Afrikaans 100 – Taalheldin 3 – Maria Elizabeth Rothmann (M.E.R.)
Tans herdenk ons die eerste honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal in die land. Maria Elizabeth Rothmann, beter bekend as M.E.R., was een van die Afrikanervroue wat die grootste bydrae gelewer het om Afrikaans as geskrewe en gesproke taal te vestig. Sy het ook ’n reuse rol in die kultuurgeskiedenis van Afrikaners gespeel.
M.E.R. is op 28 Augustus 1875 op Swellendam as die jongste van nege kinders gebore. Haar pa is oorlede toe sy maar net nege maande oud was en haar moeder moes die gesin met groot moeite en opoffering versorg. Dit was die hoogbloeijare van die Victoriaanse tyd en volgens die gewoonte van die omgewing het M.E.R. en haar sibbe in Engels skoolgegaan. Sy was ’n skrander student wat beurse verwerf het en in 1896 ’n BA-graad in Filosofie en Letterkunde met lof aan die destydse South African College (nou die Universiteit van Kaapstad) behaal het. In daardie stadium was daar nog bitter min vroue wat aan ’n universiteit kon studeer. Die eerste toetslopie om vroue toe te laat, is maar eers in 1886 deur die universiteit onderneem.
M.E.R. het haar loopbaan as onderwyseres begin. Ná sy haar graad behaal het, is sy na Johannesburg in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) om by haar broer Frits en suster Annie (ook ’n onderwyseres) aan te sluit. Hier het sy onder andere vir president Paul Kruger ontmoet. HIerdie tydperk in die republiek het haar diep onder die indruk van haar Afrikanerskap gebring en haar liefde vir Afrikaans laat ontwaak.
Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek, het Frits op kommando gegaan, terwyl sy en Annie na die Kaap teruggekeer het. Hulle was uitgesproke Boere-ondersteuners en sy het byvoorbeeld ’n borsspeldjie van die ZAR se Vierkleur gedra. Hierdie sentiment het tot gevolg gehad dat die susters nie aanstellings in staatskole kon kry nie en dat hulle hulle loopbane in privaatskole moes voortsit.
Van iemand wat selfs in korrespondensie met gesinslede net Engels gebruik het, het M.E.R. in ’n taal- en kultuuraktivis verander en ’n bydrae op soveel terreine gelewer, dat hierdie artikel te kort is om alles te noem.
Vandag word sy veral as skrywer onthou. Een van haar bekendste werke is die verwerking van haar broer Frits se oorlogsdagboek wat in 1947 onder die titel Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde deur Frederik Lindenberg Rothmann verskyn het en ’n kosbare blik op die lewe in die Transvaal bied. Haar eerste boek was egter vir kinderlesers – Kinders van die Voortrek is in 1920 gepubliseer. Dit was grotendeels gebaseer op die vertellings van bejaardes wat self die Groot Trek beleef het. Daarbenewens was daar ’n massa jeuglektuur, kortverhale, novelles, romans, vertaalde publikasies en nie-fiksie. Sy het in haar romans vir volwassenes nie gehuiwer om omstrede onderwerpe soos egskeidings en huwelike oor kultuurgrense heen aan te pak nie. In 1953 is die Hertzogprys aan haar toegeken vir die volle omvang van haar prosawerke.
Dit is merkwaardig dat sy in ’n stadium voor 1910 as fotograaf ’n inkomste verdien het – nog ’n terrein waarop min mense in daardie jare werksaam was. Frits het haar gehelp om haar eie donkerkamer vir die ontwikkeling van die foto’s te bou.
As joernalis was sy eweneens ’n baanbreker. Na haar moeder se dood het sy in 1917 na die Laeveld verhuis en van daar bydraes aan die nuutgestigte tydskrif Die Boerevrou gestuur. Die gehalte daarvan het die redaktrise, Mabel Malherbe, beïndruk en gevolglik het sy M.E.R. ’n tydelike pos as joernalis in Pretoria aangebied. Van 1920 tot begin 1922 was sy hier werksaam, maar die tydskrif het finansiële probleme ondervind en gevolglik moes sy Kaap toe verhuis. Van Maart 1922 tot 1928 het sy vervolgens op die redaksie van Die Burger gedien, waar sy as eerste redaktrise van die vroue-afdeling aangestel is. Sy het ook groot insette vir die vroue- en kinderafdelings van Die Huisgenoot gelewer.
Die Afrikaner-gemeenskapslewe en -welstand het haar lewenslank na aan die hart gelê. In 1917 het sy byvoorbeeld by die Afrikaanse Christen Vrouevereniging (ACVV) aangesluit en in 1923 was sy een van die stigters- en bestuurslede van die Nasionale Vroueparty, wat in die lewe geroep is om veral vrouestemreg te bevorder. Sy het deur die jare verskeie leiersposisies in beide instellings beklee. In 1925 was sy ook een van die stigters van die organisasie Handhawers van die Afrikaanse Taal. Die fokus daarvan was onder meer om aan te dring op die reg om oral Afrikaans te mag praat en Afrikaanse diens in besighede te kry.
M.E.R. het heelwat gedoen om bewusmaking oor die omvang van die armblanke-probleem in die land te skep. In 1928 was sy die enigste vrou wat in die Carnegie-kommissie aangestel is om die omvang van dié armoede te bestudeer en daaroor verslag te lewer. Haar bydrae tot die verslag, getiteld Die moeder en die dogter van die arm gesin, is wyd as besonder betekenisvol geloof. In April 1938 het sy en haar dogter Anna ook die Verenigde State van Amerika op uitnodiging met ’n Carnegie-beurs besoek en armoedekwessies in Kentucky vergelykend bestudeer.
M.E.R. is op 7 September 1975, tien dae na haar honderdste verjaarsdag, in haar huis in Swellendam oorlede. Benewens die Hertzogprys, is haar werk deur die jare met verskeie ander eerbewyse bekroon. In 1973 het die Universiteit van Suid-Afrika selfs ’n eredoktorsgraad in Letterkunde aan haar toegeken. Haar bydrae om bewusmaking oor ons taal en kultuur te skep, maar ook om praktiese oplossings vir die ontwikkeling van verarmde Afrikaners te probeer vind, saam met haar skryfwerk en baanbrekersrol as vrou regverdig dat ons haar nagedagtenis opnuut in Afrikaans se eeufeesjaar moet herdenk.