Op 25 Januarie vanjaar – ná ’n vlug van 15 ure – word ons op die Suvarnabhumi-lughawe deur ’n vriendelike man ingewag wat ons bagasie met oorgawe in sy motor help laai. Ons is sat en stil, maar tog opgewonde op pad na ’n hotel iewers in die besige strate van Bangkok.
Ses maande se beplanning en afwagting het nou die hoogtepunt bereik, want Thailand beteken Bangkok met sy rou kultuur, markte met klere en handsakke tot teen die dak; dit beteken stad, liggies en ’n gegons van mense. Thailand beteken ook Phuket, die eiland waar jy gevoed word deur see, snorkel, poeierwit strande, vars vrugtedrankies, inkopies en straatkos. Elke mark het minstens een krokodil wat die spit afgebyt het en vir nuuskierige, avontuurlustige toeriste gespitbraai word. Nodeloos om te sê, ons groepie Suid-Afrikaanse vriende was nie só nuuskierig nie. Hulle – wie ookal hulle is – sê mos krokodil proe nes hoender. Dan eet ek liewer hoender.
Thailand is een van die bekostigbaarste oorsese vakansies wat ons tot dusver onderneem het. Die somtotaal beloop sowat R15 000.00 per persoon. Dit sluit vliegkaartjies na Bangkok en Phuket in, asook hotelverblyf. As jy beplan om te koop tot jy lê, begroot vir sowat R6 000-sakgeld per persoon vir twee weke, wat kos en dagekskursies insluit.
Spaar gerus en gaan ontdek die prag en praal van Thailand.
Hier is ’n paar wenke vir wanneer jy dié Asiese land besoek.
- Werk Bangkok by jou reisplanne in. Dit kos wel ’n bietjie meer, maar Bangkok gee jou ’n ware beeld van Thailand en sy mense.
- Besoek ’n nagmark. Dit is doodtrapbesig, maar dis ’n belewenis en jy kan inkopies doen teen spotgoedkooppryse.
- Reuke gaan in die ware sin van die woord jou asem wegslaan. Dis nie reuke waaraan ons gewoond is nie. Dit ruik vuil, maar ons het bespiegel en skryf dit toe aan die vreemde vleissoorte wat gaargemaak word, warm olie, die onwelriekende Thaise vrug, Durian, waarvan die reuk in die lug hang waar dit gesny word, asook die ondergrondse waterafvoerkanale wat onderdeur die markte vloei en waarin afvalwater en oorskietkos gestort word. Die goeie nuus is: Jy raak daaraan gewoond.
- Wanneer jy tempels soos The Grand Palace besoek, moet jy ’n langbroek en mouhemp dra. Anders moet jy – soos my manlief – ’n katoenbroek met olifante daarop by ’n straatverkoper aanskaf, wat darem ook nie ’n straf is nie. Jy het dan ’n baie gemaklike broek van 150 baht, wat sowat R75 is.
- Jy móét ’n tuk-tuk neem. Dis daardie klein driewielkarretjies wat heen en weer woerts en ’n minibustaxi ’n ding of twee kan leer. Volgens my man is dit ’n beter adrenaliengelaaide ondervinding as enige wipwaentjierit.
- Moenie die koning spot of die foto’s van hom – wat oral in die land uitgestal word – sonder die nodige respek hanteer nie, want jy kan gevangenisstraf hiervoor opgelê word.
- Jy gaan baie aarbei-Fanta sien – regtig baie, en by elke bedevaartsplek. Die rede hiervoor is dat die Thai – wanneer daar op grond ontwikkel word – bedevaartsplekke oprig om die ontheemde grondgees Chao Thi te huisves, sodat hy steeds oor die grond sal waak. Die offerande wat gebring word is rooi Fanta, blomme, wierook en soms iets te ete. Rooi is ook die kleur van bloed, wat ook kan beteken dat hierdie offers ’n bloedoffer vervang. Die eenvoudiger rede is dat die koning gek is oor rooi Fanta.
- Praat Engels so eenvoudig as wat jy kan. Moenie grênd probeer wees en elke woord tot jou beskikking gebruik nie. Jy vra nie: “Hi, how much does this cost?” nie. Jy vra: “How much?” Jy vra nie: “May I please have two of those?” nie. Jy glimlag terwyl jy twee vingers in die lug hou en vriendelik vra: “Two, please?” Jy word altyd geantwoord met ’n glimlag én jy kry baie uitgerig.
- Jy onderhandel vir winskope. Skud net jou kop sywaarts en loop by ’n winkeltjie uit as ’n prys nie jou sak pas nie. Hulle keer jou vinnig voor en vra hoeveel jy bereid is om te betaal. Die meeste van die tyd is hulle bereid om jou tegemoet te kom.
- Elke dag om 8:00 en 18:00 gebeur iets “vreemds” in Bangkok. Kom ek begin voor. Ons het Lumpini-park toe gegaan. Dié park boots Central-park in New York in die stadskern na, maar natuurlik op ’n kleiner skaal. Ons kom doodluiters daar ingestap. Daar is ’n gimnasium, openbare swembad en die meeste mense is besig om te strek of te draf. Skielik staan almal stil. Die hele wêreld om ons vries. Vir ’n sekond raak ek bang. Op die tweede sekonde redeneer my brein dat ons binnekort deur ’n blitsskare vermaak gaan word, maar nee, almal bly gevries en dis grafstil. My man sê: “Julle, dis ’n zombie-apokalips.” Ons staar na mekaar. Maar voor ons kan bekommerd raak, leef die wêreld skielik weer. Die bose heks in die sprokiesverhaal se towerspreuk is verbreek en Sneeuwitjie ontwaak uit haar diepe slaap. My joernalisvriendin, Mari, se instink laat haar onmiddellik ’n meisie nader om uit te vind wat pas gebeur het. Die verklaring is so maklik soos dit: Elke dag om 8:00 en 18:00 word die volkslied gespeel en dan staan elke liewe mens doodstil om respek te betoon. So, moenie skrik of onkant gevang word nie, anders lyk jy dalk – soos ons vier onkundige Suid-Afrikaners – soos ’n vis op droë grond.
- Thailand is ook bekend vir sy falliese monumente waar die manlike geslagsdeel in alle vorme, groottes en kleure vertoon word. Dié tempels huisves glo vroulike vrugbaarheidsgeeste, en vroue wat graag kinders wil hê, besoek dié godin vir die gewenste uitkoms. Dit is beslis ’n Instagram-kiekie werd. Die ekonomiese klimaat in Suid-Afrika het ons egter genoop om níé dié monumente te besoek nie.
- Besoek Mega Plaza, ’n winkelsentrum met vyf vlakke wat nét versamelaarspeelgoed vir uitstaldoeleindes verkoop. Dis enige bleeksiel se droom.
- Besoek Dreamworld. Dis ’n pretpark ontwerp in lekkergoedkleure waar jy weer soos ’n kind kan voel. Daar is ’n liefdestuin, uitbeeldings van die Sewe Wêreldwonders, foto-geleenthede wat slegs in kinders se drome leef, wipwaentjieritte vir die avontuurlustiges en ’n kabelkar wat oor die park sweef en jou laat wegraak in die betowerendste uitsig.
Bangkok is afgemerk. Nou is dit tyd vir Patong, Phoeket.
Op die lughawe is dit ’n jong man wat ons met sy bussie kom oplaai. En wat ’n bussie! Dis blink goud oraloor. Só blinkgoud dat ons kiekies in die dak neem. Dis bont liggies oraloor. Dis as ’t ware ’n kitsch Kersboom op wiele. Aanduidend van dít wat die eiland vir ons gaan inhou.
Wenke en wyshede vir Phoeket:
- Phoeket het die lekkerste vars vrugtedrankies denkbaar. Hier eet jy ook gevulde pannekoeke (die een met Nutella wat bedruip is met sjokoladesous hou jou vir ’n week lank soet) en handgemaakte roomys op straat.
- Jy hoef slegs baaibroeke, visplakkies, sonrokke en kortbroeke te pak. Tensy jy soos ons vriende een aand ’n kabaretvertoning wil gaan kyk.
- As jy wonder wat jy in die riete sien, dis waterbuffels.
- Huur ’n bromponie. Dit kos sowat R250 per dag en jy beleef die strate eerstehands. Jy sien meer, ruik meer en kan meer verken.
- Ry Freedom Beach toe. Dis ’n versteekte skat wat jou asem sal wegslaan en die mooiste plek vir snorkel. Die enigste vangplek is dat jy eers ’n stywe stappie moet afhandel voordat jy deur beelskone eilandtonele begroet word. Dis die sweet werd.
- Besoek ou Phoeket. Dis pragtig en die ou geboue neem jou terug na die tyd toe mense in die 1800’s van heinde en verre op Phoeket toegesak het weens die ryk ysterertsbronne. Koop aandenkings in Ou Phoeketstad of in Bangkok, want daar is dit nóg goedkoper.
- ’n Daguitstappie na die Phi Phi-eilande is nie uitgedien nie. Ja, ek weet, almal doen dit, maar jy wil dit óók doen. Hulle neem jou na klein, eksklusiewe strande, soos Coco- en Maya-strand (dié strand waar Hollywood se Danny Boyle die bekende rolprent The Beach in 2000 verfilm het en wat nou vir omgewingsrehabilitasie gesluit is), jy snorkel en kry ’n heerlike middagete ingesluit by die prys van R800 per persoon.
- Terwyl ons na The Beach verwys: As jy die rolprent aandagtig gekyk het, sal jy die grillerige hotel onthou waarin Leonardo Dicaprio oornag het. Hoewel dié hotel in die film in Bangkok geleë is, is dit in werklikheid die On-On Hotel in Ou Phoeketstad. Die hotel is wel in 2013 opgeknap, maar Leo se kamer – kamer 204 – is in sy oorspronklike haglike toestand gelos, en jy kan daarin oornag as The Beach jou na aan die hart lê.
- Masserings is spotgoedkoop. ’n Vollyfmassering kos 250 baht, wat sowat R125 is. Bederf jouself.
- Stel gerus die straatkos by markte op die proef. Die meeste kos het ’n pasta-basis, soos ons chow mein of chow faan, maar dit is geuriger en dus ook nie ’n skok vir jou Suid-Afrikaanse maag nie.
- Wees 19:00 op die strand vir die asembenemendste sonsondergange en gaan beleef die naggons daarna. Patong se Banglastraat kan nie in woorde beskryf word nie. Dis oorweldigend, dis indrukwekkend, dis wêrelds, dis mal, dis lekker.
- Jy sien om die een of ander rede amper nooit ’n vullisdrom nie. Jy moet stap tot by jou naaste supermark as jy iets wil weggooi.
- Koffie en alkohol is duur. ’n Koffie kos jou maklik R80 en bier in ’n kroeg kos sowat 80 baht per bier. Koop dit liefs by die supermark 7-Eleven. Maar vars vrugtedrankies is ’n welkome plaasvervanger in die bedompige hitte. Terloops, die humiditeit is baie hoog. As jy nie die see invaar wat ’n soel lafenis bied nie, bly jou vel taai voel. Of is dit nou Thai?
- Wat ons wel baie gepla het, is dat olifante – wat Thailand se nasionale dier is – vasgeketting is en vir toeristebedrywighede gebruik word. Ek wil versoek dat dit geensins ondersteun word nie, aangesien toeriste wat betaal om die olifante te sien die bedryf lewend hou, en die olifante gevange.
Hoewel Thailand se mense nie welaf is nie, is hul harte vol, is hul ryk aan kultuur, is hul land veilig en leef hulle tevrede.
Dis nie toevallig dat Thailand bekend staan as die land van glimlagte nie.
Thailand waarborg rustigheid, veiligheid, vriendelikheid én ’n goudbruin sonbaai.