AfriForum vra: “Vier Afrikaans en inheemse tale op Internasionale Woordeboekdag en beskerm taal deur Bela-wet teen te staan”
Internasionale Woordeboekdag word jaarliks op 16 Oktober gevier. Op hierdie heuglike dag bring AfriForum hulde aan almal wat deur die jare bydraes gelewer het om ’n wye verskeidenheid woordeboeke in Afrikaans en ander inheemse Suid-Afrikaanse tale tot stand te bring.
“Danksy hierdie mense se harde werk deur die dekades heen het ons tale ontwikkel en groei dit steeds dinamies om die toekomstige oorlewing daarvan te help verseker,” verduidelik Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.
Internasionale Woordeboekdag word ter ere van Noah Webster wat op 16 Oktober 1758 gebore is, herdenk. Hy word beskou as die vader van die Amerikaanse woordeboek. Hoewel sy werk spesifiek tot voordeel van Engels was, word die dag deesdae ingespan om die sprekers van alle tale aan te moedig om hulle taalgebruik te verbeter deur woordeboeke te raadpleeg en ’n ryker woordeskat te ontwikkel.
Bailey noem dat Webster skynbaar sy liefde vir taal van sy moeder geleer het. Toe hy sy formele skoolopleiding begin, het die swak gehalte daarvan hom teleurgestel en hy het gevolglik begin om hom toe te spits daarop om die onderwys van geslagte ná hom te probeer verbeter – onder meer deur sy leksikografiese baanbrekerswerk.
“Soos Webster moet ons alles moontlik doen om te sorg dat geslagte ná ons die beste moontlike onderrig sal geniet, en dít beteken toegang tot moedertaalonderrig vir so lank as moontlik. Wetgewing soos die omstrede Bela-wet wat die voortbestaan van moedertaalonderrig in ons skole bedreig en die oorheersing van een taal, naamlik Engels, tot gevolg kan hê, moet dus ten sterkste teengestaan word,” sê sy.
AfriForum doen daarom ’n beroep op die publiek om deel te neem aan die optog teen die Bela-wet wat op 5 November 2024 van die Voortrekkermonument na Freedom Park in Pretoria sal plaasvind. Inligting en registrasievorms is beskikbaar by www.belaprotes.co.za.
Deel op
Nuutste artikels