Alles wat jy moet weet oor Suid-Afrikaanse paspoorte
Deur Breytenbachs Immigration Consultants
Breytenbachs Immigration Consultants ontvang baie navrae van Suid-Afrikaners oor paspoorte. Ons Suid-Afrikaanse immigrasiekonsultante het dus ’n vraag-en-antwoordgids vir Suid-Afrikaners saamgestel oor hierdie kwessie. As jy meer inligting hieroor nodig het, kontak gerus vir AfriForum Wêreldwyd of Breytenbachs.
Kan ek oorsee aansoek doen vir my SA-paspoort?
Dit is moontlik om oorsee aansoek te doen vir jou paspoort. Jy kan dit by die naaste Suid-Afrikaans verteenwoordigende kantore oorsee doen. In die VK kan dit deur die VFS-kantore gedoen word.
Aansoekers moet die nodige relevante dokumente verskaf, bv. geboorte- en/of huweliksertifikate en die brief van behoud van burgerskap as hulle burgerskap van ander lande het.
Moet ek my SA-paspoort gebruik om Suid-Afrika binne te kom en te verlaat?
Die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap bepaal dat enige persoon wat die reg het om gebruik te maak van ’n Suid-Afrikaanse reisdokument (paspoort), Suid-Afrika met hul Suid-Afrikaanse paspoort moet binnekom en verlaat. As ’n persoon nalaat om dit te doen, word dit beskou as ’n strafbare oortreding.
Reisigers met dubbele burgerskap (SA en die VK) moet met albei paspoorte reis aangesien hulle die VK met hul VK-paspoort moet binnegaan as bewys dat hulle die reg het om die VK binne te kom.
Wat is die kriteria om vir ’n nuwe SA-paspoort aansoek te doen?
Aansoekers moet die nodige relevante dokumente verskaf, bv. geboorte- en/of huweliksertifikate en die brief van behoud van burgerskap as hulle burgerskap van ander lande het.
Kan ek my SA-paspoort hernu?
’n Mens kan nie ’n SA-paspoort hernu nie. Wanneer dit verval het, moet jy vir ’n nuwe paspoort aansoek doen.
Die Suid-Afrikaanse owerhede bepaal dat jou paspoort geldig moet wees vir ten minste 30 dae ná die beplande vertrekdatum. Die paspoort moet ook ten minste twee skoon bladsye hê vir aankomsstempels. Die leë bladsye sluit die endossementbladsye uit.
Dit is egter belangrik om in ag te neem dat sommige lande vereis dat jou paspoort vir drie of ses maande ná jou beplande reisdatum geldig moet wees. Aangesien hierdie vereistes van land tot land verskil, raai ons jou aan om met jou reisagent of lugredery te gesels vir raad.
Kan ek aansoek doen vir ’n paspoort met meer bladsye?
’n Gewone SA-paspoort bevat 32 bladsye. Mense wat gereeld reis kan egter aansoek doen vir ’n maxi-paspoort met 48 bladsye.
Kan iemand my SA-paspoort vir my gaan afhaal?
Derde partye mag nie ’n SA-paspoort namens iemand anders gaan afhaal nie. ’n Paspoort kan ook nie per koerier na ’n persoon wat daarvoor aansoek doen gestuur word nie. Die Suid-Afrikaanse owerhede het hierdie reël in 2022 ingestel om bedrog op SA-paspoorte te probeer bekamp.
In die geval van minderjarige kinders is die ouers of voogde wat vir die paspoort aansoek gedoen het die enigste persone wat toegelaat sal word om die paspoort af te haal, en hul vingerafdrukke word hiervoor benodig.
Lees ook: 106 countries you can travel to visa-free with a South African passport in 2023
Deel op
Nuutste artikels