E-pos uit die buiteland: Avonture in Japan – Deel drie

18/01/2018
| Deur Wian
8

Augustus in Japan

Die ALT by wie ek oorgeneem het, se kontrak het nog nie tot ʼn einde gekom toe ek opgedaag het nie, so ek kon nie in die woonstel intrek nie. In Augustus bly ek dus vir twee weke by twee verskillende Japanse gesinne. Ek is een van baie min wat hierdie ervaring kry terwyl ons op die program is en is baie dankbaar daarvoor, want ek glo dit is hoekom ek beter en gouer as baie van die ander ALT’s aanpas.

Die eerste vyf dae woon ek by Keiko Ozawa-sensei en haar gesin (“sensei” is die titel vir ʼn onderwyser en word altyd na die van gesê as jy die persoon aanspreek). Die gesin bestaan uit Keiko, haar man en twee seuns en haar ouers. Keiko se suster het ook sommer vir die geleentheid kom kuier. Op hulle erf is daar twee huise: oupa en ouma s’n en die gesin s’n. Ek bly by oupa en ouma in hulle huis, maar ons almal eet elke liewe ete saam as gesin. Keiko is ʼn Engelse juffrou by die een skool waar ek werk, so ek sien haar elke liewe dag.

Vir die eerste groot ete het die Ozawa-gesin vir my Amarula gekry! Ek was stomgeslaan en het ook lekker gelag, want wat is ʼn somersaand sonder ʼn lekker glasie amarula nou?

Die eerste paar dae is dit ʼn op en af gehardloop om alles in orde te kry, onder andere my selfoon, hanko (ʼn amptelike stempel waarmee alle dokumente gestempel moet word), bankrekening, ens. Alles wat ʼn mens mos moet doen as jy “groot” is. Keiko is baie behulpsaam en het oneinig baie geduld. Iets waarvoor ek nou baie dankbaar is! In Japan is dit nie so maklik om ʼn bankrekening oop te maak soos wat ʼn mens dink nie. Daar is verskeie banke in elke prefektuur, maar as jy buite jou area gaan, kan jy net by ʼn Konbini (amper iets soos Engen se winkels) geld trek. Ek het ʼn debietkaart, maar die meeste mense gebruik ʼn kontantkaard. Jy kan net geld trek met die kaart en niks anders doen nie! Dis ʼn groot kopseer, want boonop het jy ʼn bankboek wat jy elke liewe keer as jy geld trek moet opdateer! Praat van die 1920’s! Vir ʼn land wat tegnologies voor is, is Japan baie agter met innovering en banke. Ek verlang so ʼn bietjie na FNB…

Die ander kopseer is om ʼn selfoon te kry in Japan. Daar is verskeie selfoonnetwerkverskaffers en verkieslik moet jy een van die groot maatskappye (au, docomo of SoftBank) gebruik omdat die kleiner netwerke nie oral opvangs het nie! Keiko en haar suster, wat baie rondtoer, het my die dood voor oë gesweer as ek enigiets anders as au vat en op die ou end het dit ons ses uur geneem om alles in orde te kry, net sodat ek my ouers kon laat weet dat ek nog lewe! Om ʼn selfoon te kry, is maklik as jy iemand het wat Japannees praat om saam met jou te gaan.

Die Ozawa-gesin besit die grootste bloubessieplaas in Shirakawa en ek het die geleentheid gehad om my eie bessies te pluk en eet! Ek was ook bevoorreg om te help bloubessielikeur maak. Wat ʼn ervaring! Om te sê ek het met my agterent in die botter geval, is ligtelik gestel. Ek was só gelukkig om by dié gesin te kon woon!

Die Ozawa-seuns Tomayo en Yuto is onderskeidelik nege en vyf. Ek het lekker saam met hulle gespeel en gekuier terwyl ek by hulle gebly het. Ons het tot ons stad se gelukbringer in dié tyd ontmoet!

Die Ozawa-gesin het gou-gou soos my eie gesin geword en ek is oneindig dankbaar vir alles wat hulle vir my gedoen het.

Die volgende drie dae het ek by die Suzuki-gesin gebly en dit was net so lekker soos by die Ozawa’s. Nebuko Suzuki-sensei is die huishoudkundejuffrou by die skool; sy kan nie Engels praat nie, maar prober vreeslik hard! Sy is ʼn dierbare persoon met ʼn taxihart – daar is altyd plek vir nog iemand!

Die gesin bestaan uit Nebuko, haar man en hulle seun wat nog op Universiteit is. Nebuko se man en seun praat beide Engels. Die seun het in Australië studeer en is besig om sy Engelse toetse te doen sodat hy oorsee kan gaan werk. Die man is die hoof van een van die laerskole in die area en gee ook Engels.

Omdat Nebuko die huishoudkunde-onderwyseres is, kan sy lekker kos maak! Ek is elke liewe dag bederf met ʼn gesonde, lekker middagete. Saans het ons almal saam aandete geëet en TV gekyk of gesels oor hoe alles in Suid-Afrika en Japan verskil. Die kultrele ervaring saam met dié gesin was uit die boeke!

Augustus is ʼn maand van baie feeste omdat dit somer is. Nadat ek in my woonstel ingetrek het, was dit tyd om alles te ervaar. Ek was by verskeie feeste en geleenthede en het baie mense ontmoet! Daar was ʼn fees in my tuisdorp aan die begin van Augustus en ek kon mense ontmoet wat hier bly. Mike en Jessie, Megan, Marley, Sascha, Lee en Brooke woon in my stad en ons het gou dik pelle geword! Dis goed, want nou is ek nie meer alleen nie. Ek het ander op wie se knoppie ek kan druk as dinge moeilik raak. Dis ʼn goeie gevoel om te hê.

Richard is my buurman en ons kom goed oor die weg. Hy wil my alles wys en die eerste stap is om na ʼn fees in Koriyama te gaan.

Ek is gelukkig in Japan, alles gaan sover goed.

In Koriyama by ʼn fees ontmoet ek vir Joost en Keri.

Joost is van Nederland en praat vlot Japannees; hy het Japannees geswot en as uitruilstudent in Japan studeer. Hy werk as ʼn CIR in Koriyama en is ʼn wonderlike en snaakse persoon.

Keri is ʼn Suid-Afrikaner. Sy is al drie jaar in Japan, maar werk privaat en nie as ʼn JET nie. Ons word gou-gou goeie vriende! Dis lekker om iemand te hê met wie jy oor alledaagse dinge kan gesels. Dis lekker om iemand te hê wat verstaan wat in Suid-Afrika aangaan en jou nie vreemd aankyk as jy “robot” in plaas van “traffic light” sê nie!

Augustus is ook my verjaarsdagmaand. Dis my eerste verjaarsdag buite Suid-Afrika. Dit val op ʼn Donderdag en ek tref die hele week lank reëlings met my vriende om die naweek Sukagawa toe te gaan vir die derde grootste vuurwerkvertoning in Japan, so ek dink nie veel aan die skool nie.

Maar Keiko en die dames by die werk gaan uit hulle pad om dit vir my ʼn lekker ervaring te maak. Aan die einde van die dag roep hulle my na die personeelkamer en sing vir my! Daar is ook ʼn verjaarsdagkoek en tee. Alhoewel ek nie baie daarvan hou om geskenke te kry nie, was dit een van my beste verjaarsdae ooit! Ek is dankbaar. Nog nie een oomblik vandat ek hier aangekom het, het ek uit gevoel nie.

Die JET’s in die omgewing het ook vir my ʼn verwelkomingpartytjie (“enkai”) gehou. Ek het my verjaarsdag drie keer in twee weke gevier! Dis geleenthede wat ek nou vir niks sal verruil nie!

Lees ook E-pos uit die buiteland: Avonture in Japan – Deel twee

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels