Afrikaners en die buiteland – die wiel draai
Deur Ernst Roets
Tydens ’n onlangse skakeltoer in Europa is ek gevra om ’n toespraak te lewer by die eerste Europese Conservative Political Action Conference (CPAC) wat in Boedapest, Hongarye aangebied is.
Die CPAC is die wêreld se grootste konserwatiewe konferensie en word sedert die 1970’s in die VSA aangebied. Mense soos Ronald Reagan en Donald Trump het gereeld by die CPAC in die VSA gepraat. Dié konferensie word nou na die res van die wêreld geneem en ook reeds in lande soos Australië, Brasilië, Suid-Korea en Japan aangebied. Sprekers en konserwatiewe leiers van reg oor die wêreld woon dit by.
Ek het deelgeneem aan die sessie oor die kultuurstryd in die media en kon die geleentheid gebruik om te praat oor die mate waartoe die media die nuus oor Suid-Afrika verdraai. Ek het die punt gemaak dat daar volgens ’n nuwe studie tans 125 raswette in Suid-Afrika op die samelewing toegepas word.
Na die beste van my wete was daar nog nooit ’n regering wat soveel raswette afgedwing het nie. As dit die maatstaf is, kan ons sover gaan as om te sê dat die ANC-regering die mees rassistiese regering in die geskiedenis is.
Ek kon my toespraak afsluit deur te gesels oor ’n paar lesse wat ons as Afrikaners die afgelope paar dekades hier aan die suidpunt van Afrika geleer het. Natuurlik is daar baie redes waarom ons kan sê dat Suid-Afrika agter die res van die wêreld is – Suid-Afrika is immers ’n Derdewêreldland. Dit is egter ook waar dat ons as Afrikaners in baie opsigte voor die res van die wêreld is. Ons sê dit omdat ons al besig is om oplossings te vind vir probleme wat die res van die wêreld – maar die Westerse wêreld in besonder – nog gaan tref. Ek het die volgende vier lesse met hulle gedeel:
Eerstens dat “rasionalisme” oorskat word. Daarmee bedoel ek dat die wêreld nie bloot oor goeie argumente gaan nie. Natuurlik is goeie argumente belangrik, maar selfs die beste argumente kon nie die wolf in Aesop se fabel daarvan weerhou om die lam te verslind nie. Ons argumente moet uitstekend wees, maar daar is iets wat selfs belangriker is as goeie argumente – ons aksies!
Tweedens, dat hoewel dinge soos politiek en ideologie belangrik is, daar iets is wat veel belangriker is, naamlik kultuur. Dit word weer maklik onderskat. Thomas Sowell het dit ook reeds gesê toe hy gevind het dat die manier hoe ’n groep deur ander groepe hanteer word nie soveel gewig dra soos die kultuur en werksetiek van daardie groep nie. Daarmee bedoel hy dat groepe wat aan die kortste ent van diskriminasie trek hulleself nie deur politiek gaan bevry nie, maar deur hard te werk, hul vaardighede te ontwikkel en te spaar voor hulle spandeer.
Derdens, dat ons krag in ons gemeenskap en in ons instellings gesetel is, veel meer as in die staat. Afrikaners het in die vorige eeu baie moeite gedoen om die staat op te bou en te versterk, net om eendag te moes vind dat daardie magtige staat oorgeneem is en nou teen ons gedraai word. Die les wat ons geleer het is dat ’n groep steeds in ’n vyandige omgewing kan floreer as hulle sterk gemeenskapsinstellings het, maar dat ’n groep wat slegs oor die staat beskik en nie instellings het nie, nie sal floreer nie.
Laastens, dat die pad na die toekoms deur die geskiedenis loop. Tradisie kan beskryf word as ’n stel oplossings waarvan ons al vergeet het wat die probleme was. Dat ons nie werklik ’n toekoms kan skep as ons ons skaam vir ons voorouers en ons geskiedenis nie, en dat ons dit slegs sal kan doen indien ons voortbou op dit wat ons van ons voorouers ontvang het.
Die wonderlike van ’n geleentheid soos hierdie is nie bloot net die feit dat ’n mens die gehoor kan toespreek nie, maar veral ook die geleentheid kry om met ander sprekers en rolspelers van reg oor die wêreld te skakel. Wat my opgeval het, is eerstens dat my toespraak – en die lesse wat ek hierbo verduidelik het – vir baie van die sprekers ’n heeltemal vars perspektief gebied het.
Die punt is dus dat ons nie bakhand moet staan wanneer ons buitelandse skakeling doen deur bloot net vir ander nasies te vra om ons probleme namens ons op te los nie. Ons moet die teenoorgestelde doen! Ons moet ons eie probleme oplos, maar in die proses moet ons ook vriendskappe in die buiteland versterk en verhoudings bou.
Só maak ons seker dat ons nie geïsoleer is nie. Inteendeel, ons neem deel aan gesprekke in die buiteland omdat ons iets het om by te dra. Ons het waarde om toe te voeg tot die gesprek. En wanneer ons waarde toevoeg, kan ons ook gesels oor maniere hoe daar bygedra kan word om vir ons ’n beter toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te skep.
Die tweede ding wat my by hierdie konferensie opgeval het, is dat dit nie meer vir ons nodig is om mense te oorreed dat daar ’n krisis in Suid-Afrika is nie. Ek moet natuurlik toegee dat hierdie ’n uitgesoekte gehoor was en dat ek hier veral met mense gepraat het wat taamlik ingelig is – en wat dus nie die gewone “man op straat” verteenwoordig nie. Die punt is egter dat almal met wie ek gepraat het, of hulle van Australië, Suid-Korea, Israel, Hongarye, Nederland, België, Frankryk, Kanada of die VSA afkomstig is, reeds geweet het dat Suid-Afrika nie die wonderwerk is waarvan ons almal in die 1990’s gehoor het nie. Hulle weet reeds van staatskaping en korrupsie, van plaasmoorde en grondgrype, van staatsverval en diskriminasie. So kan ons aangaan. Natuurlik het hulle nie al die besonderhede wat ons het nie, maar dit het my opgeval dat hulle ingeligte vrae oor Suid-Afrika vra.
Die punt is dus dat hoewel ons steeds moeite moet doen om vir die wêreld te vertel wat hier aangaan en daar vir ons baie werk voorlê in AfriForum se #DieWêreldMoetWeet-veldtog, moet ons begin praat oor ’n tweede fase van die veldtog.
Hierdie tweede fase behels dat ons mense wat reeds ingelig is en wat reeds bekommerd is moet kry om in die openbaar standpunt in te neem oor wat in Suid-Afrika aan die gang is en ook om in die openbaar te wys dat hulle hulself as vriende van die Afrikaners beskou. Om in die openbaar standpunt in te neem help reeds, maar ons kan selfs meer doen, soos om diplomatieke druk te laat toepas oor kwessies soos die beskerming van eiendomsreg.
Daar lê vir ons baie werk voor, maar die goeie nuus is dat ons inderdaad goeie vordering maak.
Ernst is hoof van beleid en aksie by AfriForum
Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets