Deur Angie Grobler
Ons woon al vyf jaar in Auckland, Nieu-Seeland. Onlangs het ons besluit om weer ‘n slag Rotorua toe te gaan. Dit is so twee en ‘n half uur se ry van waar ons bly en net ‘n klipgooi van die dorpie Taupo met sy reusemeer en Hobbiton waar Lord of the Rings verfilm is.
‘n Mens gaan gewoonlik Rotorua vir vermaak en kort vakansies. Die Skyline Rotorua, waar jy met yssleë van die berg af kan ry en die restaurant en vele ander aktiwiteite vir mense wat nie bang is om van die berg af te spring nie, is seker Rotorua se grootste trekpleister, maar ons het dit al ‘n paar keer gedoen. Dié keer het ons besluit om iets anders as die gewone te doen, en dit was die lekkerste langnaweek ooit!
Natuurlik moes die manne op pad Rotorua toe eers by Hampton Downs net buite Auckland stop om eers gou met ‘n go-kart om die baan te jaag.
Rotorua is op sigself ‘n besienswaardigheid. Daar is die mooiste, aktiewe, natuurlike spuitbron in die dorp wat soggens om 10:00 spuit. Soos jy ry, sien jy die stoom uit mense se erwe trek. Dit lyk amper soos Craters of the Moon in die buurdorp Taupo. Die Buried Village is historiese terrein in Rotorua waar die vulkaan die mooiste waterpoele, wat baie jare deur mense gebruik is, verwoes het. Daar is baie mooi strome en watervalle op die perseel, seker waar die baddens was.
Hier onder is ‘n foto van een van die mooi geboue in die Government Gardens. Ons was ook by die 3D Trick Art Gallery waar jy in al die lewensgrootte foto’s teen die mure staan. Dit was nou interessant! Daar is ook ‘n diereplasie op dieselfde perseel.
Ek wou ook nog altyd met die karretjies op die treinspoor gery het, en wat ‘n mooi uitsig met kranse aan die een kant het ons nie geniet nie. Ons kon tot die Rotorua-meer in die verte sien.
‘n Ander hoogtepunt was die interaktiewe Bibleworld-museum en ontdekkingsentrum. Dit is oor amper 20 jaar deur die eienaars gebou en is regtig wêreldgehalte.
Die Distinction Rotorua Hotel het pragtige dekor en bied kwaliteitdiens vir ‘n appel en ‘n ei. Daar is haarkappers, speletjiekamers, warmwaterswembaddens buite en ‘n restaurant in die hotel – meer as wat baie ander hotelle bied. Ons het heerlik in die Polynesian Spa se natuurlike warmwaterpoele oor die Rotorua-meer gesit en uitgekyk.
Dit is die soort vakansie wat jy nêrens anders as in Nieu-Seeland sal beleef nie. Ek is gek oor Rotorua al ruik die plek soms snaaks as gevolg van die natuurlike bronne. Dis ‘n reuk wat sê ons is uniek!