Nouja, dié keer het ek weer iets spesiaal om met die lesers te deel, maar van ’n totaal ander aard. Ek het oor ’n tydperk van meer as twee jaar ’n boek oor ons Olivier-gesin geskryf (311 bladsye). Die boek staan bekend as Die Oliviers van toeka tot nou; ’n Herinneringsreis. Dit handel hoofsaaklik oor my ouers en ons sewe kinders, maar ek trek dit ook heelwat verder terug, tot sover as vier geslagte van Oliviers voor die eerste Olivier (Hendrik Corneliszoon) in 1662 in die land aangekom het. Dit is meer in ’n storieverteltrant, maar ek glo baie interessant.
Ek het die konsepboek verlede Saterdag hier in Brisbane bekend gestel tydens my 20ste kilo-dagpartytjie (20 000 dae sedert my geboorte). Ons het ook al sedert ons hierheen gekom het 20 000 dosyn koeksisters gebak en dié prestasie sommer saam gevier. Ongeveer 75 van ons beste Afrikaanse vriende het dit bygewoon. Dit was ’n reusesukses en almal het dit terdeë geniet.
Ek het so pas my nuusbrief oor die aangeleentheid geskryf en aan my familie en vriende gestuur, maar ek dink ’n mens kan dit verder versprei en dit mag ook vir julle ’n interessante storie wees. Daar was byvoorbeeld vier hoërskoolkinders wat van my ouers se geliefkoosde gedigte kom opsê het. Nóg ’n interessante storie is dat een seun wat hier skoolgaan, Afrikaans goed kan lees, maar met ’n sterk Australiese aksent praat, en dit steeds met trots gedoen het.
Lees Kerneels se nuusbrief hier: Nuus uit Brisbane