Om ’n toeris te wees, is amper so erg soos om ’n terroris te wees, seg die slim mense. ’n Toeris is ’n verbruikende, verorberende, inslukkende zombie wat ’n plek se besienswaardighede besoek en daarvandaan weggaan sonder om ’n snars van die plek te verstaan. ’n Reisiger, aan die anderkant, drink die plaaslike kultuur soos ’n fynproewer in.
Ek was onlangs ’n toeris in New York.
Glo my, ’n stukkie seeskuim, à la die einde van Die Klein Meerminnetjie, is al wat jy drywend op die mensemassa van Times Square kan wees. Meestal kom jy net ander toeriste teë, wie se bekke nes joune oophang oor die wolkekrabbers wat op en op strek, oor die man wat met ’n pynappel op sy kop rondloop (kyk mooi op die foto hierbo) en oor die vrou wat met net ’n deurtrekkertjie aan pronk met ’n N op haar een en ’n Y op haar ander… um… “wang” (ongelukkig geen foto daarvan nie).
Dok jy $35 op om die sewentig verdiepings met die Rockefeller-gebou se hysbak op te ry, is toeris ook al wat jy bly. Met Amerikaanse effektiwiteit (“stay two in line, guys, there are many people; click click, snap snap,”) kry die gidse die mensemassa bo. By Top of the Rock stel almal net in een ding belang: ’n selfie met die Empire State-gebou in die agtergrond.
Kyk, ons het probeer om ware reisigers te wees. Toe ons, kinders van Afrika wie se siele deur die ruimte gevoed is, die gedrang nie meer kon vat nie, hop ons by Central Park van die rooi Hop-On, Hop-Off bus af. Ons missie is om Cafe Lalo op te spoor, waar Tom Hanks en Meg Ryan hul groot uitval in You’ve Got Mail gehad het. Dis mos nou iets oorspronkliks, sê ek ingenome vir my man en kinders.
Helaas, ook hier was ons steeds net toeriste. Amper twintig jaar nadat dele van die fliek in die restaurant geskiet is, pryk foto’s uit die film steeds buite die restaurant. Lyk of Nora Ephron se fliek ’n lekker meevallertjie vir die restaurant was. Die plek was oorvol, maar die diens flink; my frittata was skaflik, die olywe wat my seun uit my bord gesteel het glo heerlik en die cappuccino baie lekker. Ek het darem ’n vuurhoutjieboksie met die restaurant se naam op gratis en verniet gekry. Niks om oor huis toe te blog nie. Die pizza en tiramisu wat ons die volgende dag by Capizzi, ’n restaurantjie so groot soos ’n skoenboks in Hell’s Kitchen, geëet het, was onthoubaarder.
Terug by die huis in Maryland na ons baie duur New Yorkse ekskursie, het ek bly wonder hoe ek minder van ’n toeris kon wees en meer van ’n reisiger. Ek het onthou van die Franse gesin wat by Top of the Rock ’n foto van ons gesin geneem het. Ons het die guns vir hulle terug bewys. Toe het die pa en die ma, nie meer bloedjonk nie, ’n selfie geneem waar hulle mekaar soen. Goed, goed hulle het gesorg dat die Empire State mooi in die foto was. Maar mens kon sien hoe bly hulle was om saam dáár te wees. Het hulle net so lank soos ons aan hul reis New York toe beplan?
Ons Saterdag in New York was maar bedremmeld omdat dit onverwags begin reën het. Inderhaas het ons vier $5-sambrele gekoop waarmee ons lam-arm kilometers ver deur Central Park moes loop. Toe ons nou heeltemal pootuit was met almal se geïrriteerdheidsvlakke so hoog soos Top of the Rock, tref ’n wonderbaarlike reuk ons. Ons kyk rond en sien ’n stalletjie waar ’n man versuikerde neute braai. Ons koop ’n $3-pakkie amandels en so onder ons swart sambrele smul-smul ons tot by die busstop. Daardie warm neute, sê my meisiekind later, was die lekkerste ding wat sy nog ooit geëet het. Sy was so moeg en die neute was net wat sy nodig gehad het.
Nou weet ek wat maak van jou ’n reisiger – die gedeelde herinneringe: die gelag agterna oor almal se senuwees klaar was dat ons op die verkeerde trein sou beland, die opwinding oor ons eerste rit met Uber, die neute in Central Park.
Vat die pad saam met jou geliefdes – dis hulle wat van jou ’n ware reisiger maak.
Lees ook: Uit en Tuis met die Haasbroek-gesin
Besoek gerus ook Marisa se blog: Afrikaans in Amerika.