Boerebande in verre lande 2: Millicent Fawcett – teenstander van konsentrasiekampvergrype
Op 24 April 2018 is ’n standbeeld op Parlementsplein in die hartjie van Londen onthul om hulde te bring aan ’n vrou wie se naam minder bekend mag wees, maar wat soos Emily Hobhouse haar bemoei het met die wel en weë van Boerevroue en -kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Sy was Millicent Fawcett (née Garrett).
Sy is op 11 Junie 1847 in Aldeburgh, Engeland, as agtste van tien kinders gebore. Haar pa was Newson Garrett, ’n sakeman, en haar ma, Louisa (née Dunnell). Die Garretts het hulle kinders van jongs af aangemoedig om wyd te lees en ’n belangstelling in politieke gebeure te ontwikkel. Millicent se suster Elizabeth was die eerste vrou wat amptelik in Brittanje as mediese dokter en sjirurg gekwalifiseer het en sy het waarskynlik vir Millicent aan diegene wat vir vrouestemreg gewerk het, bekendgestel. Die gevolg was dat laasgenoemde ’n sleutelfiguur geword het in die stryd om stemreg vir vroue in Brittanje te verkry. In 1897 het sy ’n groep genaamd die Nasionale Unie vir Vrouestemreg Verenigings (National Union of Women’s Suffrage Societies) tot stand gebring. Hulle strategie was om bewusmaking en oorreding te gebruik met optogte, baniere, petisies en briewe aan meningsvormers, maar nie geweld soos ander groepe nie.
Dit was ’n opdraande stryd en eers na afloop van die Eerste Wêreldoorlog het enkele Britse vroue die eerste keer die reg gekry om te stem. Tien jaar later, in 1928, is wetgewing aangepas om te bepaal dat vroue en mans op presies dieselfde wyse vir stemreg sou kwalifiseer. ’n Jaar later is Millicent oorlede met die wete dat haar werk nie verniet was nie.
Sy het die titel “Dame” ontvang en word onder meer ook onthou vir die rol wat sy gespeel het in die ontstaan van Newnham Kollege by Cambridge Universiteit – een van die eerste universiteitskolleges in Engeland waar vroue kon studeer.
Wat haar rol tydens die Anglo-Boereoorlog aanbetref, is dit van belang om te weet dat Millicent in 1901 afgevaardig is as leier van ’n komitee dames wat ondersoek moes instel na Emily Hobhouse se bewerings oor die onmenslike toestande waaronder Boerevroue en -kinders in Britse konsentrasiekampe aangehou is. Die komitee moes die Britse regering oor hulle bevindings en aanbevelings inlig. Dit was die eerste keer wat Britse vroue in oorlogstyd met só ’n belangrike opdrag toevertrou is. As deel van hulle verpligtinge moes hulle soveel kampe as moontlik besoek. Die uiteinde was hulle Emily se kritiek as geregverdig bevind het en optrede teen die mishandeling van die aangehoudendes geëis het. Anders as Emily, was Millicent nie ’n Boeregesinde nie, maar weens haar ingesteldheid op regverdigheid en vroueregte het sy kampkommandante vir hulle swak gedrag en bestuur verantwoordbaar probeer hou. Op grond van die komitee se aanbevelings is verbeteringe aan die bestuur van konsentrasiekampe aangebring en gevolglik het die sterftesyfers daar begin afneem.
Nog ’n band met Suid-Afrika, hoewel nie met die Boere nie, spruit voort daaruit dat sy vier van haar niggies en neefs na hulle ouers se dood help grootmaak het. Een van hulle was Elsie Rice (gebore Garrett, 1869-1959) wat haar later in Kaapstad kom vestig het en bekendheid as botaniese kunstenaar verwerf het.
Millicent is op 5 Augustus 1929 in London, Engeland oorlede. Sy was die eerste vrou vir wie die eer te beurt geval het dat ’n standbeeld vir haar op Parlementsplein opgerig is. Die plein is in 1868 geskep en sedertdien is twaalf standbeelde van toonaangewende politieke rolspelers van Brittanje, die Britse Statebond en elders hier opgerig. Hulle is Winston Churchill, David Lloyd George, Henry John Temple, Edward Smith-Stanley, Benjamin Disraeli, Robert Peel, George Canning, Abraham Lincoln, Mahatma Gandhi, Millicent en nog twee Suid-Afrikaners, Jan Smuts en Nelson Mandela.
Die beeld hou ’n banier vas met die leuse “Courage calls to courage everywhere”. Die name en afbeeldings van 59 vroue en mans wat hulle ook vir stemreg beywer het, is om die basis van die standbeeld gegraveer.
Besoekers aan Londen kan gerus na Parlementsplein gaan en weer die moed en pogings van vroue soos Emily en Millicent om vir vreemdes op ’n ander kontinent se beskerming voorspraak te doen, in herinnering roep.