deur Alana Bailey
Soos die DNS in ons liggame, is erfenis ons geestelike DNS. Dit bevat inligting oor wie ons is, waar ons vandaan kom en waarom ons sekere maniere van doen, tradisies en waardes het. Erfenis gee kontinuïteit en standvastigheid in ’n wêreld wat vinnig verander ‒ ook wanneer ons tydelik of permanent emigreer. Dit herinner ons dat ons in ’n bepaalde familie en gemeenskap tuishoort, wat ook al ons huidige adres mag wees.
Hoe behou ’n mens egter jou erfenis op ’n sinvolle manier, terwyl jy ook by jou nuwe fisiese tuiste se kultuur en erfenis inskakel?
Hierdie proses moet eintlik al begin voor ’n mens verhuis, naamlik wanneer jy kies wat om in te pak en saam te neem. Soms is dit die kleinste goedjies wat die grootste betekenis inhou en vir jou en jou familie ’n storie oordra wat onvervangbaar is. Foto’s is natuurlik vanselfsprekende herinneringe wat ingepak kan word en dit kan selfs digitaal saamgeneem word om plek en gewig te bespaar, maar wat is daardie enkele vreemde items wat die deur na die skatkamer van jou geheue oopsluit en nie moet agterbly nie?
In my huis is ’n klip wat as ’n deurstop benut word. Dit was ’n maalklip wat gevind is op my ouma en oupa se plaas in die Oos-Kaap in die 1920’s toe hulle saam daar begin boer en kinders grootmaak het. Ouma het dit daar gebruik om die kombuisdeur oop te hou. In die 1960’s het hulle nader aan hulle kinders in die destydse Transvaal verhuis en die klip het saamgekom en hulle voordeur oopgehou. Oupa is in die 1970’s en Ouma in die 1980’s oorlede en die klip het na my ouerhuis gekom en die kamerdeur oopgehou. Vandag is my ouers beide oorlede en die klip hou my voordeur oop. Ek sien dit en ek onthou huise en mense wat ek geken en liefgehad het. Ek herleef laatnag kuiers in die ligkring om eetkamertafels,die saam lag en huil. Maar vir ander mense is dit … net ’n klip. So het elke huishouding seker ’n item of twee wat stories uit die geheue oproep – ’n wakis wat tydens die Groot Trek gebruik is, ’n bord wat die Anglo-Boereoorlog oorleef het, ’n dooprokkie wat van geslag tot geslag aangegee word, ’n Familiebybel, ’n sakhorlosie.
Besluit wat daardie goed in jou familie is wat moet saamgaan om van jou nuwe huis ’n tuiste te maak – as verlange toeslaan gaan dit nie noodwendig die goed met die grootste monetêre waarde wees wat troos nie, maar juis dit met die grootste sentimentele waarde.
Wanneer hierdie goed uitgepak is, is dit ook nodig dat die nageslag die stories wat daaraan gekoppel is, ken, anders is en bly dit ook vir hulle net voorwerpe. Dalk word hulle groot in ’n omgewing wat só anders is dat die hitte van die Kalahari, ’n donderstorm in Pretoria se pers jakarandastrate in Oktober, of ’n nat Kaapse winter vir hulle moeilik is om te verbeel, maar met die oorvertel word dit tog lewendig in hulle gedagtes.
In die 1990’s het ek Jeremy, ’n pragtige jong man uit Australië ontmoet. Sy oupa was ’n Suid-Afrikaner wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, ’n Australiese verpleegster ontmoet het en met haar getroud is. Die oom het nooit na Suid-Afrika teruggekeer nie, maar hy het sy dogter en later sy kleinseun (Jeremy) met stories oor Suid-Afrika grootgemaak. Die oom het met tarentale geboer en Jeremy sê hy was die enigste outjie in sy klas op skool wat soms hardgekookte tarentaaleiers in sy kosblik gehad het! Uiteindelik is sy oupa oorlede, maar Jeremy het hom in ’n mediese beroep bekwaam en in Suid-Afrika kom werk.
Ons weet nooit waar ons kinders en kleinkinders se paaie hulle heen sal lei nie, maar as ons die erfenis van hulle voorvaders lewendig hou in hulle harte, mag dit dalk net eendag ’n unieke tuiskoms vir hulle beteken.
Al kom hulle ook nooit terug na die suidpunt van Afrika nie, sal die kennis oor hulle voorgeslagte steeds deel wees van die kleurryke tapisserielandskap van hulle verlede wat hulle weer met hulle kinders kan deel.
’n Paar wenke oor hoe ’n mens jou erfenis kan bewaar:
- Sorg dat jy tasbare spore nalaat. Ons leef in ’n tyd wat briewe, dagboeke, koerante en boeke plek maak vir e-pos, WhatsApp-boodskappe en publikasies in die kuberruim. Een klik van die knoppie en dit kan verdwyn. Doen moeite en skryf nog nou en dan ’n brief, poskaart of dagboekinskrywing.
- As daar ’n erfenisbaken is wat baie vir jou beteken, steun dit met ’n finansiële bydrae – selfs die kleinste bedraggie kan ’n verskil maak.
- Sorg dat al jou foto’s “ontsluit word”, met ander woorde dat jy daarop skryf waar en wanneer dit geneem is en wie almal daarop verskyn.
- Bou ook aan nuwe tradisies, soos om deel te neem aan historiese feeste in jou nuwe omgewing en om die geskiedenis daaragter te leer ken. Ontdek die museums, standbeelde en monumente in jou omgewing. Die nuwe tuiste is nou vir altyd deel van jou gesin se verhaal en dit is nodig om dit ook te vier. Om die nuwe te geniet en waardeer, beteken nie dat jy die oue hoef af te skryf nie.
- Enigeen kan erfenis bewaar – iemand met min tyd maar baie bates kan dalk geld skenk, iemand anders met tyd maar min bates kan dalk help om ’n terrein of monument in stand te hou. Selfs iemand wat huisgebonde is, kan bydra met die oorvertel van staaltjies en herinneringe.
- Hoëre denke en dade is nodig, soos om te besin oor wat ons uit ons erfenis kan leer en te prioritiseer wat ons moet bewaar, maar selfs die mees eenvoudige daad soos om ’n volksverhaal aan ’n kind oor te vertel of met ’n familieresep te bak en brou vir Kersfees, is ’n manier waarop ons ons erfenis vier en dit laat voortleef.
Op hierdie wyses omskep erfenis die verlede en die hede in ’n avontuur wat ouers en kinders saam kan ontdek of selfs die solo-immigrant op sy of haar eie – soms met video’s, foto’s, vertellings en boeke, ander kere in persoon. Geniet die reis deur tyd en afstand. Dit sal aan jou skatte besorg wat nie met geld gekoop kan word nie!
Foto: toa-heftiba-unsplash