Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde van stapel gestuur en ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin die President se ingryping geëis word. Tien praktiese stappe wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp, word ook in dié brief uiteengesit. Om die veldtog af te skop, het AfriForum vandag ’n kort dokumentêr bekendgestel oor die moord op Attie (40), Wilna (36) en klein Wilmien Potgieter (2) naby Lindley in Desember 2010.
Die veldtog is van stapel gestuur nadat daar die afgelope maand weer ’n skerp toename in plaasmoorde was. In Junie 2020 was daar 40 plaasaanvalle en vyf moorde en in Julie 2020 was daar reeds 15 plaasaanvalle en vier plaasmoorde.
Bykomend tot die werk wat AfriForum reeds verrig om plaasmoorde te beveg en plaasaanvalslagoffers te ondersteun, sluit AfriForum se verskerpte veldtog die volgende in:
- ’n tienpuntplan wat aan pres. Ramaphosa voorgelê word met stappe wat die Suid-Afrikaanse regering behoort te doen om plaasmoorde te beveg;
- die bekendstelling van ’n dokumentêr oor die Lindley-moorde in Desember 2010, wat die eerste van ’n reeks dokumentêre films oor plaasaanvalle is;
- ’n verskerpte bewusmakingsveldtog waarin die verhale van plaasaanvalslagoffers vertel word; en
- ’n bewusmakingsveldtog oor mense se regte en hoe hulle doeltreffend kan terugveg om hulself en hul gemeenskappe te verdedig.
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê AfriForum vra nie vir spesiale behandeling ten opsigte van plaasaanvalle nie, maar vir gelyke behandeling. “Die Suid-Afrikaanse regering het geen probleem daarmee om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel om ’n verskeidenheid van unieke misdade te bekamp nie. Dit sluit in geweld teen vroue en kinders, bendeverwante geweld, koperkabeldiefstal, transitorooftogte en renosterstropery, om maar ’n paar te noem. Dit is slegs in die geval van plaasmoorde dat ons skielik gekonfronteer word met, in die ergste geval, kabinetslede wat dié misdade regverdig, of ten beste die bestaan van die krisis as iets onbelangrik afmaak.”
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid, laat die wet oorgenoeg ruimte vir wetsgehoorsame burgers om hulself te beskerm. “Dié reg moet eenvoudig opgeneem en gebruik word. Dit is hoog tyd dat elke wetsgehoorsame burger wat in ’n landelike gebied werk en woon hulself binne die raamwerk van die wet bewapen. Elke persoon moet weet wanneer hulle mag skiet, en moet in staat wees om hulself, hul gesinne, bure en gemeenskap te beskerm. Bewapen jouself en leer jou wapen ken.”
Cameron sê voorts dat die toename in aanvalle waarskynlik nie gaan afneem nie. “Die regering het ons landelike gemeenskappe tot nou bloot in die steek gelaat. Ons moet onsself organiseer en proaktief optree om aanvalle af te weer.”
Boere en werkers bly egter toenemend terugveg en hulself verdedig aangesien meer aanvallers die afgelope tyd deur slagoffers gewond of gedood is.
Volgens dr. Theo De Jager, Saai se direksievoorsitter, het plaasaanvalle en -moorde ’n kritieke punt bereik. Buitelandse regerings, multilaterale instellings en die internasionale media vra toenemend moeiliker vrae daaroor. Geen oplossing is moontlik voordat die regering nie eers erken dat plaasaanvalle en -moorde ’n probleem is wat Suid-Afrika in die gesig staar nie.
De Jager sê ook dat die regering se reaksie moet begin met 1) ’n formele, onafhanklike ondersoek na die faktore, aard en oorsprong van, asook die polities-sosiale omgewing waarin die verskynsel van plaasaanvalle voorkom, en 2) die skep van ’n spesiale multidepartementele eenheid om dié probleem die hoof te bied.
“Dis te wyte aan en veral die regering se houding jeens die heersende situasie dat daar geen ander keuse vir weerlose plaasgemeenskappe is as om hulself te bewapen, hul waaksaamheid op te skerp en hulself in goed georganiseerde plaaslike plaaspatrollies te organiseer om hulself en mekaar in geval van nood te help nie.”