TV-programme uit jou kinderdae wat die nostalgie laat opvlam

16/07/2020
| Deur AfriForum Wêreldwyd
stephen-monterroso-cwcPV_VKfy4-unsplash-scaled

Met platforms soos Netflix en Showmax en die wye toegang wat ons deesdae tot TV-reekse het, vergeet ‘n mens soms van die oulike stories wat Suid-Afrikaners jare lank geniet het. ‘n Storie soos Heidi het by Afrikaanse kinders die behoefte laat opvlam om fort te gaan Alpe toe om Oupa se varsgebakte brood en gesmelte kaas te eet. Hierdie stories raak soms vergete, maar dan herinner ’n Moomin-advertensie of ’n t-hemp met Liewe Heksie op ons weer daaraan. Het jy geweet die stories agter dié geliefde verhale is soms interessanter as die reekse self?

Heidi

Baie van ons onthou nog hoe Heidi en Peter in Afrikaans gekattemaai het, maar dit is nie werklik ’n Afrikaanse reeks nie. Heidi is oorspronklik in 1974 deur die Japanse maatskappy Zuiyo Eizo vervaardig. Die storie oor die Alpe-meisie is gebaseer is op die gelyknamige boek deur die Switserse skryfster Johanna Spyri wat in 1880 gepubliseer is. Die animasiereeks handel oor die vyfjarige Heidi (kort vir “Adelheid”) wat deur haar tannie Dete na haar oupa in die Switserse Alpe gevat word om daar te gaan woon. Heidi het sedert haar ouers se dood vier jaar vantevore by haar tannie gewoon. Haar oupa voer ’n kluisenaarsbestaan in die berge saam met sy hond Josef en is nie baie populêr onder die dorp se inwoners nie. Heidi wen egter vinnig sy hart. Die storie was so suksesvol dat dit in om en by twintig tale vertaal is, onder meer Spaans, Arabies en Afrikaans.

Moomin

Nóg ’n treffer was definitief die Moomin-reeks. Net soos Heidi is Moomin ook in Japan vervaardig. Dié storie is gebaseer op die Moomin-storieboeke deur die Finse skrywer Tove Jansson en haar broer Lars Jansson. Hoewel dit soms voel of Heidi en Moomin tydgenote is, het Moomin eers in 1990 die lig gesien. Die reeks het ’n Moomin-ontploffing tot gevolg gehad in Japan en gelei tot die grootskaalse vervaardiging van Moomin-produkte.

Agter Elke Man

Dan is daar natuurlik plaaslik vervaardigde reekse soos Agter Elke Man wat ten spyte van die gang van die tyd steeds klassieke stories bly. Dié gewilde reeks het op 5 September 1985 op SABC 1 begin en is tot 10 November 1988 op Suid-Afrikaanse TV gebeeldsend. Dit handel oor die lewens van die vroue agter suksesvolle mans. Twee reekse en ‘n film het die lig gesien. Steve Hofmeyr is een van die bekende akteurs wat in dié reeks gespeel het; hy het die rol van Bruce Beyers vertolk. Hofmeyr is nou bekender as sanger maar het aanvanklik drama studeer.

Die Vierde Kabinet

Nog ‘n eg Suid-Afrikaanse produksie is die reeks Die Vierde Kabinet. Dit is ’n riller wat oor korrupsie in die polisie handel en in 1998 op SABC 2 gebeeldsend is. In 1993, kort voor die eerste demokratiese verkiesing, het ’n groep polisiemanne probeer ontslae raak van lêers met inligting oor onwettige polisie-aktiwiteite. Die lêers is in drie kabinette geplaas en na ’n geheime ligging geneem om met plofstof vernietig te word. Maar een van die kabinette is nie vernietig nie – vandaar die naam Die Vierde Kabinet. Meer as twintig jaar later klink dié polisie-aktiwiteite baie relevant in die huidige Suid-Afrika. Die akteur Frank Opperman wat die bose kolonel Yster Swart gespeel het, het al in onderhoude genoem dat dié rol een van sy gunstelinge was. Om vir die rol voor te berei, het Opperman by die speurder Piet Byleveld gaan aanklop. Byleveld het hom saamgeneem na misdaadtonele om te leer hoe sake ondersoek word. Opperman moes ook leer hoe om ’n pistool te hanteer.

Die TV-reekse wat ons as kinders en jongmense kyk, vorm ons op een of ander manier en raak deel van ’n hele geslag se verwysingsraamwerk. Dit is tog lekker dat ons as kinders toegang gehad het tot reekse van topgehalte, en dit boonop in Afrikaans!

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels