Die genade van ’n vinnige groet

11/12/2024
| Deur Dr. Sulette Ferreira
Die genade van ’n vinnige groet

Ek het eenmaal gelees dat lughawens “storiefabrieke” is – spasies waar mense kom en gaan, waar elke vertrek of aankoms deel is van ’n baie groter verhaal. Ruimtes waar geliefdes afskeid neem totdat die laaste glimlag of waai in die verte verdwyn. Vir gesinne wat oor vastelande versprei is, dra hierdie oomblikke ’n besondere gewig – die wete dat dit maande, jare of dalk nooit weer sal wees dat hulle saam kan wees nie.

Lughawens is emosionele kruispaaie – drempels tussen dié wat bly en dié wat gaan, verbind deur ’n netwerk van lang toue mense en aanhoudende onpersoonlike aankoms- en vertrekaankondigings. Dit is ’n onmisbare skakel in die emigrasieketting, waar mense wat oor kontinente heen van mekaar geskei is, tydelik ontmoet. Krioelende ruimtes gevul met bewegende mense, almal op pad ná of ván iewers af.

Tradisioneel is lughawens ruimtes wat ontwerp is om doeltreffende vloei te bevorder, eerder as om ruimte te skep vir die emosionele oomblikke van afskeid en herontmoeting. Tog is dit juis in hierdie funksionele ruimtes wat ons emosies uitgestal word voor haastige vreemdelinge – intiem en rou, oop en bloot vir almal om te sien. Hier word elke drukkie ’n kosbare belofte. Elke sagte aanraking, elke fluisterende “totsiens” dra hoop en verlange as boodskappers van liefde. Die gewone buitengewoon, en selfs die kleinste gebaar word gekoester asof dit die laaste kan wees.

Hoe lank duur die afskeid?
Dunedin, ’n klein lughawe in die suide van Nieu-Seeland, het onlangs ’n drie-minuut-limiet ingestel op totsiensdrukkies in hul aflaaisone om verkeer vlot te laat verloop.

Tekens by die lughawe lui: “Maksimum drukkietyd: 3 minute”, met ’n tikkie humor, wat voorstel dat “diegene wat meer liefdevol wil afskeid neem, die parkeerterrein moet gebruik” waarvan die eerste 15 minute gratis is.

Hierdie besluit het heelwat debat ontketen – sommige meen dit is onnodig streng, terwyl ander die poging waardeer om verkeersknope te voorkom.

Maar sal so ’n tydslimiet die betekenis van die afskeid laat verwater? In reaksie hierop verwys Nieu-Seelandse lughawe-amptenare na wetenskaplike studies wat die voordele van drukkies ondersoek. Dié navorsing bevestig die goed gedokumenteerde positiewe impak wat drukkies op mense se gesondheid en welstand het.

Volgens Michael Banassi, hoof van sielkundige wetenskappe by UCAS, is drie minute lank genoeg om die voordele van drukkies te ervaar. Sulke vlugtige omhelsings kan jou bui verbeter, jou immuunstelsel versterk en oksitosien vrystel. Oksitosien word dikwels die “liefdeshormoon” genoem omdat dit binding versterk en ’n mens vertroos laat voel. Banassi het egter erken dat die konteks en gehalte van die drukkie deurslaggewend is.

Kosbare oomblikke

As emigrasieterapeut hoor ek dikwels verhale van emosionele afskeide op lughawens wat alles behalwe van korte duur is. Afskeid is selde ’n vinnige totsiens-sê – dit vertel van die menslike behoefte aan verbondenheid, en hoe moeilik dit is om te sê: “Tot ons weer ontmoet.”

Vir ouers en grootouers wat deur groot geografiese afstand geskei word, is elke sekonde van daardie laaste drukkie kosbaar. Dit is ’n brose oomblik wat jy koester tot die volgende besoek, wat dikwels maande of selfs jare later plaasvind. Drie minute kan soos ’n oogwink voel wanneer jy weet dat jy iemand wat jy liefhet, vir ’n lang tyd nie weer gaan sien nie.

Maar dalk lê die waarde van ’n kort totsiens juis in die eenvoud daarvan. Herbesin dus oor jou manier van afskeid neem en skep nuwe rituele wat jou reserwes aanvul, eerder as om jou in voortslepende hartseer te dompel. Oorweeg daarom dalk ’n afskeid tuis, in ’n bekende omgewing, weg van die onpersoonlike en gejaagdheid van ’n besige lughawe.

Een gesin het ’n tradisie om ’n denkbeeldige soen te blaas en dan weg te stap as ’n gebaar van: “Ek is lief vir jou – totdat ons weer ontmoet.” Die waarde van ’n verhouding wat oor jare gevestig is, lê juis in die diepgewortelde vertroue wat gesmee word deur die kosbare oomblikke wat oor jare gedeel is. Dit is ’n wedersydse begrip wat nie woorde benodig om die blywende verbintenis te bevestig nie – ’n liefde wat sterk genoeg is om beide afstand en tyd te oorbrug.

’n Ander gesin verkies ’n meer tasbare benadering – net voor hulle totsiens sê, gee hulle vir mekaar ’n spesiale geskenk – iets wat hul verbondenheid simboliseer en as ’n blywende herinnering dien tydens hul afwesigheid. Die skepping van nuwe rituele soos hierdie bied ’n kreatiewe manier om kontak te behou, selfs wanneer fisiese teenwoordigheid onmoontlik is. Hierdie intieme gebare skep nie net ’n gevoel van troos nie, maar versterk ook die emosionele nabyheid tussen geliefdes.

Wanneer ’n verhouding op ’n sterk fondament gebou is, voel niks oorhaastig of onafgehandel nie. Dit is onwrikbaar, met wortels stewig geanker in elke oomblik van saamwees. Sulke verhoudings leer ons dat daar inderdaad ’n tyd is vir alles. So kan selfs ’n kort “totsiens” op ’n besige lughawe iets besonders word – nie net ’n afskeid nie, maar ’n viering van herinneringe en saamwees, met genoeg kosbare oomblikke om oor en oor te herleef – “tot ons mekaar weer sien”.

Bronne:

https://www.nbcnews.com/news/world/new-zealand-dunedin-airport-hug-signs-minutes-rcna176349

https://journals.sagepub.com/doi/full/10.2466/02.17.21.CP.1.13

Lees ook: Lughawens is storiefabrieke

Deel op

Nuutste artikels