Al wat oorbly – Santie van der Merwe
Julia Meiring het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was. Haar pa is dadelik weer getroud, en sy is deur ’n ongenaakbare stiefma grootgemaak wat byna die teenoorgestelde was van haar liefdevolle ma. Die stiefma het feitlik al haar aandag aan haar laatlammetjie gewy.
Julia vind die liefde van haar lewe in haar buurman, Wynand du Toit. Hy is ‘n geskeide man, en die pa van twee kinders maar Julia laat haar deur die verhouding meesleur, want Wynand se kinders woon in die Kaap by hul ma, en sy kan hulle heeltemal vermy.
Omstandighede dwing Wynand se eks en haar gesin terug Gauteng toe, en Julia verbreek summier hulle verhouding. Sy sien nie kans om ʼn ma te wees nie, en nog minder ʼn stiefma.
Haar drakoniese stiefma sterf, en Julia besef weer eens hoe min sy van haar eie ma weet. Sy probeer ʼn beeld van haar ma saamflans uit die herinneringe wat haar veel ouer sibbe half onwillig met haar deel. Stadig maar seker besef sy dat haar ma nie ʼn engel was nie, dat haar stiefma nie inherent boos was nie, en dat sy dalk vir Wynand weer ’n kans moet gee.
Al wat oorbly is Santie van der Merwe se sesde roman. Wat maak die boek anders?
- Die roman spreek die dilemma van ’n jong vrou aan wat moet besluit of sy haar verhouding met ’n geskeide man, én sy twee kinders, wil voortsit.
- Die hoofkarakter moet diep in haar verlede delf om ten volle te verstaan waarom sy teë is daarop om kinders te hê.
- Vergifnis en die delikaatheid van verhoudings is ’n deurlopende tema.