Erfenisjuwele 4 – Paul Roux Privaat Museum

26/06/2024
| Deur Alana Bailey
museum

Alana Bailey

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Een van die nuwe erfenisjuwele is die Paul Roux Privaat Museum. Ons het by Renee Wolfaardt, een van die museum se komiteelede, gaan kers opsteek oor die ontstaan daarvan en waarna besoekers kan uitsien as hulle daar besoek aflê.

Alana:    Baie dankie vir julle deelname aan Erfenisjuwele, Renee. Vertel ons asseblief meer oor die geskiedenis van die museum?

Renee:   Baie dankie vir die geleentheid om ons museum bekend te stel.  Ons waardeer dit. Die museum is op 1 April 2022 geopen nadat die huidige komiteelede besef het dat ons die dorp se geskiedenis moet bewaar en deurgee aan die nageslag.  Na die COVID 19-pandemie het die komitee bewus geraak dat daar ook ’n behoefte was onder die gemeenskapslede om iewers bymekaar te kom, aangesien die dorp se Smitsaal tydens die pandemie verkoop is en ons nie meer ’n samekomsplek  gehad het nie.

Alana:    Waar is die museum geleë?

Renee:   Dit is in Paul Roux se hoofstraat. Die adres is Voortrekkerstraat 31, Paul Roux. Daar is ook ’n bord opgerig om besoekers te help om die museum te vind.

Alana:    Aan wie behoort dit?

Renee:   Mev. Yvette Jensen het goedgunstiglik een van haar sandsteengeboue beskikbaar gestel vir die museum en dit word bestuur deur ’n komitee.

Alana:    Wat het julle al alles gedoen om dit meer besoekersvriendelik te maak?

Renee:   Ons het gewoonlik een keer ’n maand ’n “museumdag” met stalletjies, sprekers en demonstrasies.  Van die bedrywighede wat ons al aangebied het by ons museumdae sluit in hoe om botter te maak, brood te bak in ’n buitebakoond, Vicky Heunis het met ons kom gesels oor krygsgevangenekuns van die Anglo-Boereoorlog, JP Lees oor slange en dr. Gideon Groenewald oor die dinousaurustydperk in Paul Roux. Ons het elke jaar ’n kapkarretjiedag en het ook al klassieke motorkardae gehad. Verder het ons Boeresportdae vir die kinders aangebied en selfs ’n komedie oor Paul Roux se geskiedenis opgevoer.  Die inwoners het al lyndanse gedoen, ’n Meneer en Mevrou Museum aangewys en ons hou lentedae, asook fliekaande waar ons fliek onder die sterre.

In Oktobermaand (12 tot 13 Oktober 2024) word ons eerste kwiltfees aangebied waar mense kwiltwerk sal uitstal, demonstrasies sal hou, daar sal storievertellings wees, ons gaan ’n Griekse langtafelete saam met Frik de Jager van RSG se Klets en Kook hou, daar sal Griekse danse wees en die Sondagoggend sal dr. Jan Beukes van Bloemfontein ’n orreluitvoering hou.  Ons beplan ook vir 16 Desember ’n Geloftefeesdag waar mense tradisioneel gaan aantrek met ’n “lewendige” uitstalling van die lewe soos tydens die Groot Trek. Dit sal bestaan uit ’n tent en bokseil-afdak, vuurmaakplek, meubels, ensovoorts.  Ons sal op die tradisionele manier vuurmaak met ’n tonteldoos, koffiebone brand en maal, koeëls giet, skietdemonstrasies met ’n vuursteengeweer hou, en vele meer.  Daar sal Boeresport wees en ’n heerlike middagete waarvoor almal hulle eie vleis en slaai bring en die museum die vuur en roosterkoekbrode voorsien.  Daar sal ook ’n kerkdiens wees, gelei deur die APK se Paul Roux.

Alana:    Wat kan mense alles in die museum sien?

Renee:   Ons deel graag ons eie geskiedenis met die besoekers.  Ons het ’n groot uitstalling van die Steentydperk, asook stories oor die Anglo-Boereoolog.

Alana:    Wat verras mense gewoonlik as hulle die eerste keer by julle besoek aflê?

Renee:   Die gasvryheid van die mense.

Alana:    Wat is van die uitdagings wat julle teenkom en wat is op julle wenslysie?

Renee:   Spasie – die museum het net twee vertrekke met ’n kombuis en stoep, ons het onlangs ’n PortaPotti aangekoop omdat daar nog nie ’n ablusieblok is nie. Ons het ook behoefte aan uitstalkabinette.

Alana:    Hoe kan belangstellendes betrokke raak?

Renee:   Diegene wat graag Vriende van die Museum wil word, kan asseblief vir mev. Yvette Jensen kontak by 082 675 4739. Ons verwelkom ook altyd graag besoekers!

Alana:    Ten slotte, as ander gemeenskappe ook by ’n terrein, monument of museum betrokke wil raak, wat is julle advies?

Renee:   Dit sal wonderlik wees as gemeenskappe en organisasies wil betrokke raak.  Ons het byvoorbeeld redelik baie opknappingswerk by drie areas uit die Groot Trektyd nodig, asook hulp met die herdenking van die Groot Trek en ons sal ook ondersteuning by die museum verwelkom.  Kontak asseblief vir Renee Wolfaardt by 082 304 7006 hieroor.

Alana:    Wat is die museum se kontakbesonderhede?

Renee:   Ons e-posadres is prprivatemuseum@gmail.com of Yvette Jensen kan by 082 675 4739 geskakel word.

Alana:    Baie dankie Renee – ons wens julle alle sterkte met die uitbou van die museum en julle aktiwiteite toe! Dankie vir julle inisiatiewe om julle omgewing se unieke geskiedenis op hierdie wyse te bewaar en lewendig te hou!


Voetnoot: Aanvanklik het ons by Maritha Swanepoel van Bethlehem Museum gehoor van die pragtige nuwe museum. Ek het kontak gemaak met Richard Lewis wat my na Renee verwys het. Ons het verneem dat Richard onlangs oorlede is. Ons betuig hiermee AfriForum se innige simpatie aan sy naasbestaandes.

Lees ook: Erfenisjuwele 3 – Talana Museum, Slagvelde- en Erfenispark

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels