Die Afrikanerstigting en AfriForum sluit suksesvolle steunwerwingstoer na die VSA af

29/07/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Die Afrikanerstigting en AfriForum sluit suksesvolle steunwerwingstoer na die VSA af

Dit is duidelik dat die internasionale samelewing toenemend bewus word van die uitdagings waarmee minderhede soos Afrikaners in Suid-Afrika gekonfronteer word, sowel as die soort oplossings waarmee die instellings van die Solidariteit Beweging vorendag kom om hierdie uitdagings die hoof te bied. Dit is die oorhoofse waarneming van die verteenwoordigers van die Afrikanerstigting en AfriForum wat so pas van ʼn steunwerwingstoer na die VSA teruggekeer het.

Tydens hierdie besoek het Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, en Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge van AfriForum, aan verskeie konferensies, funksies en netwerkgesprekke deelgeneem. Twee hoogtepunte van die besoek was die NatCon-konferensie in Washington, D.C. (ook bekend as NatCon 4), waartydens Roets as spreker opgetree het en die bekendstelling van die Afrikanerstigting in New York by ’n geleentheid wat deur die New York Young Republicans aangebied is. Roets het by albei hierdie geleenthede verwys na die roekelose beleidsraamwerk van die Suid-Afrikaanse regering en die oplossings waarmee Afrikaners onder hierdie omstandighede vorendag kom om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms aan die suidpunt van Afrika te skep. In hierdie verband is die klem veral gelê op die bou van ʼn netwerk van gemeenskapsinstellings.

Roets het gesê dat dit nodig is om die soort probleme waarmee minderhede soos Afrikaners in Suid-Afrika gekonfronteer word onder die internasionale samelewing se aandag te bring, juis omdat daar nou al vir ’n geruime tyd ’n persepsie bestaan dat die Suid-Afrikaanse politieke bedeling ’n soort goudstandaard is wat deur die res van die wêreld nagevolg word, terwyl die teenoorgestelde in vele opsigte waar is. “Dit is egter veel belangriker om oor oplossings as oor probleme te praat. Ons ervaring is dat dit veral in ons benadering tot oplossings en ons optimisme oor die toekoms is dat Afrikaners in die internasionale samelewing, maar in die Westerse wêreld in die besonder, herontdek word,” het hy bygevoeg.

Van Zyl het gesê dat die opregte belangstelling in en bewondering vir Afrikaners se staatbestande oplossings dramaties toegeneem het in die buiteland, veral onder Amerikaners en Europeërs. “’n Boer maak ’n plan het uitgebrei van ’n plaaslike gesegde na ’n internasionale een.Dit is bemoedigend om te weet dat ons suksesse, en dít wat ons bou nie slegs vir ons mense in Suid-Afrika hoop gee en inspireer nie, maar óók vir mense oorsee,” sluit Van Zyl af.

Die Afrikanerstigting is ’n nuwe instelling in die breër Solidariteit Beweging en is daarop ingestel is om steun vanuit die buiteland te mobiliseer.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels