimte het om te groei.
Maar nie dat ek nou daaroor omgee het nie. ’n Goeie vriend is terug; dis al wat ek weet, en al waaroor ek omgee.
Lees ook: ‘n Kruispad