COVID-19: Hoe die virus óns emigrasieplanne raak

08/04/2020
| Deur Wian
sebastiaan-stam-azIO-XUkfok-unsplash-scaled

Deur Hesti Steenkamp

Nét toe ons dink 2020 is die jaar wat dinge met ons emigrasieproses seepglad sal verloop, toe ons aanneem die proses sal uiteindelik spoed optel nou dat ons papierwerk agtermekaar is, toe ons datums begin neerpen en van besittings ontslae raak – toe tref COVID-19.

Ek raak nie maklik paniekerig nie, want ek is bewus van die gevaar van sosiale media. Selfs toe daar uiteindelik gevalle van die virus in Suid-Afrika aangemeld is, was ek nie bekommerd nie. Ek kon egter nie voorsien dat die impak van dié pandemie soos ’n orkaan deur die hele wêreld sou woed en alles tot stilstand ruk nie. En uiteraard het dit nie net ’n impak op ons gesin wat tans in selfisolasie verkeer nie, maar ook op ons emigrasie na Kanada.

Ons gesin is al sedert 2018 besig met die proses om te emigreer. In Junie 2019 het my man, na baie aansoeke, ’n werksaanbod by ’n maatskappy in Altona gekry. Dit is in die suide van Kanada in die provinsie Manitoba geleë. Intussen het ons steeds verskeie struikelblokke in die aansoekproses gehad. Al werk my man sedert Desember 2019 permanent vir die Kanadese maatskappy vanuit Suid-Afrika, mag hy steeds nie wettig in Kanada self woon of werk nie. Daarvoor het hy ’n werkspermit nodig – ’n tydrowende noodsaaklikheid wat hope papierwerk en hersiening insluit – iets waarvoor ons nie veel langer kan wag nie. Want jy sien, sy werksaanbod kan verval.

Die grootste probleem wat ons tans in die gesig staar, is die Kanadese regering se aankondiging onlangs dat die land se grense voorlopig tot einde Junie gesluit word. Dit beteken dat selfs al sou my man se werkspermit wonderbaarlik binne die volgende twee maande goedgekeur word, hy nie na Kanada sal kan reis nie. Daar is geen manier om tot daar te vlieg sonder ’n oorgangsvlug via die VSA, Europa of die Midde-Ooste nie, en al die vlugte na daardie lande is reeds gekanselleer.

’n Kennis van ons se dogter en haar gesin het by familie in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gekuier toe hulle hoor die grense gaan sluit. Hulle het vir oulaas daar vertoef voor hulle die groot trek na Kanada sou aanpak. Hulle het inderhaas by die lughawe gaan uitkamp tot hulle 03:00 die volgende oggend ’n vlug na Toronto kon haal. Sy, haar man en hulle twee kinders is tans in kwarantyn – vasgekeer in ’n woonstel wat sy op die internet gekry het (sy moes ses maande se huur vooruit betaal om die huurkontrak te verseker en betaal reeds twee maande vir ’n leë dop), sónder meubels of kruideniersware. Ek glo darem die goedhartige Kanadese sal hulle oor die gesin ontferm.

Die volgende probleem is wêreldwyd ’n krisis – inkomste en finansiële oorlewing. My man se salaris word in ’n Kanadese bankrekening inbetaal sodat ons ’n neseier kan hê wanneer ons daar moet huis opsit. Die rand word egter by die dag swakker. Omdat ons tans net een inkomste in Suid-Afrika het, beperk dit ons gesin se maandelikse begroting heelwat. Weereens is tyd nie aan ons kant nie, want hoe langer ons in Suid-Afrika bly, hoe stywer moet ons die gordels trek.

Dit is dalk nie amptelik ’n probleem nie, maar ek vermoed dat ons ook ’n vertraging met korrespondensie kan beleef. Al lewe ons in die digitale eeu, dring die riglyne vir ons aansoek soms aan op die oorspronklike weergawe van ’n dokument. Wat jy dan wedersyds óf met die posdiens (wat die Kanadese natuurlik doen) óf met ’n koerier moet stuur. Dit word dan met lug- of skeepsvrag vervoer, wat bemanning en ander personeel aan beide kante benodig. Hoe lank nog voor dit ook gestaak word?

Gelukkig is daar steeds dinge waarvoor ons gesin baie dankbaar kan wees. Dit is vir my moontlik om van die huis af te werk. My man werk die laaste paar maande reeds van die huis af, so sy skedule is glad nie ontwrig nie. Sy kollegas in Kanada werk nou ook van die huis af, so hulle het waarskynlik beter begrip vir sy situasie. Ons is bevoorreg dat ons oor die algemeen baie gesond is en ‘n sterk immuunstelsel het. Maar ons groei ook in hierdie onvoorspelbare tyd as mense en as ’n gesin terwyl ons wag vir nuus oor ons aansoek.

Ons word gedwing om te aanvaar dat jy in ’n situasie kan beland waaraan jy menslik niks kan verander nie al behels dit groot teleurstelling en frustrasie. Jy leer bomenslike geduld en nuwe oorlewingstegnieke aan. Jy aanvaar jou plig as getroue landsburger wat saam met elke nasie ter wêreld ’n onsigbare vyand probeer teenstaan en jy doen wat jy kan. Geslag, geloof, ras, beroep, status – vir COVID-19 is ons almal gelyk. En dit laat ‘n mens nadink oor wat werklik vir jou belangrik is.

Ons gaan nie moed opgee nie. Ons sal berus by beide die Suid-Afrikaanse en Kanadese regering se besluite om hul bevolking te beskerm, wat dit ook al mag behels. Ons sal geduldig wees, al wil ons nie. Ons sal doen wat ons kan. Miskien word 2020 nie slegs opgeteken as die jaar wat COVID-19 die pas aangee en humanisme laat seëvier nie, maar ook die jaar wat ons uiteindelik ons avontuur in Kanada kan begin en weet – die wag was die moeite werd.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels