Tans herdenk ons die eerste honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal in die land. Die prestasie om ’n geskrewe huistaal in ’n ten volle funksionele taal te ontwikkel wat langs Engels kon kers vashou, is inderdaad iets wat gevier moet word. Dit was die gevolg van die harde werk en opoffering van verskillende individue en organisasies en die eeufees bied die gulde geleentheid om hulle weer in herinnering te roep.
Wanneer oor die ontwikkeling van Afrikaans gepraat word, hoor ’n mens dikwels van Arnoldus Pannevis. Sy naam het ons op skool laat giggel, maar wie was die Nederlander met die vreemde van en wat was die taalrol wat hy gespeel het?
Om by die begin te begin, Arnoldus is op 16 Februarie 1838 in Oudekerk aan de Ijssel in Nederland gebore. Sy pa en oupa was beide dokters en hy het ook medies gestudeer. Hy is aangestel as mediese offisier in die Nederlandse vloot, maar is twee jaar later eervol ontslaan as gevolg van gesondheidsprobleme. Daarna het hy ’n graad in letterkunde en tale verwerf.
Reeds as skoolseun het hy die wel en weë van die Transvalers en Vrystaters met belangstelling dopgehou en in 1866 het sy droom na Suider-Afrika te gaan, waar geword. In die losieshuis in die Strand waar hy tuisgegaan het, het hy agtergekom dat ’n nuwe taal aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het, wat beslis nie Nederlands was nie. Sy agtergrond in tale het hom laat besef hoe ’n unieke en kosbare ontwikkeling dit was.
Hy het kort voor lank ’n pos as onderwyser van klassieke tale aan Paarl Gimnasium aanvaar en hier ’n leidende rol in die ontwikkeling van ’n volgende geslag taalpioniers, insluitend die latere ds. S.J. du Toit, gespeel.
Pannevis het hom daaraan gewy om mense van die waarde van Afrikaans te oortuig, dit as geskrewe taal te probeer bevorder en voorspraak vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans te doen. Hy het selfs in 1874 aan die Britse en Buitelandse Bybelvereniging geskryf om te vra dat dit die Bybel in Afrikaans moet vertaal. Sy vertoës het tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) aanleiding gegee.
Nog ’n saak waarvoor hy hom beywer het, was dat die Nederlandse kultuur aan die Kaap behoue moes bly en nie deur die Britse kultuur ingesluk moes word nie. Hy was onder meer gekant teen Engelse dienste wat soms in Ned. Geref. Kerke gehou is, asook die oorwegend Britse inhoud van die geskiedenis wat kinders op skool geleer het. Toe Brittanje die Transvaalse Republiek in 1877 annekseer, het hy die stap veroordeel met ’n publikasie getiteld ‘t Misdadig Engeland.
Hoewel hy die skoonheid van Afrikaans deurlopend besing het, het hyself meestal in sy moedertaal, Nederlands, geskryf en gedig. Hy het verder verskeie Franse gedigte in Afrikaans vertaal en was een van die skrywers van Die Afrikaanse Volkslied (’n Ider nasie het syn land).
Steeds gebuk onder gesondheidsprobleme het hy in 1877 as onderwyser by Paarl Gimnasium en lid van die GRA bedank. Dit kom voor asof hy aan ernstige depressie gely het. Hy het egter aanhou skryf en waar moontlik, kinders probeer onderrig.
Arnoldus is op 46-jarige ouderdom aan ’n hartaanval te Groenberg, Wellington, oorlede en in die familiegraf van sy vriend, ds. G.W.A. van der Lingen, langs die Strooidakkerk in die Paarl begrawe. Hy word as filoloog en taalpionier gehuldig – ’n merkwaardige man wat met sy entoesiasme vir Afrikaans ander se oë vir dié merkwaardige taal geopen het.