Deur Elzabé Pieterse
Dit waardeur ons gegaan het, was uitdagend en het onsigbare letsels diep in ons ingebrand.
My man is begin Januarie positief getoets vir COVID. Die volgende dag is ek na ’n inry-toetssentrum om my ook te laat toets – alleen, verward en uiters bekommerd oor wat op ons wag. Wat om te doen indien jy positief getoets word, was reeds amper ’n jaar lank in almal ingeprent, en tog het ek toe eers skielik die volle implikasies daarvan besef.
Een van ons vriende is oorlede aan COVID en ons was nog geskok en ontnugter omdat COVID so na aan ons gekom het.
My man het met ’n droë hoes begin en ons het gedink dit is omdat hy in ’n dak met isolering gewerk het. Maar toe ek daardie hoes gehoor het, moes ek besef het dit is nie enige hoes nie; dit is ’n bangmaakhoes …
Waterpêrels het hulle gereeld op sy spierwit voorkop kom tuismaak, sy kragte het getaan, en my sterk man het in ’n bondeltjie op die bed opgekrul bly lê van moegheid en koors, kortasem en sonder eetlus. Ja, ’n mens is lus vir niks nie …
Kort daarna is ek ook positief getoets en die vrees wat ons saam ervaar het, het boekdele gespreek. Ons het bly wonder: Met wie was ons in aanraking? Waar het ons dit gekry? En dan: Ons moet almal waarsku met wie ons in aanraking was!
Gedurende dié tyd voel jy soos ’n melaatse; jy mag niemand sien nie. En dan is daar mense wat dink: Ag dit is nie so erg nie; COVID word uit verband geruk en vrees word onnodig aangevuur.
Ure het dae geword, dae wat verbygevlieg het waar jy nie kan rekenskap gee van wat jy met die tyd gedoen het nie, want jy is nie regtig bewus van wat om jou aangaan nie. Al waarvan jy bewus is, is jou hoë koors, hoofpyn, naarheid, kortasemigheid en gebrek aan energie wat kom plek maak het in jou liggaam.
Daar is nog tye wat jou reuk en smaak weggaan, of wat jy ’n koue rilling voel of wat ’n vlaag naarheid jou aan die siekte laat dink en jou van voor af ongemaklik en bang laat voel. Dis ’n gevoel wat ek nie graag weer wil ervaar nie …
Jou mond is binne vol sere en jy próé die COVID; jy is heeltyd bewus van ’n smaak wat nie daar hoort nie, en dit herinner jou gedurig daaraan dat ’n demoon hom in jou liggaam kom tuismaak het … Elke dag is daar ’n ander simptoom – jou smaak en reuk wat verdwyn, hoofpyn, lyfseer … En jy kan niks anders doen as om dit net te aanvaar en dag vir dag daarmee saam te lewe nie.
Eetgoed en medikasie is vir ons afgelaai, en die groot deurbraak het gekom toe ivermektien vir ons afgelaai is. Ons twee het dit bang-bang aangesmeer en die uitkoms was wonderbaarlik! Ons kon weer asemhaal en ons suurstofvlakke het drasties verbeter.
Die herstelproses was tydsaam en die moegheid het nie oornag verdwyn nie. Die een dag is jy reg om die lewe aan te durf, en die volgende dag is jy lewensmoeg. Mense wat nie COVID gehad het nie kan dit nie begryp nie, en niemand kan voel hoe jy van binne voel nie, dat jy nog steeds sukkel om asem te haal en dat die moegheid nie wil weggaan nie …
Jou innerlike word ook aangetas. COVID los ’n fisiese en emosionele letsel op jou. Jy wonder vreesbevange of jy ooit weer 100% sal kan funksioneer soos voorheen, maar jy is terselfdertyd dankbaar dat jy nie soos van jou vriende, kollegas en kennisse nooit weer uit die hospitaal uitgekom het nie, en jy wonder: Hoekom was ek so gelukkig? Jy waardeer weer die lewe, kyk anders daarna, en het meer simpatie en empatie as vroeër.
Jy verleer om te kommunikeer. Gedurende die isolasietyd gesels jy nie baie met mense nie, dit is te uitputtend. En wanneer jy weer saam met mense kuier of vergaderings by die werk bywoon, besef jy hoe jou kommunikasievaardighede agteruitgegaan het. Jy soek na woorde en vergeet goed, so asof COVID jou brein ook aangeval het.
Vandag is ons dankbaar vir elke familielid, vriend, kollega en kennis wat ons deur hierdie tyd gedra het, hetsy deur ’n boodskap of oproep. Ons sal julle vir ewig dankbaar wees!
Ons asems is terug en ons gaan nou voluit leef met groot dankbaarheid dat ons gespaar gebly het!