Met die kollig op ekspat-depressie en wenke om dit te beveg
Om jou land te verlaat en in ʼn nuwe land aan te pas, bring verskeie uitdagings mee: Jy moet jou familie en vriende agterlaat, afskeid neem van jou geboorteland, aanpas in ʼn nuwe omgewing (wat ʼn kultuurskok op sy eie is), en die onvoorsiene en verborge koste verbonde aan emigrasie, om net ʼn paar uitdagings te noem. Al hierdie uitdagings het ook ʼn emosionele impak op jou.
Ons vertel jou meer van ekspat-depressie en hoe om dit te bekamp.
Ekspat-depressie is meer as net ʼn kultuurskok. Tyd genees vele kwale, maar ekspat-depressie klou aan ʼn mens. Hierdie toestand behels ʼn aansienlike tydperk van moedeloosheid na afloop van emigrasie – soveel so dat lyers professionele hulp mag nodig kry.
Erken dat jy sukkel
Die eerste stap tot oorwinning in die stryd teen ekspat-depressie is eerlikheid: Jy moet erken dat jy swaarkry. Dikwels voel ekspats skuldig oor hul diepe hunkering en verlange na dit wat bekend is. Hulle wil nie noodwendig aan familie en vriende erken dat hulle swaarkry nie, veral nie aan dié in Suid-Afrika nie. Erken dat jy swaarkry en laat jou familie en vriende toe om jou te help.
Tekens van ekspat-depressie
ʼn Groot oorsese trek het gevolge. Hoe tref ʼn mens dan onderskeid tussen die aanvanklike kultuurskok en iets so ernstig soos ekspat-depressie? Wel, die grootste verskil is dat ekspat-depressie ʼn tydsame kwaal is. Waar ʼn kultuurskok uiteindelik oorwaai, klou depressie soos nat klere aan ʼn ekspat.
Ekspat-depressie kan aan die volgende tekens herken word:
- Jy sukkel om soggens uit die bed uit te kom en alledaagse take te verrig.
- Slaapversteurings: óf jy ly aan slapeloosheid, óf jy slaap hopeloos te veel.
- Eetversteurings: óf jy het geen eetlus nie, óf jy neig om jou te ooreet.
- Alkohol- of dwelmmisbruik
- Selfmoordgedagtes
Let wel: Die waarneming van hierdie tekens is nie gelykstaande aan ʼn formele diagnose nie. As jy van hierdie tekens in jou eie lewe herken, raai ons jou aan om professionele hulp kry.
Vyf wenke om ekspat-depressie te beveg
1. Begin bou aan ʼn ondersteuningsnetwerk
Sluit so gou as moontlik na jou aankoms in jou nuwe land aan by ʼn klub en/of kerk sodat jy stelselmatig ʼn ondersteuningsnetwerk kan opbou. Vind uit of daar enige bestaande ondersteuningsgroepe vir buitelanders in jou omgewing is en sluit daarby aan. Hierdie groepe kan uitstekende emosionele ondersteuning bied.
Moenie wegkruip en jou isoleer nie. Gaan kuier by mense en doen dinge wat jou beter kan laat voel. Gaan ontdek nuwe eetplekke, mooi landskappe en oulike winkeltjies, maar onthou ook om vir jou ʼn roetine te begin vestig.
Besoek AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids om ʼn kerk, klub of ekspat-ondernemings in jou omgewing op te spoor. Netwerke is nie net daar vir ondernemings nie, dit is ook ʼn waardevolle wyse om ʼn ondersteuningsbasis te bou vir daardie dae wanneer die verlange na die bekende te veel raak.
2. Keer terug na jou wortels
Terwyl jy so begin uitreik, is dit egter noodsaaklik dat jy nie vergeet waar jy vandaan kom nie. Behou dus jou wortels deur jou geboorteland se tradisies en gewoontes in jou daaglikse roetine te implementeer. Steek so nou en dan ʼn braaivleisvuurtjie aan of vat ʼn slukkie van die rooibostee wat jou ma saamgestuur het. Vier ook herdenkingsdae soos Erfenisdag, Moedertaaldag en Geloftedag om jou hart opnuut met jou geboorteland saam te snoer.
3. Moenie kontak verloor nie
Kyk, die lewe kan besig raak! Tussen jou werk en sosiale verpligtinge en met die tydsverskille kan dit moeilik wees om tyd te maak om aanlyn met die familie te gesels. Vir jou emosionele welstand is dit egter noodsaaklik. Emigreer dus met ʼn plan: Spreek vooraf met jou familie af watter dae van die week hulle sal pas vir oproepe en bly sover moontlik by die afgespreekte tye.
4. Gee jouself tyd, maar maak ook tyd vir jouself
Dit vat tyd om aan te pas by die lewe in die buiteland. Dit kan selfs tot twee jaar duur! Wees geduldig met jou en jou gesin, en geniet die klein oomblikke. Gaan ʼn ooreenkoms aan met jouself: Doen elke dag een ding net vir jouself. Kom in die buitelug – gaan stap in die natuur, ry fiets of draf. Fokus ook op jou fisiese gesondheid. Gee aandag aan jou eet- en slaappatroon.
5. Kry professionele hulp
As jy egter besef die depressie vererger mettertyd, stel ons voor dat jy met ʼn dokter gesels. Wees gerus dat jy nie van ʼn muggie ʼn olifant maak nie – jou swaarkry is ʼn geldige probleem.
Volgens Charl Fourie, ʼn kliniese sielkundige in Tasmanië, Australië, kleef dieselfde stigma nie meer aan geestesgesondheid soos jare gelede toe hy nog in Suid-Afrika gewoon het nie. Geestesgesondheidskwessies word nie in Nieu-Seeland, die VSA, Brittanje of Europa gestigmatiseer nie. Niemand in daardie lande sal snaaks na jou kyk as jy ʼn sielkundige besoek nie. Hy stel voor jy maak vooraf seker wat die hulplyn-nommer in jou nuwe land is en stel dit ook aan jou kinders beskikbaar as hulle oud genoeg is. Lig diegene wat in die nuwe land na jou kinders gaan omsien of met hulle gaan werk in dat julle immigrante is en vra hulle om ook ʼn wakende oog oor die kinders se geestesgesondheid te hou.
Daar is hoop op ʼn oplossing. Hou dus moed. Onthou, jy is nooit alleen nie en jy kan uitreik om hulp te kry.
Foto: Pavel Danilyuk/ Pexels