AfriForum gee sy regspan opdrag om “Kill the Boer” internasionaal te beveg
Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan amptelik opdrag gegee om ondersoek in te stel na die onderskeie internasionale platforms waar AfriForum sy regstryd kan voortsit teen slagspreuke soos die “Kill the Boer”-dreunsang wat die moord op Afrikaners en boere aanmoedig. Dit volg in reaksie op gister se Konstitusionele Hof-uitspraak waarvolgens AfriForum se aansoek om verlof tot appèl teen twee vorige hofbeslissings wat die sing van dié dreunsang gewettig het, van die hand gewys is. AfriForum sal derhalwe die stryd nou internasionaal voortsit omdat alle regsremedies hiermee plaaslik uitgeput is.
Klankgreep: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die internasionalisering van die stryd teen oproepe tot geweld teen Afrikaners en boere, soos wat deur die dreunsang van “Kill the Boer” gedoen word, die volgende logiese stap noudat dit duidelik is dat nie die Konstitusionele Hof óf die Suid-Afrikaanse Grondwet Afrikaners se menseregte in beskerming neem nie. Die dreunsang het reeds die afgelope week ook internasionaal opspraak verwek nadat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sy misnoeë daaroor uitgespreek het. Hy het Maandag op X gesê dat “Kill the Boer” ’n dreunsang is wat geweld aanhits, en dat Suid-Afrika se leiers en politici moet optree om Afrikaners en ander benadeelde minderhede te beskerm.
“Hierdie internasionalisering gaan meer behels as net die neem van regsaksies. Dit sal ook ’n verskerpte poging insluit om internasionale maghebbers en meningsvormers se aandag daarop te vestig dat dit volgens Suid-Afrikaanse howe aanvaarbaar is om die moord op Afrikaners en boere aan te moedig, terwyl president Cyril Ramaphosa en sy regering weier om hierdie oproepe tot geweld te veroordeel,” sê Kriel.
Gegewe die howe en Ramaphosa se weiering om Afrikaners se reg op veiligheid in beskerming te neem, sal AfriForum sy 177 buurt- en plaaswagte uitbrei en versterk om binne die raamwerk van die wet gemeenskappe te help om hulself te beveilig teen misdaad en geweld. “As die owerhede ons nie wil beskerm nie, sal ons voortgaan om onsself te beskerm,” voeg Kriel by.
Volgens Kriel kan geen selfrespekterende gemeenskap daarby berus as oproepe tot geweld teen hulle en hul kinders gemaak word nie. “Ons sal dit nooit aanvaar dat oproepe tot geweld teen ons gemeenskappe gewettig is nie en daarom sal ons dit op elke moontlike vlak beveg met alles wat ons het,” sluit Kriel af.
Video: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum