My naam is Michelle Krüger. Ek is 24 jaar oud en woon tans in Shirakawa-shi, Fukushima-ken, Japan. Ek het in Julie 2017 Japan toe getrek nadat ek aanvaar was vir die JET-program.
Om ’n klein bietjie agtergrond te gee: JET staan vir Japanese Exchange and Training. Dit is ’n program wat hierdie jaar sy dertigste herdenking vier en Suid-Afrika is al 20 jaar deel van dié program. In hierdie program is daar twee soorte poste beskikbaar, maar ongelukkig kan Suid-Afrikaners net vir een van die twee aansoek doen. Die pos wat ek tans beklee, word ALT of “Assistant Language Teacher” genoem. Die funksie van ’n ALT is om ’n assistentonderwyser in die klaskamer te wees vir die JET (Japanese English Teacher), maar in baie gevalle neem die ALT daardie pos ten volle oor en bied self die klasse aan.
My reis na die program het al begin toe ek 13 jaar oud was – of dalk jonger – maar ek onthou dat ek op 13 daarvan vertel is. My pa se beste vriend is getroud met ’n Japannese vrou en vandat ek kan onthou, het sy my vertel van die JET-program. As ’n kind gaan dinge maar baie by die een oor in en by die ander uit en dit was nie tot in my finale jaar op universiteit wat ek die woord “JET” weer gehoor het nie. Ek het in ’n lesing gesit en die ambassade het met ons kom gesels en vertel van hierdie wonderlike program. Iets binne my het ontwaak en ek het besluit ek wou meer weet oor dié program en het onmiddellik alle hulpbronne geraadpleeg. Ek het die ambassade ook gekontak en gevra wat ek als kort vir my aansoek, want dit het geklink na iets wat ek baie graag wou doen. Ek is seker die enigste rede vir my aanvaarding is eintlik maar net sodat hulle kon ontslae raak van hierdie mal mens wat hulle met konstante vrae geteister het!
In September 2016 het ek my aansoekvorms gestuur en gewag. Dit was Desember 2016, terwyl ek op ’n bus in Amsterdam was, toe ek ’n e-pos ontvang het met my uitnodiging na die tweede rondte (alhoewel dit die eerste rondte van onderhoude was) in Pretoria.
“Yes – ek het dit!” was my eerste gedagte. “Ek kan hierdie doen; ek móét hierdie doen.”
In Januarie 2017 het ek gegaan vir my onderhoud. Wat ’n opwindende dag! Ek het amper die onderhoud gemis omdat ek ’n vorm by die huis vergeet het. Vinnig moes ek omdraai op die hoofweg en huis toe jaag teen 120 km/h in my Volkswagen Golfie – ’n pure studentewa – en die vorm kry. Daarna het ek soos ’n warrelwind by die onderhoudsaal ingehardloop. Reeds was ek van die opinie, “Ag vrek, dis nou verby!” maar gelukkig was die kandidaat voor my nog besig en ek kon vinnig my verdwaalde en verwarde gesig (met hare wat soos Klara van Fiela se Kind s’n lyk) regkry en probeer ordentlik lyk vir die onderhoud.
“Miss Krüger,” word my naam geroep en ek haal diep asem toe ek die saal binne stap. Die onderhoud gaan goed en die vrae is maar net om te bevestig of alles wat jy in jou aansoekbrief geskryf het, waar is. Sekere vrae was ’n bietjie moeilik, en ek het nie vir een oomblik gedink ek sou dit maak nie. Ná die onderhoud moes ek ’n Engelse toets ook skryf sodat hulle my vermoë in Engels kon toets. Dit was verreweg die maklikste deel van die hele aansoekproses.
Na die onderhoud en die eerste ronde van die program se aansoekproses het ek gewag en gewag, en gewag. Daar is niks erger as die hele wagproses nie, want mens se lewe kan ook nie tot stilstand kom nie – ek moes weet of ek my kontrak by my werk moes verleng of nie en my baas het nie geweet hoekom ek só lank uitstel nie.
Uiteindelik kom Maart en ek kry die e-pos!
‘Dear 2017 JET Programme Applicant:
It is our great pleasure to inform you that you have successfully passed the 2nd stage of the screening process for the 2017 JET Programme year and are now on the final short-list for ALT candidates.’
My hart wou uit my borskas spring. Die opwinding is oorweldigend en ek weet nie wat om te doen of wat om te sê nie: Dit gebeur; dis tyd.
Ek trek in Julie Japan toe. Ek gee ’n kwartaal kennis by my werk en wag vir terugvoer van Japan om te hoor waar ek geplaas gaan word.
Die volgende drie maande is die ergste, want ek moet nou ná drie jaar my woonstel oppak, alles trek na my ouers toe en begin voorberei vir my lewe in ’n nuwe, onbekende land. Maar ek is opgewonde en niks kan daardie gevoel wegvat nie: Ek het dit – dit gebeur – ek is uiteindelik op pad…