Daardie gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in die buiteland hoor (Deel 3)
Die gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in ’n vreemde land hoor, is iets wat ’n mens nie maklik kan beskryf nie. Jy spits eers vinnig jou ore net om seker te maak jy hoor reg, dan begin jou hart vinniger klop as jy die rol van die “r” en die growwe “g”-klank herken. En dan stap jy vinnig en sonder enige huiwering nader om jou mede-Afrikaanssprekende te groet soos net Afrikaanse mense kan.
Ons het onlangs ons AfriForum Wêreldwyd-vriende op Facebook gevra of hulle al Afrikaans in die buiteland gehoor het. Ons deel graag van hulle stories hier.
- Ons stap by ’n Lidl-winkel in ’n dorpie in Ierland in en hoor drie mans wonder of “redbush” rooibos is. En as dit nie is nie, waar kry hulle dit dan? Ek antwoord toe sommer dat dit wel rooibos is en dat hulle dit by twee ander supermarkte ook kan kry. Hulle was stomgeslaan! Ons het toe sommer in elke gang tot by die kassier gesels. – Alta Bannink Bekker
- Laas Saterdag was ek in ’n winkel hier in Southampton toe ek ’n groep mans hoor gesels. Ek sê vir myself: “Dit klink mos soos mense van die Kaap!” En so gebeur dit dat ons mekaar groet en heerlik in Afrikaans saam lag. – Shawn Morom Rabe
- Vandag by Ocean Basket in Kingston upon Thames het ek Afrikaans by verskeie tafels gehoor – heerlik! – Ronel van Zyl
- Ek stap een dag in die West Edmonton Mall in Kanada en sien ’n gesin wat onseker lyk oor waarheen hulle moet gaan. Toe ek nader stap, hoor ek hoe die vrou vir haar man in Afrikaans sê: “Ons sal daarheen moet gaan. Kan jy nie die bord lees nie?” Ek het gelag en aangebied om te help. Dit was ’n lekker verrassing! Ek weet tot vandag toe nog nie waar hulle vandaan kom nie.– Magdel Jansen van Vuuren
- Ek was in Costco besig om met my toe 10-jarige seun te stry oor sy skoolgoed – hy het in ses maande drie jaar se penne, potlode, uitveërs en lêers opgebruik! Toe tik ’n man my op die skouer en sê: “Jinne, jy is darem kwaai so vroeg in die oggend!” – Linda Kukard-Smith
- Ek hoor “Mamma, Mamma” in die rak langsaan en stap nuuskierig nader om te kyk wie roep. My arme man het my ook ’n storie vertel – een dag in Spotlight (’n winkel soortgelyk aan Mr. Price Home) het hy dringend ’n toilet nodig gehad. ’n Tannie het haar kop oor die rak gepop en verduidelik waar die badkamers is! Hy was bloedrooi van skaamte. In Nieu-Seeland kan jy nie in Afrikaans skinder nie – ons is oral! – Berdene Knepscheld
- Op ’n Emirates-vlug na Suid-Afrika kondig die kaptein aan dat die kajuitpersoneel gesamentlik 12 tale praat, insluitend Afrikaans. Ek begin rondkyk en wonder wie die Afrikaanssprekende is. Voor my sit ’n jong paartjie met ’n baba. Op ’n stadium stap ’n pragtige lugwaardin verby, haar oë versag toe sy die baba sien, en met net twee woorde verklap sy haar herkoms: “Ag shame”. – André Fourie
- Ons was een dag op ’n terras in Kleve, Duitsland, toe ’n vrou my nader, opgewonde sê: “Jy’s Afrikaans!” en my sommer net daar om die nek gryp! Dis ’n wonderlike gevoel wanneer dit gebeur. Ek spits ook altyd my ore om te luister of ek Afrikaans iewers hoor. – Roeleen Matthee
- Dis altyd lekker om Afrikaans in die buiteland te hoor, maar moenie aanvaar julle is nou sommer beste vriende nie. Daar is steeds verskille tussen mense van Kaapstad en dié van die Transvaalse kant! – Bernelle Visser
- Hier in Nieu-Seeland het ons eendag ’n Afrikaner in ’n winkel raakgeloop. Toe sy hoor ons praat Afrikaans, het sy ons verwys na ’n Afrikaanse kerk – waar ek nou al 12 jaar lank lid is! – Lena Jonk
- In die noorde van Perth is Afrikaans omtrent die tweede taal. By Woolies is elke tweede persoon Afrikaans – mens kan glad nie meer skinder nie! – Landi-C Bekker Jordaan
Skryf vir ons
Het jy al ’n vreemdeling gehoor Afrikaans praat in die buiteland? Wat was jou reaksie? Deel jou staaltjies met ons in die kommentaar of skryf vir ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Daardie gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in die buiteland hoor – Deel 2 – AfriForum Wêreldwyd
Foto: Getty Images/ Unsplash