Derduisende Suid-Afrikaners stem in buiteland
Deur Sue-Ann de Wet
Derduisende Suid-Afrikaners het die geleentheid aangegryp om hul stem uit te bring, ondanks die feit dat hulle in die buiteland woon. Sowat 78 000 Suid-Afrikaners is in die buiteland geregistreer. Op 17 en 18 Mei het hulle die kans gehad om hul kruisie te gaan trek by ambassades oor die wêreld heen.
Vroeë stemme in die Midde-Ooste
Die stemproses het Vrydag in dele van die Midde-Ooste begin, waar die eerste stemme uitgebring is. Die proses het dwarsdeur die naweek aangehou, met die meeste ander stemlokale wat Saterdag geopen het.
Besige Saterdag by verskeie stemlokale
In Canberra, Australië – een van die eerste stemlokale wat Saterdag geopen het – het honderde Suid-Afrikaners in lang toue gewag om te stem. Baie van hulle het honderde kilometer ver gereis om hul kruisie te trek.
In Londen, by Suid-Afrikahuis op Trafalgarplein, was daar Saterdag baie lang toue. Kiesers het langer as sewe uur gewag om te stem. Met meer as 24 000 geregistreerde kiesers in Londen was die stemlokaal ook Sondag oop.
Stemme oor die wêreld heen
Van Londen tot Den Haag tot Dubai het mense by stemlokale opgedaag, ten spyte van uitdagende weerstoestande, soos die versengende hitte in Dubai. Chantal Roux het genoem dat dit ook in Abu Dhabi baie warm was, maar die gees was opgeruimd en eg Suid-Afrikaans. Die ambassadepersoneel het hulle goed van hul taak gekwyt. Daar is water aan kiesers voorsien en Hyperama het roomys uitgedeel. Karin de Jager het beaam dat die gees omtrent “lekker” was met roomyse en gratis boerie rolls wat deur Hyperama en Lekker Meats geskenk is. Mia Esterhuyse het ook in Abu Dhabi gestem, waar die ry in die middel van die dag nogal kort was weens die hitte.
In Dublin het lang toue gevorm, maar ten minste was daar geen reën nie, het een kieser opgemerk. Sommige kiesers was opgewonde toe hulle die Springbok-rugbyster RG Snyman en die voormalige Springbok- en WP-rugbyspeler Dan van Zyl raakloop, terwyl hulle in die tou gestaan het. Elaine Spang, wat ook in Dublin gestem het, het gesê dat Wiseman aan die einde van die tou heerlike boeries verskaf het.
Probleme en klagtes
Hoewel die stemproses oor die algemeen glad verloop het, was daar klagtes dat sommige Suid-Afrikaners nie toegelaat is om met hul Suid-Afrikaanse ID-boekie te stem nie. In Canberra, Australië, was daar ook ‘n paar Suid-Afrikaners wat slegs met hul paspoort by die stemlokaal opgedaag het, hoewel die voorskrifte vereis dat slegs identiteitsdokumente gebruik mag word.
Lorraine Blauw het geskryf dat dit wonderlik was om soveel mense by die stemlokaal in Nederland te sien. Die ervaring was egter nie baie aangenaam nie, want die stemlokaal was in ’n klein gazebo waarin die kiesers saamgedrom het. Die stemhokkies is ook nie afgeskort vir privaatheid nie.
Boonop was die ingang en uitgang nie aangedui nie, wat tot verwarring gelei het. Teen 19:00 het kiesers steeds in ’n tou van byna 2 km gestaan en die Nederlandse polisie het begin om die mense te verdryf omdat hulle voor privaat huise gestaan het. Teen 19:45 was die ry steeds ’n kilometer lank.
Volgens Letitia Grundling, wat ook in Den Haag gestem het, het hulle al vroeg opgedaag, maar soos honderde ander moes hulle ver agter in die tou staan. Daar was net een persoon wat die skandering gedoen het, hoewel hulle geweet het dat ongeveer 6 000 kiesers sou opdaag. Later die dag het ’n tweede persoon met die skandering kom help.
Ondanks hierdie haakplekke was dit ʼn lieflike ervaring: Die vrywilligers het hul bes gedoen en die mense was gesellig aan die kuier so in die duisendpoot-tou. Hulle kyk nie net saam rugby nie – hulle probeer steeds om ’n verskil te maak.
Hoogtepunte van die stemproses
Suid-Afrikaners het trots met hul inkgemerkte duim gespog nadat hulle in Seoel, Suid-Korea, en Hongkong gestem het. Volgens Jessica Bodenstein het daar ‘n goeie gees in Hongkong geheers en baie mense het hul groen-en-goud gedra. In München, Duitsland, het ongeveer 1 260 kiesers geregistreer om te stem, en in Berlyn het sowat 1 478 gestem
Persoonlike ervarings
Suid-Afrikaners in die buiteland het hul toewyding aan die demokratiese proses bewys, ongeag die afstand of uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het om hul stem te kon uitbring.