Uit en Tuis is ’n rubriek waarin ons met Suid-Afrikaners gesels wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Leoné de Beer wat in Zwolle, Nederland woon.
Vertel ons meer van jouself en waar jy woon.
Ek is eintlik ’n stadsjapie wat sielkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU; nou Universiteit van Johannesburg) gestudeer het en nou bied ek kookwerkwinkels oor Suid-Afrikaanse kos aan in Zwolle, Nederland. Wie sou dit nou ooit kon raai? Dit is veral die heimwee – en die kommunikeer en leef in my hartstaal – wat my laat begin het met AfriKos. Ek is met ’n Nederlander getroud en ons het twee kinders van 10 en 13.
Wat doen jy daar?
Buiten die kookwerkwinkels verpak ek ook kruie vir bobotie en maak ek sakkies voorafgemengde malvapoedingmengsels! Die bobotie het begin uit weersin in die Knorr-bobotie wat glad nie smaak soos dit moet nie, en die malvapoeding omdat ek so lief is daarvoor en glo almal moet dit maak. Ha-ha!
Was dit vir jou moeilik om in ’n nuwe land aan te pas?
Dit is nog steeds! Om aan te pas is een ding, maar om geluk te vind is ’n ander. Dis in elk geval hoe ek dit ervaar, omdat ek neig om eensaam te voel as ek nie in my eie taal kan gesels nie. Meer nog, ek wil my taal hoor ook. Wanneer Suid-Afrikaners (en veral vroue!) gesels, dan is daar ’n ongelooflike dinamiek en energie.
Deel asseblief van jou beste en slegste avonture met ons.
My allerbeste avonture was die elf keer wat ek vir Stef Bos en sy band spyseniering gedoen het tydens hul Nederlandse toere! Ek hoop beslis ek kan dit weer doen. Een van my slegste avonture was óók spyseniering vir Stef, ha-ha, omdat dit in my oë ’n flop was. Hulle het dit nie agtergekom nie, maar agter die skerms het ek gestres om alles reg en klaar te kry as gevolg van beginnersfoute aan my kant.
Waarna verlang jy die meeste van Suid-Afrika?
Ons lekker taal. Tale, diversiteit, energie.
Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die relatief stywe, kalm en bedaarde manier waarop mense in die algemeen reageer. Minder lyftaal. Met ’n motto van (in elk geval in die streek waar ek woon): “Doe normaal dan doe je gek genoeg.” Mense kom ook nie sommer by jou ingewaai nie; alles gebeur volgens afspraak.
Sal jy ooit terugkeer na Suid-Afrika?
Ek hoop tog regtig so!
Wat geniet jy die meeste van Nederland?
Die veiligheid, verseker!
Was dit maklik om jou voete te vind?
Ja en nee. Soos ek gesê het, ek voel maklik eensaam as ek nie in my taal kan gesels nie.
Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?
Ek is nie seker nie. Huise is natuurlik ontsettend duur en die ruimte is maar mín! Maar andersins is daar maar goedkoop én duur winkels. Ek glo nie die lewe hoef te duur te wees nie: Daar is ook moontlikhede vir mense met minder geld.
Kry jy ooit kans om te reis? Indien wel, waarheen gaan jy graag?
Die kanse is wel daar ja, maar reis is baie duur. Openbare vervoer, petrol, verblyf, belasting op jou motor, ens. is baie duur. Ons gaan nogal graag Frankryk toe vir vakansie – soos die meeste Nederlanders trouens, ha-ha!
Kry jy ooit kans om te ontspan met so ’n besige skedule soos joune?
Seker darem, maar ek doen dit nie dikwels nie. Met ’n eie besigheid is daar maar altyd werk, hetsy ’n opdrag, administrasie of nuwe idees en planne.
Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?
Elke dag anders! Die vryheid om te beplan soos ek wil, is heerlik.
Is daar enigiets wat jy wil byvoeg?
Ek is mal oor hierdie inisiatief en elke vorm van netwerking! Dit is my wens, plan en doel om die kookwerkwinkels baie uit te brei met temas en ook in kombinasie met ander ondernemers se bypassende produkte. Dink byvoorbeeld aan reisorganisasies wat tydens ’n werkwinkel kan vertel oor hul aanbiedings! Of wynkenners, kookboekskrywers, selfs iets met mode, skoonheid, gesondheid, dieetkundiges… Ag, omtrent alles kan met lekker kos(maak) gekombineer word!