Hoewel verhuurders verplig word om die totale inkomste wat deur die verhuring van hul eiendom verkry word te verklaar, is daar wel sommige aftrekkings wat gedoen kan word, soos byvoorbeeld ’n niekapitale uitgawe. ’n Verhuurder word genoodsaak om uitgawes aan te gaan gedurende die tydsperiode wat die eiendom verhuur word. Indien die niekapitale uitgawes van die verhuurder se belastingopgawe afgetrek word, sal die belasbare inkomste verminder word en die verhuurder moontlik in ’n laer belastinggroep plaas, wat tot sy voordeel sal wees.
Voorbeelde van aftrekbare (niekapitale) uitgawes sluit die volgende in:
- Verhuringsagent se kommissie of fooie vir sy moeite om ’n huurder te vind.
- Advertensiekoste om die eiendom te bemark.
- Versekeringsfooie, heffings, munisipale tariewe, water en elektrisiteit.
- Rente betaalbaar op die huislening indien van toepassing.
- Skoonmaakkoste, tuindienste en sekuriteit.
- Indien die eiendom gemeubileerd is kan die depresiasie van die meublement se waarde, afgetrek word.
- Regsfooie aangegaan weens dispute met huurders – dit sluit die uitsetting van huurders in.
- Herstelwerk en onderhoudskoste – dit sluit nie verbeteringe aan die eiendom in nie.
Uitgawes wat as kapitaal van aard beskou word kan nie afgetrek word nie. Dit sluit enige uitgawes in wat aangegaan word terwyl die eiendom gerestoureer word of aanbouings plaasvind. Indien die huurder van die eiendom af getrek het en die verhuurder besluit om herstelwerk aan die huis te verrig om dit te verkoop, mag hierdie uitgawes nie afgetrek word nie omdat dit nie plaasgevind het terwyl die huurder op die eiendom woonagtig was nie. Hierdie uitgawes is aftrekbaar tydens die verkoop van die eiendom en sal die kapitale wins verlaag.
Indien die totale aftrekkings die huurinkomste wat deur die verhuurder ontvang word oorskry en hy vervolgens ’n netto huurverlies verklaar, bevat die Wet op Inkomstebelasting ’n gereserveerde bepaling wat ’n rol kan speel afhangende van die omstandighede. Indien die bepaling wel toegepas word, sal die verhuurder nie in staat wees om sy verhuringsverliese te verreken teen die inkomste wat van ander bronne ontvang is nie.
Indien die verhuurder besluit om nie belasting op huurinkomste te betaal nie, kan hy in groot moeilikheid beland. Verhuringsagente is verplig om ’n rekord van die huurinkomste wat ontvang is en aan die verhuurder oorbetaal is aan die SAID te verskaf. Die SAID vind dit gevolglik baie maklik om enige teenstrydighede in die verhuurder se belastingopgawe op te spoor.
Alle huurinkomste moet in die verhuurder se belasbare inkomste ingesluit word. Deur dit egter met die relevante besteding te verminder, word die verhuurder gehelp om die hoeveelheid geld wat sy sak verlaat te verminder.
Kontak die belastingkonsultant Fanus Jonck met al jou belastingnavrae (fanus@jonck.net).