Emigrasie uit Suid-Afrika het drasties toegeneem. Die gras aan die ander kant van die draad het egter ook ’n paar bruin kolle. Amanda Visser het met drie jong paartjies gesels wat na Nieu-Seeland en die VSA geëmigreer het, om uit te vind watter probleme hulle daar ondervind.
Jy word uitgenooi om aandete by mense te gaan eet in Nieu-Seeland en skielik breek iemand sommer hardop ’n wind op aan tafel. Almal in die vertrek, behalwe die nuwe Suid-Afrikaanse aankomelinge, vind dit glad nie vreemd nie.
Dit was nogal iets waaraan ons moes gewoond raak, sê *Frank.
Goeie maniere
Wat in Suid-Afrika as goeie maniere beskou word, is nie altyd in Nieu-Seeland die geval nie. Volwassenes sowel as kinders sal in ’n vertrek instap en die geselskap onderbreek terwyl jy besig is om ’n gesprek met iemand te voer. “Ek sê dan vir hulle dat ons gewoonlik in Suid-Afrika vir iemand sal sê: ‘Verskoon my, kan ek julle gou onderbreek?’ in so ’n situasie,” sê *Rochelle, wat nou nog warm onder die kraag word wanneer dit gebeur.
Die manier waarop kinders ouer mense aanspreek was ook iets waaraan hulle moes gewoond raak, verduidelik *Brigitte. Dit voel asof hulle nie respek het vir ouer mense of persone in gesagsposisies nie.
“Daar is nie ’n hiërargie nie. Almal is gelyk. Die kinders tree nie noodwending oneerbiedig op nie, hulle word net anders grootgemaak as ons.” Hulle kom ook “ouer” voor as wat hulle is.
In die VSA is mense ook meer afsydig en minder spontaan, sê *Pieter, ’n jong plaasbestuurder. Hy sê hy weet nie eens wie sy bure is nie. Hulle woon al langer as twee jaar daar.
Alleen, maar veilig
Dit is nie maklik om nuwe vriende te maak in so ’n geslote samelewing nie, sê hy. “In Suid-Afrika sou ons nuwe intrekkers vir ’n braai genooi het en hulle aan die res van die gemeenskap voorgestel het,” sê Pieter. Maar hy erken dat die lewe op die Amerikaanse platteland baie veiliger is as in Suid-Afrika.
Die Nieu-Seelandse skolestelsel is baie meer gevorderd as die staatskole in Suid-Afrika. *Riaan, ’n onderwyser in Auckland, sê die gehalte van werk is op standaard en selfs hoër. Hy sê egter die hoeveelheid tyd wat kinders kry om aan hul take te bestee, is baie “rojaal”, om dit mooi te stel.
Skole in die VSA is “150 miljoen maal” beter as in Suid-Afrika, sê Pieter, wat ’n kind met spesiale behoeftes het. Die klasse is klein en die kinders kry gehalte-aandag.
Tekort aan uithouvermoë
In Nieu-Seeland lyk dit nie asof dit mense pla as hulle nie in staat is om ’n baie uitdagende taak uit te voer nie. Omdat hulle selde druk hoef te hanteer, moet baie kinders terapie kry wanneer hulle wel druk ervaar. Party het geldige redes om terapie te kry, maar daar is ander wat dit net gebruik sodat hulle nie die werk hoef te doen of die doelwitte hoef te behaal nie, sê Riaan. Hy sê egter die blootstelling aan tegnologie en hulpbronne is gelykstaande aan dié van die duurste privaat skole in Suid-Afrika.
Werketiek
Dit lyk asof die skooletiek in sommige gevalle oorspoel na die werkplek. Frank vertel van ‘n geval waar daar baie druk was vanweë ’n bepaalde projek. ‘n Sleutelpersoon op die projek het gesê die werk is “oorweldigend en nie goed vir sy geestesgesondheid nie”. Daar is twee weke verlof aan hom toegestaan, wat die res van die span onder geweldige druk geplaas het om iemand anders op te spoor wat die werk kon doen.
Pieter het nie baie vleiende dinge oor sy portuurgroep te sê nie. “Hulle sal net nie opdaag vir werk nie en laat weet dat hulle die vorige aand te veel gedrink het. Dan bly hulle sommer vir ’n week weg.” Die ouer generasie hou aan boer tot hulle diep in hul sewentigs is omdat die jongmense nie wil werk nie.
Geloof
Die meerderheid Nieu-Seelanders is selferkende ateïste. As hulle hoor jy gaan kerk toe, kry jy ’n vreemde kyk, sê *Robyn.
Maar dan weer, kry jy ook dalk ’n vreemde kyk as jy hulle vertel van ons groot verskeidenheid slange, of hoe dit is om vir ure of dae lank sonder water of elektrisiteit oor die weg te moet kom. Hulle ken nie so iets nie.
*Skuilname
LEES OOK: Emigrasie: Die gras is dalk groener, maar daar is bruin kolle