Ons vier Afrikaanse Taaldag elke jaar op 14 Augustus, omdat die Genootskap van Regte Afrikaners op dié dag in 1875 tot stand gekom het om hulle vir Afrikaans as ’n eie taal te beywer. Afrikaans is ook die taal wat op een of ander wyse betrokke was by verskeie uitvindsels en innoverings wat bygedra het tot die wêreld waarin ons vandag leef.
- Sasol (aanvanklik die Suid-Afrikaanse Steenkool-, Olie- en Gasmaatskappy)
Sasol is ’n merkwaardige suksesverhaal wat uit 1950 dateer en dié merkwaardige tegnologiese sprong is in Afrikaans gemaak. Vandag is Secunda, Sasol se hoofaanleg, die enigste kommersiële installasie ter wêreld wat steenkool in vloeistof omskakel. Dit maak Sasol die grootste vervaardiger van sintetiese brandstof ter wêreld. Wat nog meer ongelooflik is, is dat dié brandstof reeds in 1955 by vulstasies in Suid-Afrika beskikbaar was.
- Dolosse
Dolosse is versterkte sementblokke in ’n komplekse geometriese vorm wat regoor die wêreld in kusgebiede as golfbrekers gebruik word. Die dolos is in 1963 deur tekenaar Aubrey Kruger ontwerp en vir die eerste keer in Oos-Londen gebruik.
- Vlamionisasiebespeurder
Dié wetenskaplike instrument meet analiet in die stoom van ’n gas en is in Afrikaans in Suid-Afrika ontwikkel. Dit is ook terselfdertyd in Nieu-Seeland ontwikkel. In Suid-Afrika is die tegnologie deur Victor Pretorius en J. Harley aan die Universiteit van Pretoria ontwikkel. Pretorius was ’n direkte afstammeling van Andries Pretorius!
- Cybertracker
Die fisikus Louis Liebenberg en rekenaarwetenskaplike Lindsay Steventon het in 1996 die Cybertracker ontwikkel. Dié tegnologie word gebruik om diere van alle groottes en vorme op te spoor en maak gebruik van ’n satellietnavigasiestelsel soortgelyk aan GPS. Deur middel van dié tegnologie kan wetenskaplikes die beweging en migrasie van diere bestudeer in die gemak van hul laboratoriums.
- Mxit
Die selfoonboodskapplatform Mxit is in 1997 in Stellenbosch deur Herman Heunis ontwikkel. Heunis se motivering vir die ontwikkeling van dié platform was die hoë koste van SMS-boodskappe. Mxit is amptelik in 2006 geloods en is op sy hoogtepunt deur sowat 7,2 miljoen mense in 120 lande gebruik.
- Krugerrande
Die wêreld se eerste onsdenominasie- goue munt, die Krugerrand, is op 3 Julie 1967 deur die Suid-Afrikaanse Munt geslaan. Die naam “Krugerrand” is ontleen aan Pres. Paul Kruger en wêreldwyd bekend en gesog onder muntversamelaars. Teen 1980 het Krugerrande meer as 90% van die wêreld se muntmark beslaan en was dit die gesogste wyse waarop beleggers goud gekoop het.
- Remgro
Die maatskappy Remgro – met belange in die bankwese, finansiële dienste, verpakking, glasprodukte, mediese dienste, mynbou, petroleum, voedselproduksie en menige ander industrie – is in 2015 as die negende grootse publiekverhandelbare maatskappy in Suid-Afrika gelys en die 1 436ste ter wêreld. Die maatskappy het ontstaan uit Voorbrand Tabak, wat in die 1940s deur dr. Anton Rupert in Afrikaans gestig is.
- Eerste hartoorplanting
Die wêreld se eerste mens-tot-mens-hartoorplanting is op 3 Desember 1967 deur dr. Chris Barnard uitgevoer. Barnard het ’n dekade se ervaring as kardioloog gehad voordat hy en ’n span van dertig – onder wie sy broer Marius Barnard – op dié dag die eerste suksesvolle oorplanting gedoen het. Die pasiënt, Louis Washkansky, het vir 18 dae ná die operasie geleef voordat hy weens longontsteking gesterf het.
- WWF
Anton Rupert was een van die stigters van die World Wildlife Fund (WWF), die grootste bewaringsorganisasie ter wêreld met meer as 5 miljoen ondersteuners wat in 100 lande werksaam is.
- Eerste MBA buite Amerika
Die eerste MBA-program buite Noord-Amerika is aan die Universiteit van Pretoria ontwikkel en vir die eerste keer in 1949 aangebied – in Afrikaans.