AfriForum lewer kommentaar op voorgestelde belastingwetgewing
AfriForum het pas ons kommentaar op voorgestelde belastingwetgewing ingedien. Ons het veral gefokus daarop om Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk se vrystelling van plaaslike inkomstebelastingheffing te verdedig.
Die kommentaar is gelewer in reaksie op ’n uitnodiging aan die publiek om insette oor die Konsepwysigingswetsontwerp op Belasting van 2017 te gee.
Verskeie kundiges, insluitend Prof. Jannie Rossouw (hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se Skool van Ekonomiese en Besigheidswetenskappe) waarsku reeds jare lank dat Suid-Afrika oor ’n fiskale afgrond sal stort indien die huidige neigings wat spandering op maatskaplike toelae en die groeiende staatsdiens aanbetref, sou voortduur. Die staat se vernaamste bronne van inkomste bestaan tans uit persoonlike inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde (BTW) en maatskappybelasting, en dit sal ook waarskynlik die bronne wees waaruit die regering sal poog om bykomende inkomste te tap. Hierdie bronne is egter nie onuitputlik nie.
Die feit dat ’n poging nou aangewend word om Suid-Afrikaners se buitelandse inkomste ook te belas, ongeag van die belastingbetaler se plek van verblyf in die tyd wat die inkomste verdien is, skep die indruk dat die staat al meer desperaat word om maniere te vind waarop die inkomstebelastingbasis uitgebrei kan word, ongeag die gevolge van sulke stappe.
AfriForum het die geleentheid om kommentaar op die voorgestelde wetswysigings te lewer, gebruik om juis die aandag op dié negatiewe gevolge te vestig.
Ons beskou die huidige verblyfgebaseerde inkomstebelastingstelsel as billik, omdat die belastingbetalers belasting betaal op inkomste wat verdien word in die land waarin hulle hulle die meeste van die tyd tydens die belastingjaar bevind. AfriForum hou kontak met duisende Suid-Afrikaners wat tydelik of permanent in die buiteland woon en ons kan onomwonde verklaar dat die skrapping van hierdie stelsel vele negatiewe gevolge vir beide hierdie Suid-Afrikaners, maar ook die land se ekonomie oor die algemeen sal inhou.
Indien iemand die meerderheid van die belastingjaar buite die Suid-Afrikaanse landsgrense deurbring, is dit tog billik dat hy of sy in die land van verblyf belasting betaal. Of daardie land sodanige inkomstebelasting op die persoon wil hef, of nie, het niks met die Suid-Afrikaanse regering te make nie, omdat die persoon nie ’n las op die infrastruktuur of dienste van Suid-Afrika is nie, maar wel op dié van die gasheerland. Die feit dat die persoon Suid-Afrikaanse burgerskap het, is op sigself nie ’n rede om belasting op hom of haar te hef nie – inkomstebelasting is tog nie ’n “betaling” vir jou burgerskap nie.
Die versekering word gegee dat indien iemand reeds in die buiteland belas word, die betaalde belasting teruggeëis kan word nadat Suid-Afrikaanse inkomstebelasting betaal is. Of dit op alle lande van toepassing sal wees, hoe vinnig die terugbetaling sal geskied en of die SAID die nodige hulpbronne sal hê om sodanige eise te hanteer, sal ons moet sien. Dit is moontlik dat mense lank vir uitbetalings sal moet wag en in die tussentyd geld sal moet leen om te oorleef. Hierdie risiko het tot gevolg dat talle Suid-Afrikaners tans oorweeg om hulle burgerskap prys te gee. Dié drastiese stap mag weer tot gevolg hê dat hulle mettertyd die reg om eiendom in die land te besit, mag verloor (as ander voorgestelde wetgewing aanvaar word) en dat hulle ook komende geslagte se reg tot burgerskap deur herkoms prysgee. Dit lyk dus asof hulle in ’n hoek vasgeverf mag word as die belastingwetgewing só aanvaar word.
AfriForum loods gereeld peilings om te bepaal waarom mense die land verlaat. Dikwels vereis werkgewers van hulle om ’n tyd lank in die buiteland te werk om hulle ervaring uit te bou of buitelandse besigheidsbelange te ondersteun. Hulle kan dan weer internasionale netwerke en ervaring plaaslik tot die voordeel van die land aanwend. Sou ’n onvriendelike belastingstelsel sodanige uitwisseling benadeel, sal dit plaaslike kundigheidsvlakke en die ekonomie oor die algemeen in die voet skiet.
Ander Suid-Afrikaners is weer verplig om buite die grense te werk omdat hulle nie plaaslik werk kan kry nie. Die amptelike werkloosheidskoers van 27.7% in die tweede kwartaal van 2017 bewys dat die plaaslike arbeidsmark nie alle burgers kan opneem nie. Die feit dat indiwidue die inisiatief neem om elders werk te vind, eerder as om ’n las op plaaslike belastingbetalers en welsynsdienste te wees, behoort verwelkom, eerder as belas te word.
AfriForum het ook vasgestel dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, geneig is om plaaslik te belê en vriende, familie of verdienstelike sake finansieel te ondersteun. Hierdie bevinding strook met dié van vele internasionale studies wat vasgestel het dat geld wat deur migrante “huis toe” gestuur word, saam met internasionale hulpfondse van die grootste bronne van finansiële invloei in ontwikkelende lande is. Werkers se oormaking spandering (remittance spending) het ’n betekenisvolle deel van internasionale kapitaalvloei geword – ook wat Suid-Afrika aanbetref.
Verder sien ons dat Suid-Afrikaners dikwels eiendom met die oog op hulle terugkeer in die toekoms koop. Hulle skep ook gereeld beleggingsfondse ten einde eendag in Suid-Afrika te kan aftree, of ’n eie besigheid hier te vestig.
Sou hulle voortaan op buitelandse inkomste belas word, soos voorgestel word, gaan talle beslis hierdie soort spandering of belegging aanpas, staak, burgerskap prysgee, of die werk in die buiteland bedank en plaaslik by die 27.7% werkloses kom aansluit. Watter opsie hulle ook al mag kies, die gevolge sal beslis uiters negatief vir Suid-Afrika wees.
StatsSA se syfers vir emigrasie wat tussen 2006 en 2016 plaasgevind het, toon aan dat die meerderheid van dié mense tussen 25 en 39 jaar oud was. Wêreldwyd het streng immigrasiewetgewing tot gevolg dat immigrante oorwegend hoogs gekwalifiseerde mense is. Hulle kundigheid en welwillendheid moet in die belang van die land behou word. Een manier waarop dit kan geskied, is om te verseker dat hulle aan nasionale verkiesings kan deelneem, ’n reg waarvoor AfriForum en ander partye suksesvol in die hof betoog het. Nog ’n wyse is om hulle toe te laat om in die buiteland te woon en werk vir die meerderheid van die belastingjaar, sonder om plaaslik op hulle verdienste belas te word.
Met dié feite in gedagte het AfriForum dringend versoek dat die huidige belastingvrystelling op buitelandse inkomste behou moet word.
Bevestiging van ontvangs van ons kommentaar is gekry. AfriForum wag nou op verdere verwikkelinge en bly verbind daartoe om die regte van ons medelandsburgers in die buiteland te beskerm.