Op ‘n koue Vrydagaand in Januarie staan ek met kinderlike blydskap op my gesig saam met honderde toeriste en Londenaars, gewoonlik knorrig, in die middel van Piccadilly en staar na vlieënde, visvormige kreature. Ek is omring deur mense met dieselfde uitdrukking. Dis koud en dit krioel van die mense, maar die visse se hipnotiserende bewegings en die vrolike musiek hou my vasgenael; vir ‘n paar oomblikke laat dit my van alle ongerief vergeet.
Die helderkleurige visse genaamd Les Luminéoles was oorspronklik ‘n opdragwerk vir die Festival of Lights in Lyon. Nou is hulle te sien by die Lumiere London, ‘n vier aande lange fees van liginstallasies regoor Londen. Die geleentheid word aangebied deur die liefdadigheidsorganisasie Artichoke, wat al sedert 2009 ‘n tweejaarlikse ligfees in Durham aanbied. Die installasies is versprei oor King’s Cross, Mayfair, Piccadilly, Regentstraat, St James’s, Trafalgar-plein en Westminster.
Op Donderdag, 14 Januarie is ek by King’s Cross en gaan kyk na die installasies in daardie omgewing. Ek staan ‘n hele ruk en kyk na die Circus of Light wat op die kant van die Granary Building geprojekteer is. Dis groot pret met helder elemente wat aan die Monty Python-animasie herinner. Ek wil langer bly, maar die winter het met alle mag toegeslaan en ek bibber. Die ander installasies, soos die binaryWaves, Light Graffiti en die Identified Flying Object is gelukkig op pad.
Vrydagaand begin ek naby my werk in Victoriastraat en besoek Westminster Abbey waar Patrice Warrener se Light of the Spirit die Wesfront transformeer deur die beeldjies van die twintigste-eeuse martelare in helder kleure te verlig. Dit is een van my gunstelinginstallasies by die skou. Dis absoluut pragtig en verlig dele van die fasade wat ‘n mens maklik as gevolg van die grootsheid van die pragtige gebou kan miskyk.
Van daar af loop ek tot by Trafalgar-plein waar Centre Point en Plastic Islands ‘n skerp lig laat val op die kwessie van plastiekbesoedeling, veral die plastiekverstopping van die Noord-Stille Oseaan. En dan verder tot by Leicester-plein wat in ‘n skouspelagtige ligtuin omskep is, kompleet met blomme en gloeiende riete. Dis regtig pragtig.
Van daar af dobber ek saam met die stroom voetgangers deur Piccadilly Circus na die pragtige viskreature by Piccadilly, die swewende mense op St. James-plein, die klein mannetjies wat mekaar op en af teen Liberty House jaag en die vreemde, interaktiewe toubeeld in die middel van Oxford Circus.
Om die waarheid te sê, is dit ‘n aardigheid net om in die middel van Regentstraat te kan loop, want hierdie deel van die stad is gewoonlik oorvol voertuie. Die hele aand is gevul met verrassende genot en so baie glimlagte. Die koue maak nie eens saak nie.
Ek wou Saterdagaand die Mayfair-gebied besoek, maar die skare het handuit geruk en twiets het gemaan dat ‘n mens liewer moes wegbly van die oorvol moltreinstasies waar dit moeilik was om die skares te beheer. Ek het dus besluit om liewer my herinneringe mooi te hou en nie te gaan kyk na die installasies wat ek nog nie gesien het nie.
Ek hoop die vertoning sal weer volgende jaar gehou word. Ek hoop groot skares sal in gedagte gehou word by die keuse van die areas en ek hoop Londen sal nog ‘n kans kry om te glimlag en vir ‘n verandering net ʼn koue, donker winteraand te geniet.
Deel op
Nuutste artikels