Brief: Emigrante moet na hul geestesgesondheid omsien vóór hulle verhuis
deur Charl Fourie
Suid-Afrikaners van regoor die wêreld het met skok, medelye en verslaentheid gereageer ná die gesinstragedie wat verlede week in Timaru, Nieu-Seeland, afgespeel het.
Die tweejarige tweeling, Karla en Maya Dickason, en hul sesjarige sussie, Liane, is Vrydag dood in hul huis aangetref.
Die Nieu-Seelandse koerant die NZ Herald het berig die familie en vriende van die Dickason-gesin is sprakeloos en te verslae om te verstaan wat tot die tragiese gebeure aanleiding gegee het. Die Dickason-egpaar, drr. Graham Dickason, ’n ortopedis, en sy vrou Lauren, ’n algemene praktisyn, en hul kinders het in Augustus na Nieu-Seeland geëmigreer en twee weke in kwarantyn deurgebring voordat hulle na hul nuwe tuiste is.
Lauren is kort ná die drie dogtertjies se dood gearresteer en van moord aangekla.
’n Nieu-Seelandse regter het beslis dat ’n verslag oor Lauren se geestesgesondheid opgestel moet word. Ongelukkig sal ons tot Lauren se volgende hofverskyning op 5 Oktober moet wag om uit te vind wat tot die hartseer gebeure gelei het.
Die tragedie het opnuut die aandag op die sielkundige aspek van immigrasie gevestig. Niemand sal my ooit oortuig dat emigrasie maklik is nie. Ek weet, want ek het dit ook gedoen. Emigrante ondervind dikwels uitdagings om in hul nuwe lande aan te pas. Hulle moet ’n gevoel van afskeid van Suid-Afrika, hul vriende en familie te bowe kom en terselfdertyd in ’n totaal nuwe omgewing aanpas. Dit kan mense insluit wat heeltemal anders as jy is, totale vreemdelinge met nuwe gewoontes, verskillende klimaatstoestande, kos, radiostasies, aksente, geure en so kan die lys aanhou.
Verder moet hulle dikwels in ’n tweede of derde taal kommunikeer. Baie moet ook gedeeltes van hul professionele kwalifikasies oordoen en onder begin ná ’n suksesvolle loopbaan in Suid-Afrika. Dit gaan dikwels ook met ’n finansiële terugslag gepaard.
Dit is moeilik om ’n ekspat te vind wat nie ten minste ’n paar verhale oor traumatiese gebeurtenisse kan vertel nie wat met hulle of hul gesinne gebeur het en wat ’n impak op die emosionele kant van emigrasie gehad het.
Om vir emigrasie te beplan, is geen maklike taak nie. Jy moet ’n land, staat, dorp of voorstad kies, ’n werk kry, talle dokumente voltooi, reëlings tref rondom visums, verblyf, vervoer, finansies, siekefondse, troeteldiere en voorberei vir die IELTS (International English Language Testing System), om maar net ’n paar te noem.
Min Suid-Afrikaners beplan hoe hulle hul geestesgesondheid gaan beskerm wanneer hulle in ’n nuwe land aankom.
Ek wil argumenteer dat dit ’n mens se vertrekpunt moet wees wanneer jy met die emigrasieproses begin. Jy en jou gesin sal ’n veerkragtige en positiewe ingesteldheid moet hê om die proses deur te sien. So wat kan jy doen? Verstaan jou en jou gesin se geestesgesondheid-uitdagings voor julle vertrek. Kry professionele hulp indien nodig. En behandeling indien nodig. As jou emigrasie-agent bekommerd is dat jou geestesgesondheid jou kanse kan belemmer om aan die vereistes vir ’n visum te voldoen, bespreek dit met hom of haar. Die meeste lande is net besorg oor omstandighede wat hul openbare gesondheid bedreig en noemenswaardige kostes vir gesondheidsorg en gemeenskapsdienste tot gevolg kan hê, of wat druk op die dienste kan plaas waaraan daar ’n tekort is.
My hoofdoel met hierdie skrywe is om jou te help om gebeurlikheidsplanne in plek te hê wanneer jy in jou nuwe land aankom. Dit gaan jou geestesgesondheid uitdaag. Daar sal goeie en slegte verrassings wees in jou nuwe land. Wanneer julle arriveer is dit belangrik om die regte dinge te doen: Eet gesond, oefen en vestig so gou as moontlik ’n goeie slaappatroon. Maak seker jy identifiseer potensiële vriende en sosiale ondersteuningsnetwerke lank voor jy Suid-Afrika verlaat. Sosiale media soos Facebook kan ’n goeie begin wees om nuwe verbintenisse te vorm. Ekspats sal weet waardeur jy gaan en jy sal verstom staan oor hul bereidwilligheid om jou en jou gesin by te staan. Maak vriende met gesinne wat kinders het wat min of meer so oud soos joune is. Weer eens, probeer dit doen voordat jy die land verlaat en laat jou kinders ook aanlyn met potensiële vriende kontak maak. Probeer ook om vriende te maak met individue wat aan die dieselfde kultuur en gemeenskap as jy gaan behoort. Hierdie kwessies is baie belangrik om by jou nuwe omgewing in te skakel.
Verder kan jy so gou moontlik ná jou aankoms in die nuwe land aansluit by ’n klub, ’n kerk of gemeenskapsgroep. Hierdie groepe kan uitstekende emosionele ondersteuning bied. Probeer ook om so gou moontlik ’n mediese ondersteuningspan te identifiseer ná jou aankoms. Maak seker jy identifiseer ook geestesgesondheidspraktisyns.
Ek woon in Australië en daar kleef nie dieselfde stigma aan geestesgesondheid soos jare gelede toe ek nog in Suid-Afrika gewoon het nie.
Ek weet dat geestesgesondheidskwessies nie in Nieu-Seeland, die VSA, Brittanje en Europa gestigmatiseer word nie. Niemand in hierdie lande sal anders na jou kyk indien jy ’n sielkundige besoek nie. Maak ook seker dat jy weet wat die hulplyn-nommer in jou nuwe land is en stel dit ook aan jou kinders beskikbaar as hulle oud genoeg is. Lig diegene wat in die nuwe land na jou kinders gaan omsien of met hulle gaan werk in dat julle immigrante is en dat hulle ook ’n wakende oog oor die kinders se geestesgesondheid moet hou.
Indien jy voorgeskrewe medikasie vir jou geestestoestand gebruik wat wettig deur ’n geregistreerde dokter of mediese praktisyn voorgeskryf is, moet jy dit saamneem wanneer jy na die nuwe land verhuis. Vra jou immigrasie-agent se raad en hulp hiermee sodat jy die wette rondom die administrasie van terapeutiese middels in die betrokke land kan verstaan. Die meeste lande sal jou toelaat om ’n voorraad voorgeskrewe medikasie vir tot drie maande die land in te bring. Dra altyd die voorskrif van jou dokter by jou wat uitstippel hoe die medikasie gebruik moet word. Gaan maak ook seker op die webtuiste van die departement van binnelandse sake van jou nuwe land watter lys van medikasie by die grens verklaar moet word. Alle medikasie wat moontlik tot misbruik kan lei, moet verklaar word. Maak seker by jou immigrasie-prokureur indien jy onseker is.
Onthou, jy is nooit alleen nie en kan uitreik om hulp te kry. Jy sal aangenaam verras wees oor hoeveel liefde en omgee daar rondom jou in jou nuwe land is.
Groete
Charl Fourie
Kliniese sielkundige
Windsor Allied Health
Tasmanië
Australië
Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur Forum Nuus.