AfriForum, Solidariteit en SOS begin met regsaksie teen die Bela-wet
AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met regsaksie teen die promulgering van die Bela-wet begin.
Volgens dié organisasies het president Cyril Ramaphosa irrasioneel en strydig met verskeie ooreenkomste en ’n aanbeveling van die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, opgetree deur die Bela-wet in sy geheel te promulgeer. Gwarube het aanbeveel dat die implementering van die taal en toelatingsklousules van die wet weens die afwesigheid van toepaslike norme en standaarde uitgestel moes word.
Die minister het volgens dié organisasies ook irrasioneel opgetree deurdat sy die promulgeringskennisgewing mede-onderteken het, en teenstrydig met haar aanbevelings van skaars twee weke vroeër aan Ramaphosa dat die wet nie ten volle gepromulgeer moet word nie. Die minister het ook aanbevelings aan Ramaphosa gemaak wat sekere beskerming aan onder meer moedertaalonderrig en Afrikaanse skole sou kon bied.
AfriForum, Solidariteit en die SOS, wat almal deel van die Solidariteit Beweging is, het reeds regsbriewe aan onderskeidelik Ramaphosa en Gwarube gestuur waarin uitgewys word dat die ondertekening van die promulgeringskennisgewing irrasioneel is.
In terme van die regsbriewe het die minister en president tien dae om die dispuut op te los. Indien daar nie ’n oplossing is nie, het die partye geen ander keuse as om hof toe te gaan nie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die promulgering van die Bela-wet in sy geheel ’n daad van aggressie deur die regering teen Afrikaanse skole en -kinders. “Die promulgering is ’n aanduiding dat die ANC besig is om die regering van nasionale eenheid in ’n regering van nasionale onenigheid te omskep wat poog om partye soos die DA en VF+ bloot te koöpteer om die ANC se beleid te help uitvoer,” voeg Kriel by.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aangedui dat sy organisasie onaangenaam verras is om te sien dat die Bela-wet in sy geheel gepromulgeer is, sonder enige voorwaardes soos deur die minister aan die president aanbeveel. Volgens hom was die promulgering ’n oneerbare verbreking van die ooreenkoms wat die regering by Nedlac met Solidariteit onderteken het. “Die Grondwet en regspraak bevestig dat die minister se aanbeveling, as verantwoordelike persoon vir die implementering van die wet swaar weeg. Die promulgering van ’n wet is nie die alleentaak van die president nie. Die doel van die aanbevelings van die minister is om die inwerkingstelling van die wet uit te stel sodat die nodige stappe gedoen kan word om die wetgewing effektief in werking te stel,” sê Hermann.
Volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, het die president geen redes aangevoer waarom hy die minister se aanbevelings en ooreenkomste wat bereik is bloot geïgnoreer het nie. “Dit wil dus voorkom of die president se irrasionele promulgering van die Bela-wet in sy geheel geswig het voor die politieke druk van die anti-Afrikaanse elemente in die ANC,” aldus Fourie.
Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het aangedui dat die instellings van die Solidariteit Beweging nou, benewens die regstappe wat gedoen word teen die Bela-wet se promulgeringskennisgewing, ook in die komende jaar sal fokus om te help toesien dat die norme en standaarde, en regulasies rakende die taal- en toelatingsbeleid van skole wat nou deur die minister van basies onderwys opstel moet word, bepalings bevat wat sal poog om magsmisbruik deur onderwysamptenare om Afrikaanse skole te teiken, te help verhoed. “Die instellings van die Solidariteit Beweging behou ook die reg voor om na die afhandeling van die regsaksie teen die promulgeringskennisgewing, ook regstappe te doen teen die ongrondwetlikheid van die Bela-wet self,” voeg Human by.
Deel op
Nuutste artikels