Reine Duvenage word geteister. Die sluipjagter speel met haar, maak haar bang en geniet haar vrees. Sy soek hulp, maar ander lag vir haar.
Uiteindelik word sy wreed aangeval. Nou lag niemand meer nie, veral nie toe dit blyk dat die wreedaard moontlik steeds aktief is nie.
Hoe leef ’n vrou met die wete dat daar ’n man rondsluip wat beloof het om haar leed aan te doen? Hoe begin ’n mens oor?
Onder ’n vals naam probeer Reine weer, maar haar poging om anoniem te bly, word bemoeilik toe ’n aantal mans uit haar verlede onverwags in die dorp opdaag waar sy skool hou. Hoekom nou? Is daar ’n rede voor?
Toe die tekens van die sluiper se nabyheid weer al hoe duideliker word, moet Pieter Taljaard, die speurder, alles doen om dié keer nie die te fouteer nie, want almal weet dat Reine nie ’n tweede keer sal kan ontsnap nie.
Watter een van hierdie mans was dit wat haar laas aangeval het? Of staar sy al weer haar vrees in die gesig en nie die werklikheid nie?
Hierdie keer lag niemand vir haar nie, maar hoe kan sy beskerm word teen ’n gesiglose persoon wat aan niemand bekend is nie?
Kan Taljaard, ’n gewone, feilbare mens, die regte inligting kry uit die polisie se ewe feilbare stelsels?
Bets Smith skep opsetlik gewone mense. Ja, Reine is mooi, maar sy is ’n plaasmeisie soos baie ander wat deelneem aan kompetisies op universiteit. Die res van die karakters is mans en vroue wat ons ken, juis daarom is hierdie boek soveel meer kloustrofobies. Dit kan met enige een gebeur.
Smith het dalk té lank in ander se skaduwees beweeg, maar stil-stil het sy reeds meer as 100 000 Afrikaanse boeke verkoop. Hierdie boek wys dat sy met groot honde kan draf.
Bets is getroud met Pieter Smith en hulle bly in Witrivier, daarom is die laeveld van Mpumalanga so ’n belangrike ruimte is in haar boeke.