AfriForum-noodfonds help met derduisende liters water en kospakkies in 2024
AfriForum kon die afgelope jaar broodnodige verligting aan gemeenskappe bring wat geraak is deur die verskeie rampe wat die land getref het. AfriForum se noodfonds het met 81 ton voer honderde boere deur die jaar gehelp wat skade gely het as gevolg van droogtes en veldbrande. Dié broodnodige fonds het boonop altesaam 10 000 liter drinkwater aan skole verskaf wat daarsonder was en met dié skenking toegesien dat brandbestryders oor die land heen veldbrande kon blus.
“In ’n jaar wat die regering herhaaldelik tekortgeskiet en versuim het om dringend en voldoende op rampe te reageer, het dié noodfonds van hierdie leemtes gevul. Dis slegs deur die ondersteuning van talle welwillende donateurs dat AfriForum deur sy noodfonds daarin geslaag het om hulp te verleen aan mense wat deur droogtes, veldbrande en vloede geraak is,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.
AfriForum se noodfonds het ook toegesien dat:
- 645 volwassenes en kinders – van brandbestryders, vloedslagoffers, gesinne sonder elektrisiteit en tehuise – van maaltye verskaf is;
- 2 800 liter brandstof verskaf is aan tehuise wat sonder elektrisiteit was, aan brandbestryders om veldbrande te blus en vir die aflewering van noodvoorraad;
- 150 matrasse aan vloedslagoffers sonder heenkome gegee is; en
- 100 lipbalsems aan brandbestryders geskenk is.
AfriForum het deur sy noodfonds nagenoeg R450 000 spandeer om te verseker dat slagoffers van rampe, se nood verlig word.
“Hierdie ondersteuning sou onmoontlik gewees het sonder die ruimhartigheid van ons donateurs. Dit het weereens bewys dat gemeenskappe sterker is wanneer hul saamwerk en na mekaar omsien. Ons wag nie vir oplossings nie, ons skep dit,” sê Cooks.
Die komende jaar hou nuwe en groter uitdagings in en elke bydrae kan die verskil tussen hoop en wanhoop, oorlewing en ellende beteken. Besoek www.afriforum.co.za en klik op donasies om tot die noodfonds by te dra.
Alternatiewelik, maak ’n deposito direk in die noodfonds se rekening. Die bankbesonderhede is as volg:
Bank: Eerste Nasionale Bank
Rekeninghouer: AfriForum MSW
Takkode: 261550
Rekeningnommer: 623 498 98 398
Verwysing: Noodfonds
Deel op
Nuutste artikels