Opinie: Moedertaalonderrig in Suid-Afrika – Michael Calhoun

12/08/2016
| Deur Sue-Ann de Wet
opinie-moedertaalonderrig-suid-afrika-michael-calhoun

Aan die hele Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika en die diaspora van Afrikaners wêreldwyd: kom ons wens Akademia voorspoed toe en ondersteun hulle op alle maniere wat ons kan! Soos baie van julle weet, span die Afrikaanse gemeenskap in hierdie moeilike tyd in Suid-Afrika saam om ʼn stewige fondament vir jong Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te lê.

Eers moet ek net sê ek is nie Afrikaans of ʼn lid van enige Solidariteit-organisasie nie; ek is bloot ʼn besorgde persoon wat in hierdie pragtige land Suid-Afrika woon. Ek ondersteun AfriForum en Solidariteit omdat hulle goeie “staatswaghonde” is wat mense ondersteun wat suksesvol wil wees. Nadat ek geluister het na die debat tussen mnr. Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, en mnr. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, voel ek ek moet net my mening lug. Wat mnr. Lesufi oor die onderwystaalbeleid gesê het, pla my regtig. Dit klink of die Suid-Afrikaanse regering blatant sy hand oorspeel met die onderdrukking van minderhede se regte. Hierdie fascistiese neigings van die regering verbaas my nie, want die ANC het kommunistiese wortels. Hulle moet besef baie mense wat in ʼn demokrasie glo, sal dit nie aanvaar nie en hou hulle dop.

Synde ʼn Amerikaner kan ek sê ons is reguit, iets wat ek weet nie algemeen is hier in Suid-Afrika nie. Een onderwerp waaroor ek mense nie hoor praat nie, is die verskille tussen kulture. Ek dink mense hier in Suid-Afrika is bang om oor die verskille tussen kulture te praat, want hulle is bang hulle word as rassisties beskou. Hierdie is volgens my nié ‘n rassekwessie nie, so moet asseblief nie eens aan ras dink nie. Ek het dekades lank gereis en op drie verskillende kontinente gebly en het dus kennis gemaak met baie verskillende kulture. Ons weet kulture verskil van mekaar en party floreer terwyl ander stagneer! Vat nou maar Europa wat as wit beskou word en die verskillende kulture en nasiestate waaruit dit bestaan. Dit is duidelik dat party kulture daar meer as ander floreer. Daar is ongelykheid oral in die wêreld, wat beteken verskillende groepe mense is ongelyk. Ons is almal gelyk in die oë van God, maar ongelyk te opsigte van verskillende aspekte van die lewe. Ons moet erken die lewe sou maar bra vervelig gewees het as ons almal eenders was. Ongelykheid is nie onbillikheid of ʼn gebrek aan regverdigheid nie. Party mense is slim en ander dom, party is ryk en ander arm; dit beteken nie ongelykheid is die gevolg van onbillikheid nie – dit beteken bloot dat mense van mekaar verskil.

Sommige kulture werk harder as ander en sorg vir ʼn beter onderwysomgewing vir hul mense, selfs in benadeelde gemeenskappe. Die Afrikaanse kultuur is oor die algemeen bevorderlik vir goeie onderwys. By Afrikaanse instellings word stiptelikheid, persoonlike verantwoordelikheid, finansiële deursigtigheid en harde werk bevorder. Afrikaners kry gewoonlik nie kinders as hulle nie getroud is nie en hulle kry ook nie meer kinders as wat hulle kan bekostig nie. Hulle spandeer nie meer as wat hulle kan bekostig nie. Hulle moedig opleiding en dissipline aan. Dit bevorder weer ʼn gesinsgesentreerde kultuur wat die waarde van onderwys en opleiding by kinders inprent en ʼn omgewing vestig wat bevorderlik is vir voorspoed. Ek sien dit ook in die Asiaties-Amerikaanse kultuur in die Verenigde State wat op verskeie vlakke beter vaar as alle ander kultuurgroepe. Ek sê nie ander kulture in Suid-Afrika kan nie ‘n vooruitstrewende omgewing skep nie, want hulle doen dit, maar ek sien die Afrikaanse kultuur as geheel vaar uitstekend en hulle moenie gestraf word met taalbeleide wat ʼn negatiewe impak op hulle sal hê nie. Gelyke uitkomste is nie moontlik as daar ongelykheid tussen kulture is nie. Die meeste mense glo in oorsaak en gevolg, so wat jy doen het gevolge en natuurlik sal daar dan ongelykheid wees. Daar is ongelykheid (verskille) tussen kulture, maar die Suid-Afrikaanse regering wil gelyke uitkomste hê vir alle kulture, wat net nie kan werk nie.

Die taalbeleid wat Afrikaanse skole beïnvloed, is net die begin van die stadige aftakeling van die Afrikaanse kultuur deur die ANC-regering en die huidige dominante kultuur. Moenie blind en naïef wees nie, want dit is besig om te gebeur. Die stryd word vandag nie met gewere gestry nie, maar met woorde en beleide. Dis soos om weg te doen met gebed by ʼn Christelike skool, wat ʼn belangrike deel van die skool se kultuur is. Hulle beskou die verskille tussen kulture as onbillik (onregverdig) en probeer die kulture gelyk maak deur Afrikaners se regte weg te neem om ʼn sogenaamde regverdige samelewing te bewerkstellig. Die regering dink daar moet iets verkeerds in Afrikaanse skole aan die gang wees wat lei tot hierdie wanbalans en hulle wil dit verander. Taal verenig die lede van ʼn kultuur en dit is ʼn belangrike rede waarom Afrikaanse skole floreer.

Die aftakeling van Afrikaans is duidelik op alle vlakke van die samelewing en nie net beperk tot die ANC nie. In 2014 het Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), in ʼn toespraak op die Potchefstroom-kampus gesê daardie universiteit is nie ʼn Afrikaanse universiteit nie, maar ʼn Suid-Afrikaanse universiteit wat Afrikaans voel. Met hierdie wanvoorstelling van woorde wat die universiteit beskryf, is daar begin om die PUK se kultuur, wat geleidelik sedert 1869 gekweek is, af te takel. Almal weet die PUK is oop vir alle mense, ongeag hulle taal of kultuur, net soos godsdienstige skole oop is vir alle gelowe. Dit in ag genome is almal welkom mits hulle die instelling se inherente kultuur volg. Dit pla my ook dat mnr. Lesufi na die huidige stryd verwys as ʼn oorblyfsel van die verlede se struggle en dat taalbeleide daarom verander moet word. Hy sê Afrikaners moet van hulle regte verloor om te vergoed vir die ongelykheid van die verlede. Dit is blatant onbillik en verkeerd. Na 22 jaar van selfregering onder die ANC se leiding blameer hy nog steeds die verlede vir vandag se probleme. Eintlik sê hy dis in orde as ʼn kultuur nie verantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge van hul dade nie. Dit is met ander woorde aanvaarbaar om ʼn onverantwoordelike onderwyskultuur te bevorder en nie die gevolge daarvan in ag te neem nie. Mnr. Lesufi het eintlik gesê hy wil gelykheid vir almal verkry deur Afrikaanssprekendes se onderwystaalregte weg te neem, iets wat duidelik bydra tot hulle sukses. Hulle word dus gestraf omdat hulle ʼn deel van hulle kultuur gebruik vir die opheffing van hul mense. Daar was nog nooit gelykheid in die samelewing nie en daar sal ook nooit wees nie, want mense en kulture verskil van mekaar.

Ek was onlangs by ʼn Katolieke laerskool in Soweto en ʼn openbare laerskool in Tswaing Plaaslike Munisipaliteit in die Noordwes Provinsie. Albei is swart skole in agtergeblewe gebiede, maar die een in Soweto het ʼn 100%-slaagsyfer terwyl die een in Tswaing se slaagsyfer ontstellend laag is. Die Katolieke skool het ʼn gesonde kultuur gekweek waar studente leer hoe om suksesvol te wees. Hierdie kultuur is nie die gevolg van befondsing of salarisse nie, maar van die administrasie se toewyding. Kultuur kan op alle vlakke van die samelewing gemeet word, van regeringsvlak tot gesinsvlak. Ouers wat waarde heg aan goeie onderwys, wil hê hulle kinders moet omring word deur mense wat persoonlike verantwoordelikheid aanvaar, hard werk en ʼn gesonde kultuur by die skool bevorder en nie kla of verskonings maak vir ʼn swak onderwyskultuur nie. Dit bewys enige groep mense kan ʼn vooruitstrewende kultuur skep. Eenvoudig gestel: harde werk betaal. En die Rooms-Katolieke skool werk net so hard soos die Afrikaanse kultuur.

Die ANC-regering glo die kulturele regte van ʼn groter groep is belangriker as dié van minderheidsgroepe. Hulle glo ook alle mense verdien om alles te hê wat ander suksesvolle mense het, ongeag of hulle self daartoe bydra of nie, selfs al neem hulle swak besluite en het ʼn gebrek aan noodsaaklike vaardighede. Individue moet saamleef met die gevolge van hul optrede of gebrek daaraan en hulle moet insien dat dit hulle gemeenskap en kulturele omgewing beïnvloed. Hulle moet op grond van meriete beloon word, nie vir hul kulturele identiteit nie. Daar was sonder twyfel onreg in die verlede, maar om te sê ʼn individu se optrede is onbelangrik solank hy deel is van ʼn meerderheidsgroep, is kommerwekkend. Dit is verkeerd om te sê mense verdien iets bloot op grond van hulle kultuur of groep en dit veroorsaak verdeeldheid in die samelewing. Dis makliker om te dink aan gelykheid vir groepe as vir individue. In plaas van om die logiese gevolge van die ANC se betrokkenheid by skole wat misluk te erken, sê hulle dus die suksesvolle kultuur se regte moet weggeneem word om groter gelykheid vir die minder suksesvolle kulture te bekom.

Ja, die onderwysstelsel hier in Suid-Afrika is in ʼn warboel gedompel. Daar is onbillikheid in skole as gevolg van die ongelykheid of verskille tussen oorheersende kulture wat skole direk beïnvloed, van die ANC-regering tot die skool se administrasie en die gesinne waaruit die leerders kom. Alles kom neer op persoonlike verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en wat jy in jou gemeenskap terugploeg. Die Afrikaanse kultuur wat ek vandag sien is inherent humanitêr en bevorder die lewe in baie opsigte. Hoekom die taalregte van ʼn klein minderheid met ʼn bewese rekord van uitstekende onderwys en ʼn vooruitstrewende ekonomie wegneem as dit vir hulle moeiliker sal wees om daarsonder te floreer?

Ons weet daar is mense en kulture wat altyd sal vinger wys (wat nie die verlede sal verander nie) en slagoffer speel en wat nie aanspreeklikheid sal aanvaar, hard werk of persoonlike verantwoordelikheid op hulle sal neem nie. Baie verskillende kulture is onderdruk; die suksesvolles het vergewe en aanbeweeg. Mnr. Lesufi het uitgevaar oor die verlede wat hy nie sal vergeet nie; goed, vergewe dan, aanvaar verantwoordelikheid vir die toestand van die onderwysstelsel en doen iets om die swak skole te verbeter. Ander kulture noem Afrikaners rassiste, maar dis vir my baie duidelik dat hulle nie rassiste is nie. Hulle wil net vooruitgaan en vashou om sodoende hulle kultuur te behou. Mense moet ophou om apartheid te blameer vir vraagstukke wat die land raak. Hou op om slagoffer te speel en aanvaar verantwoordelikheid vir jou dade. As jy nie deel is van die oplossing nie, is jy waarskynlik deel van die probleem; moenie oorgerus wees.

Ongelukkig lyk dit of die debat oor die taalbeleid in die onderwysstelsel tussen die verskillende groepe ʼn eindelose, aanhoudende geskilpunt is. Ek is so beïndruk met Akademia en ondersteun hulle ten volle omdat hulle proaktief is om hulself te beheer en hul onderwystoekoms te bestuur ten spyte van die debat. Daar is op alle vlakke in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel uitdagings. Elkeen van julle is verantwoordelik vir jul eie onderwys, nie jou onderwyser, skool of regering nie. Jy sal maai wat jy saai!

Ons moet AfriForum, Solidariteit en al hul ondersteuners gelukwens met hulle proaktiewe pogings om die Afrikaanse gemeenskap te help om vooruit te gaan en respek te verdien in Suid-Afrika en die wêreld. Ek stem saam met mnr. Lesufi dat alle Suid-Afrikaners gehalte-onderwys verdien. Terwyl ons daarvoor wag, kan ons aanhou veg vir die regte van Afrikaanssprekendes en ʼn sterk privaat onderwysstelsel bou, beginnende by Akademia. Kom ons werk hard en doen wat nodig is om die kultuur in die onderwysstelsel te verander en ʼn einde te maak aan kakistokrasie in Suid-Afrika. Ons gaan nog lank wag vir die haat, beskuldigings en ontkenning van persoonlike aanspreeklikheid om op te hou. Terwyl jy vir ander wag om hul gedragspatrone ten goede te verander, doen wat jy kan om jouself te verander en gaan studeer by ʼn wonderlike universiteit soos Akademia. Ter wille van Afrikaans is dit noodsaaklik om Akademia finansieel te ondersteun, so wees asseblief vrygewig! Aangesien die meeste van ons weet hoe belangrik goeie onderwys is, moedig ek almal aan om Akademia te ondersteun; dit sal positiewe gevolge hê regoor Suid-Afrika en die hele wêreld.

Ek wil graag afsluit met ʼn aanhaling deur James Madison, ʼn voormalige Amerikaanse president, uit 1822: “A popular Government, without popular information, or the means of acquiring it, is but a Prologue to a Farce or a Tragedy; or, perhaps both. Knowledge will forever govern ignorance: And a people who mean to be their own Governors, must arm themselves with the power which knowledge gives.”

Bio: Michael Calhoun is in Suid-Kalifornië gebore en het daar grootgeword; die laaste paar jaar woon, werk en studeer hy in Suid-Afrika en die VSA. Hy het vir niewinsgewende en winsgewende organisasies sowel as die Amerikaanse ambassade skryfwerk gedoen. Internasionale politiek, Afrika-kwessies, reis en sy Christelike geloof is ʼn paar van sy passies. Hy is baie betrokke by die landelike gemeenskap op die plaas in die Noordwes Provinsie waar hy woon.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels