Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Janus de Villiers wat in Hongkong woon.
Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?
Ek is in Pretoria gebore, het daar gematrikuleer en daarna in Potchefstroom studeer. In 2013 het ek besluit om avontuur en finansiële onafhanklikheid in die buiteland te gaan soek en het ’n onderwyspos by ’n naskoolse leersentrum in China aanvaar.
Ná drie rowwe maande in ’n relatief klein stadjie in die Zhejiang-provinsie met amper geen Westerlinge of Engelssprekendes nie, het ek na Beijing verhuis met die hoop om in ’n groter stad ’n beter kans te staan om vriende te maak en by ’n gemeenskap in te skakel.
Dit was die beste besluit van my lewe en ek het ’n wonderlike jaar daar gehad. Alhoewel ek daarna weer ’n kort rukkie in Suid-Afrika gewoon en gewerk het, was my reislus te groot en het ek ’n begeerte gehad om weer oorsee te trek. In 2017 is ek terug Asië toe en het in Hongkong begin klasgee.
Ek is gek oor reis en dit is heelwat makliker en meer bekostigbaar vir my om die wêreld te sien terwyl ek in die buiteland gevestig is en ’n salaris in ’n sterker geldeenheid verdien.
Ek het intussen ook ’n jaar in Seoel skoolgehou, maar het vroeg vanjaar na Hongkong teruggekeer. Die vereiste drie weke hotelkwarantyn oor Kersfees was nie speletjies nie, maar ek is dankbaar om terug te wees en weer hier te kan woon.
Jy is ’n ywerige reisiger. Vertel ons meer van die lande wat jy al besoek het.
Ek is inderdaad ’n ywerige reisiger. Om so veel en gereeld as moontlik te reis, is ’n persoonlike prioriteit in my lewe. Ek geniet die navorsing oor bestemmings en die beplanning van my toere amper net soveel as die eintlike reise! Ek keer dus nie sommer vinnig terug na plekke nie, maar daag myself uit om soveel lande as moontlik te geniet.
Ek het al omtrent 40 lande besoek en onder andere die grootste deel van Asië gesien, reg oor Nieu-Seeland met net ’n rugsak getoer, ’n paar maande in jeugherberge in Suid-Amerika spandeer, en onlangs vir ’n halfjaar Europa se inperkingsregulasies tydens die pandemie ervaar.
Van my gunstelinglande op aarde is onder andere Peru, Engeland, Mosambiek, Rusland en Maleisië.
Het jy nog kontak met Suid-Afrika en sal jy ooit terugkom?
My familie woon steeds in Suid-Afrika, maar ek is verloof aan ’n Engelsman wat ek hier in Hongkong ontmoet het. Ons het ’n nomadiese leefstyl en het tans geen begeerte om ons hier of op enige ander plek permanent te vestig nie.
As ons wel in die toekoms besluit om ons permanent te vestig, mag dit heel moontlik Suid-Afrika wees. Maar dit sal net een van ons vele opsies wees – die wêreld is ’n groot plek!
Wat was die vreemdste aspek om aan gewoond te raak in Hongkong?
Natuurlik is daar kultuurverskille waar ook al ’n mens gaan, veral in die werksplek. In China en Suid-Korea het ek boonop gesukkel met die taal aangesien baie min inligting in Engels beskikbaar is.
Hongkong is administratief deel van China, maar is ’n aparte gebied met hul eie grense, geldeenheid, paspoorte, politieke stelsel en maniërismes. Dis werklik ’n stad waar die Weste en Ooste ontmoet en die kultuur voel baie meer Westers en bekend as in China (of soos hulle hier sê: “op die vasteland”).
Verskillende tale kan in die strate gehoor word en restaurante bied ’n mengelmoes van internasionale disse. Alhoewel Kantonees die amptelike taal is, het ek nog glad nie kommunikasiehindernisse ervaar nie. Alle padtekens, straatname, openbare aankondigings, spyskaarte en so meer sluit altyd Engelse vertalings in.
Waarskynlik die moeilikste aspek van Hongkong om aan gewoond te raak, is hoe ongelooflik besig, digbevolk en raserig die stad is.
Tog, wanneer die stadslewe te oorweldig raak, is daar baie parke, staproetes, strande en selfs tropiese eilande waarheen ’n mens kan ontsnap – almal binne ’n uur per bus of veerboot vanaf die middestad. Die openbare vervoer is baie betroubaar, gereeld en bekostigbaar en hier is basies geen misdaad nie. Dis dus veilig om enige tyd van die dag of nag te ontsnap en avonture aan te pak.
Is dit duur om daar te woon?
Ongelukkig ja! Sover ek weet, is Hongkong een van die drie duurste stede ter wêreld; die ander twee is Tokio en Zürich. ’n Wegneemkoffie kos gemiddeld R65, ’n ete in ’n standaardrestaurant R300, die goedkoopste bier ten minste R100.
Behuising word ook jaarliks as die duurste ter wêreld aangewys. ’n Enkelbedkamer in ’n gedeelde woonstel word vir sowat R12 000 verhuur en gemiddelde huur vir ’n standaard-eenslaapkamerwoonstel jaag jou maklik R25 000 per maand uit die sak.
Alles klink natuurlik duurder in rand, maar ’n gemaklike leefstyl is wel bekostigbaar as jy Hongkongse dollars verdien. (Alhoewel ’n groter begroting slegs ’n meer moderne woonstel bied, nie groter nie. Almal is piepklein!)
Was dit maklik om nuwe vriende te maak en in te skakel in die gemeenskap?
Hongkong is werklik ’n internasionale stad in elke sin van die woord en propvol verskillende kulture en buitelanders.
Jy kan mense ontmoet op webwerwe en sosiale media, maar aangesien amper al die plaaslike inwoners Engels kan praat, is dit maklik om geselsies aan te knoop en vriende te maak.
Daar is ook kroeë, biertuine en areas wat bekend is as bymekaarkomplekke vir reisigers en buitelanders.
Wat is die grootste verskil van jou lewe in Suid-Afrika?
Ek woon in die bedrywige Mong Kok-distrik, wat “besige hoek” in Kantonees beteken en die digs bevolkte woonbuurt op aarde is. Dis wêrelde verwyder van die ruimtes waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is!
Die leefstyl is baie meer gehaas en vinnig as waaraan ons in Suid Afrika gewoond is en die konstante stormloop kan oorweldigend wees. Die klein woonstelletjies, oorvol strate, wolkekrabbers en beknopte supermarkte laat my ook soms kloustrofobies voel!
Tog is ek mal oor die stad en wat dit bied. Dis moeilik om aan iets te dink wat nie hier beskikbaar is om te koop, eet of doen nie. Die baie opsies, gepaard met hoeveel daar is om te ervaar, hoe veilig die stad is en hoe fantasties die openbare vervoer is, asook die feit dat die meeste winkels en restaurante heeldag en -nag oop is, gee ’n mens ’n wonderlike gevoel van vryheid.
Wanneer ek wel huis toe verlang, het ek heelwat Suid-Afrikaanse (en Afrikaanssprekende) vriende hier. Daar is ’n uitstekende Suid-Afrikaanse restaurant op Lantau Eiland en ’n hele paar winkels wat enigiets van biltong tot beskuit en rooibostee verkoop en by my voordeur kan aflewer.
Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?
Ek gee klas by ’n naskoolse leersentrum en werk tipiese kantoorure. Ek neem daagliks die moltrein en gee vyf of ses uurlange klasse vir leerders tussen drie en tien jaar oud.
Skoolkinders in Asië is besig en onder verskriklike druk. Dis die norm hier vir kinders om ingeskryf te wees by veelvuldige leersentrums waarheen hulle ná skool, oor naweke en tydens skoolvakansies gaan. Dis amper onwerklik om te dink dat ek grammatika- en skryfklasse vir vierjariges in hul tweede (of soms derde) taal aanbied, en dat dit net een van die baie privaat klasse is wat hulle daagliks bywoon!
Te danke aan die uitstekende openbare vervoerstelsel is dit maklik om ná werk die stad te verken. Lekker ontspanningsaktiwiteite sluit in om van ’n daktuin af na die sonsondergang te kyk, skemerkelkies in of op ’n wolkekrabber te geniet (die hoogste kroeg in die stad is ook die hoogste op aarde en is op die 118de verdieping) of deur die tradisionele nagmarkte te wandel.
Woon jy in die buiteland of het jy onlangs na Suid-Afrika teruggekeer? Ons wil van jou hoor. Stuur gerus ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.