E-pos uit die buiteland: Avonture in Japan – Deel vier

19/01/2018
| Deur Wian
15

September in Japan

September het soos enige ander maand gekom en gegaan. Dit was ʼn besige maand, maar verreweg die lekkerste tot dusver. Ons het die Inawashiro-meer besoek, die Bandaiberg geklim, die samoeraifees in Aizuwakamatsu bygewoon en in die Gunma canyon gaan rondjakker (‘canyoning’).

Inawashiro-meer

Die Inawashiro-meer is by die dorpie Inawashiro naby die dorpies Aizuwakamatsu en Minami Aizu geleë. Die meer is die vierde grootste in Japan en is sentraal geleë in die prefektuur. Dit staan ook bekend as die Tenkyo-meer of die hemelse spieël. Dit is prentjiemooi en die oppervlakte weerkaats die Bandaiberg wat daaroor troon – vandaar die naam hemelse spieël.

 

Ek, Joost, Toby, Abbie en die Benson-paartjie het besluit om die dag by die meer te spandeer. Ons stop by die naaste Konbini en koop ʼn paar eetgoedjies voordat ons in die pad val. Abbie en Joost het beide karre. Ons verdeel tussen die twee en val in die pad!

Dis ʼn uur se ry na die meer toe, maar dis vroeg en ons het die hele dag om daar te spandeer. By die meer aangekom is daar baie mense! Dis somer en almal swem, maak kos en geniet hulle gate uit! Dis warm, winderig en beknop, maar dis asof ons by die see is en ons gaan die beste van hierdie dag maak. Ons eerste aktiwiteit is ʼn bootrit op die meer. Die boot is nes ʼn wit swaan gevorm omdat die swane in die winter soontoe kom.

Die rit kos ons ongeveer 1 000 jen per person – dalk minder, ek kan nie nou onthou nie. Die boot vaar van die een kant van die meer na die ander en dan weer terug. Ons eet ons middagete en gaan buitentoe om foto’s van die meer te neem. Dis effe koud en winderig, maar dis ongelooflik mooi op die water.

Na die bootrit besluit ons om ʼn bietjie op die sandbanke te gaan rondloop. David en Angela het ʼn waartlemoen saamgebring (hulle het dit iewers in Iizaka waar hulle woon baie goedkoop gekry) en ons besluit dis tyd om dit oop te breek. Ons vind ʼn groot rots waarop ons ons sakke kan neersit en David begin die waatlemoen soos ʼn grotman oopkap – waarop eindelose grappe en snaaksighede volg. Die mense langs ons lag ook lekker saam, maar leen gou vir ons ʼn ordentlike mes en nooi ons om saam met hulle middagete te eet. So maak ons nog nuwe vriende. Hulle nooi ons sommer ook uit om saam met hulle te gaan swem en waterponie ry.

Na die dag se dinge moet ons terugkeer na Koriyama-stasie waar ons aandete eet voordat ons almal in verskillende rigtings gaan. Joost woon in Koriyama, so hy ken al die plekke en neem ons na Krispa, ʼn Nepalese restaurant. Ons eet ʼn verskeidenheid kosse en so eindig die wonderlike, uitputtende dag waarop nog goeie vriende gemaak is.

Bandaiberg saam met Toby

Bandaiberg (磐梯山, Bandaisan) is 1 816 meter hoog en ʼn dormante vulkaan. Dit troon oor Aizuwakamatsu, ʼn stad in die weste van die Fukushima-prefektuur, en is een van 100 bekende berge in Japan. ʼn Mens kan dit op verskeie maniere besigtig, onder andere deur met ʼn kar die Bandaisan Gold Line, ʼn tolpad, teen die berg op te ry. Die Bandaiberg is in die herfs ʼn baie gewilde plek om te besigtig as gevolg van sy mooi kleure.

Ek en Toby het wel nie in herfs die gaan bergklim nie, maar aan die einde van die somer, ʼn dag voordat ʼn tifoon die area getref het! Ons albei het ons fiksheid oorskat en gou agtergekom die berg is nie vriendelik met mense wat nie gereelde klimmers is nie! Ons het vinnig geleer die berg is baie mooi, maar ook baie gevaarlik as jy nie versigtig is nie.

Toby was in beheer van die roete en het onbewustelik die tweede moeilikste staproete gekies; dit het ons eers later by vriende gehoor wat al vantevore daar geklim het. Die eerste uur was vir my persoonlik die ergste. Dis baie steil en oral op die pad is daar los klippies; as jy nie versigtig is nie, kan jy gly en seerkry. Die staproetes is in die somer redelik gerieflik en oop, maar in die winter word dit as skiroetes vir toeriste gebruik; dit kan jou ʼn idee gee hoe steil dit is! Na die eerste uur het ons omgedraai en die landskap besigtig. Dit was asemrowend. Ons het ʼn uitsig oor die hele Inawashiro-meer gehad asook gedeeltes van Aizuwakamatsu.

Die roete vereis ordentlike stapskoene – ʼn les wat Toby met groot pyn moes leer. Maar ons het dit gemaak en op die kruin van die berg middagete geëet – ʼn bietjie water, vrugte en jellielekkers. Sommer gou weer was ons reg vir die res van die klim. Ons het met die ‘locals’ en gereelde klimmers gesels en die pragtige uitsig geniet tot die wolke na 10 minute begin inrol het.

 

Daar is nie veel meer te sê oor die roete nie, behalwe dat jy genoeg water by jou moet hê – dis nie eens onderhandelbaar nie. Die klim terug van bo na onder het ons net-net minder as ses en ʼn half uur geneem – volgens kenners blykbaar nie te sleg nie! Ek sal dit beslis weer doen en 100% vir enigiemand aanbeveel.

Die uitsig oor Goshikinuma, die vyf gekleurde mere, is is vanaf 600 meter tot op die kruin sigbaar. Dit is een van die plekke wat ek nog wil besoek.

Na 10 minute was die kruin heeltemal toe onder wolke en dit was ysig koud! Dankie tog ek het ʼn baadjie ingepak.

Ek en Toby op die kruin, moeg maar tervrede!

Aizuwakamatsu-samoeraifees (22-24 September 2017)

Aizuwakamatsu in die westelik helfte van Fukushima-prefektuur is bekend vir sy pragtige kasteel, ryk geskiedenis en sy samoerai. Op 22 September het ek die trein vanaf my tuisdorp, Shirakawa, geneem na die groot stad Koriyama. Daar het ek treine gewissel en Aizuwakamatsu toe gegaan om by my vriendin, Abbie, te gaan kuier vir die naweek. Aizu se grootste fees was toevallig ook daardie naweek.

Aizu is baie bekend in die prefektuur vir die groot aantal toeriste wat al die historiese geboue daar besoek, waarvan die bekendste die Tsuruga-kasteel is. Dit staan in ʼn asemrowende park naby ʼn traditionele Japanse teehuis, Rinkaku Tea Cottage. Jy kan groentee en koek in ʼn asemrowende tuin geniet terwyl jy van die res van die wêreld vergeet.

Die Tsuruga-kasteel is oorspronklik in 1384 gebou, maar is in 1868 tydens ʼn rebellie teen die Meiji-regering afgebrand. Dit is weer in 1965 herbou en is nou ʼn museum met uitstallings oor die geskiedenis van die area, byvoorbeeld kledingstukke uit die Meiji-era (1868-1912) en die Edo-era (1603-1867), pragtige kimono’s en katana-swaarde. Daar is ook baie fotos van plaaslike inwoners.

Voordat ek en Abbie die fees ten volle kon geniet, tel ons ʼn paar sleutels op en gaan gee dit soos barmhartige samaritane by die koban (polisie) in. In ons gebroke Japannees probeer ons vir ʼn uur lank aan die polisiemanne verduidelik dat ons dit nie wil terughê nie, maar net wil inhandig. Wat ʼn proses was dit nou nie! Papierwerk en nog papierwerk volg en uiteindelik, na ʼn uur se gesukkel (en so ʼn bietjie hulp van mense wat ons moes bel omdat hulle Japannees kan praat), is ons die strate in om die dag te geniet. Maar eers moes ons roomys kry om onsself te beloon vir ons goeie dade.

Kort voor lank sluit ons by die res van die groep aan. Hulle is (saam met ʼn Engelse toergids!) op ʼn toer deur die kasteel om van Aizu en die kasteel se geskiedenis te leer. Ons het nie lank by hulle gebly nie; ek en Abbie het ander planne gehad vir die middag. Maar dit was lekker om almal te sien. Ons sou mekaar in elk geval weer deur die loop van die naweek raakloop.

Aizu se samoeraifees was die hele Saterdag lank aan die gang. Verskeie vlotte en groepe paradeer in die strate rond en vermaak die skare wat hulle aanmoedig. Mense loop rond in tradisionele kimono’s en yukatas wat hulle oorsprong en geskiedenis aandui. Daar is verskeie vertonings oral om die stad. Teiko-dromme speel by die kasteel en mense vermaak die kinders en die ouer skare in hulle trandisionele klere. Straatsmouse en stalletjies is opgerig vir tipiese feeskos en almal geniet die dag. Die parade se eindbestemming is die kasteel waar die skare na ʼn laaste toneel kan kyk. Almal wat deur die loop van die dag aan die parade deelgeneem het, is ook beskikbaar om foto’s saam met die toeskouers te neem.

Die Sondag kom ons almal bymekaar vir ontbyt. Daarna gaan ons na die tempel op Iiomoriyamaberg waar ʼn groep seuns wat aan die Boshin-oorlog deelgeneem het, selfmoord gepleeg het. Dit word deesdae as ʼn heilige en geskiedkundige plek beskou en ons leer deur die loop van die dag baie van die geskiedenis. Ongeveer 20 seuns het in 1868 ʼn brand in die stad gesien. Hulle het gedink hulle kasteel is aan die brand en hulle is te min om die vyand te oorwin. Hulle besluit toe op hara-kiri or seppuku (ʼn soort selfmoord-pakt). Hulle sou eerder hulle eie lewe neem as om saam met vyande te lewe. Net een van die 20 seuns het oorleef en ʼn tempel is opgerig ter ere van dié wat dood is – die daad word tot vandag toe as ʼn voorbeeld van lojaliteit beskou.

Die tweede deel van die dag het ons almal ʼn Akabeko gaan verf. ʼn Akabeko is ʼn legendariese rooi koei met ʼn interessante geskiedenis en dit is Aizuwakamatu se gelukbringer. Volgens die mense van Aizu is dit in die negende eeu gebruik om die Enso-ji-tempel in Yanaizu te bou. Die bekende rooi koei is deesdae vir baie kinders ʼn speelding en bestaan uit twee gedeeltes van papier-mâché en hout. Om ʼn Akabeko te verf, is ʼn baie gewilde aktiwiteit onder toeriste en locals in Aizu – almal het ʼn Akabeko omdat daar geglo word dit sal vir jou geluk bring. Net soos baie ander toeriste het ons ook in Aizu ons eie Akabeko geverf.

Hierdie naweek beveel ek definitief sterk aan vir enigiemand wat in September in Japan is!

Gunma Minakami ‘canyoning’

FuJet is ʼn organisasie wat die JET’s in Fukushima ondersteun. Hulle reël gereeld geleethede waaraan die JET’s in die prefektuur kan deelneem; sodoende sien ons almal mekaar gereeld en bly nie vreemdelinge nie. Die geleenthede help ons om vriende te maak en verhoudings te bou. In September 2017 het hulle ʼn canyoning-uitstappie vir die JET’s in die prefektuur georganiseer. Die canyoning-uitstappie is elke jaar ʼn groot geleentheid om na uit te sien. Daar is net ʼn beperkte aantal plekke beskikbaar en jy moet spring om plek te bespreek op die dag wat die aansoeke open!

Vrydagaand 29 September het almal per bus na Gunma-prefektuur vertrek. Niemand het op die bus geslaap nie. Dit was eintlik maar net een groot partytjie op die bus om onsself te vermaak en die tyd om te kry.

Ons het in die vroeë oggendure in Gunma aangekom. Daar is ons in kamers verdeel en het gou-gou aan die slaap geraak soos die moegheid ons oorval het. Die volgende dag sou baie besig wees en ons moes voorbereid wees daarop.

Vir die canyoning is ons verdeel in twee groepe wat die ysige rivierwater van Minakami sou aanpak. Ek was in die later groep met minder mense, wat ideaal was vir my. Ons het deur klein spasies gegaan, van ʼn 20 meter hoë waterval afgespring, nog kleiner spronge gemaak wat die adrenalien laat pomp het, en in die river geswem. Die hele gedoente het ongeveer twee uur geduur.

Dit was ongelooflik koud, maar terselfdertyd ongelooflik lekker. Ons het op ʼn heel nuwe manier van waterveiligheid geleer. Dit is immers nie die swembad in jou agterplaas nie.

Vir die middagsessie is almal weereens in groepe verdeel. Ek het deelgeneem aan riviervlotvaart (‘river rafting’). Dit was baie lekker, maar ook ʼn bietjie telleurstellend aangesien die watervlakke baie laag was.

Ons was ʼn groep van ses en ons toergids. Ons moes eers leer hoe om op die vlot (‘raft’) te spring en beweeg sodat dit nie omkantel nie en ons moes seker wees van die veiligheidsmaatreëls. ʼn Mens kan seker nie baie oor ʼn vlotvaart sê nie behalwe dat dit ʼn wonderlike ervaring is en ek sal dit graag weer wil doen, maar dan met ʼn bietjie meer water in die rivier!

Die aand nadat almal uit die ysig koue water gekom en warm aangetrek het, is ons na ʼn musiekfees met Engelse en Japanse sangers. Ons het ongeveer 10 minute tot by die kosstalletjies gestap en al die JET’s het die kos soos honger wolwe aangeval.

Die beste gedeelte van die aand was toe ek en Cormac ʼn lugballon ontdek het! Ek was al vantevore by Hartebeespoort in ʼn lugbalon, maar Cormac was nog nooit nie en wou bitter graag in een opgaan! Ek besluit toe om saam met hom op te gaan en almal van bo af te bekyk. Dit was baie lekker en baie koud!

Die Gunma-uitstappie sal ek sterk aanbeveel vir enigiemand wat op die program kom. Die canyons se program loop reg deur die jaar en daar is iets vir elke seisoen.

Lees ook: E-pos uit die buiteland: Avonture in Japan – Deel drie

Deel op

Nuutste artikels