Die koorsagtige Brexit-debat
Regoor die land, in restaurante, kroeë, kantore en treine, word die in- of uit-vraag openlik, gretig en dikwels angstig bespreek. Daar is eindelose spekulasie oor hoe huispryse, rentekoerse, die banksektor, sekuriteit, immigrasie, die nasionale gesondheidsdiens (NHS), wetenskaplike navorsing, die kunste en selfs die toekoms van Gibraltar beïnvloed sal word as Brittanje sy lidmaatskap van die Europese Unie (EU) beëindig.
Dit is heeltemal anders as gewone verkiesings waar mense gewoonlik redelik terughoudend is oor watter party hulle ondersteun. Dit is ook die soort besluit wat slegs eenkeer in ‘n leeftyd geneem word; die laaste een was in die sewentigerjare. Die ander ongewone ding is dat die groot politieke partye openlik intern verdeeld is – die Konserwatiewe reuse David Cameron en Boris Johnson val mekaar aan. Aan die ander kant deel tradisionele ideologiese opponente soos George Osborne, Ed Balls en Vince Cable moeiteloos dieselfde verhoog.
Die meeste mense weet nie heeltemal wat om te dink van die oënskynlik oortuigende argumente wat deur beide kante aangebied word nie. Ek het met baie mense gepraat wat erken dat hulle onseker is of voortdurend van plan verander. Die feit dat meer as 20% van die kiesers op hierdie laat stadium van die veldtog steeds nie seker is waarvoor hulle gaan stem nie, is ook ongewoon. Dit syfer deur na woordvoerders van die veldtog aan beide kante wat reageer deur hul onderskeie kwessies te oordryf om hierdie kosbare, onsekere stemme in hulle guns te probeer swaai.
Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in Londen
‘n Belangrike debat oor die Brexit-kwessie is ook verlede week by die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel se maandelikse Connect-vergadering in die hartjie van Londen gehou.
Ryan Coetzee, ʼn politieke strateeg wat in Suid-Afrika ‘n LP was en nog steeds ‘n aktiewe DA-raadgewer is en wat ook ‘n spesiale raadgewer was vir Nick Clegg van die Liberaal-Demokrate, is ‘n voorstander van die mening dat “Brittanje sterker in” die EU sal wees, terwyl Andrew Rosindell, die Konserwatiewe LP vir Romford en ‘n lid van die VK se parlementêre groep vir alle partye (APPG) oor oorsese Britse gebiede, pleit dat die VK uit die EU moet tree ter wille van ‘n beter verhouding met die Statebond en Suid-Afrika.
Dié twee uitstekende sprekers het hul onderskeie standpunte met oortuiging en passie gestel en in ‘n stadium baie driftig geraak. Andrew Rosindell het sy saak eerste gestel en geen doekies omgedraai oor hoe belangrik dit vir die Britte is om hul soewereiniteit terug te kry sodat hulle kan vry wees om met die hele wêreld handel te dryf en nie deur die topswaar Brusselse burokrate gekortwiek te word nie. Andrew het ook die immigrasiekwessie beklemtoon; dit is vir baie mense ‘n groot bekommernis en hy het die geldige vraag gevra waarom die vrye beweging van mense binne die EU toegelaat moet word. Hy het daarop gewys dat ander gemeenskapsmarkte in die wêreld steeds hul onderskeie grense behou. Die feit dat meer as ‘n miljoen Siriërs binne ‘n paar jaar Duitse paspoorte kan hê en vrylik na die VK en die res van Europa kan kom, is ook bespreek. Andrew het ook daarop gewys dat die Britte baie meer van Europa koop as wat dit uitvoer en dat die Europese Unie nie kan bekostig om so ʼn groot mark te verloor nie.
Andrew het verwys na die Statebond as Engelssprekendes in teenstelling met Europa; dit is ‘n bietjie vreemd, want Engels is aanvaar as die Europese Unie se lingua franca en dit is grootliks die voorkeur vreemde taal vir studente regoor Europa. Ek kon nie help om te wonder waarom die inherente ekonomiese swakpunt van ‘n gemeenskaplike monetêre beleid vir Europese lande so uiteenlopend soos Finland en Griekeland nie opgeduik het nie.
Ryan Coetzee het onmiddellik afgeskop met ‘n indrukwekkende lys internasionale en nasionale finansiële instellings, waaronder die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank, wat geen doekies draai om die feit dat uittrede uit die Europese Unie nadelig sal wees vir die Verenigde Koninkryk se ekonomie nie. Hy het beklemtoon dat die VK baie meer invloed sal hê as lid van die grootste ekonomiese blok ter wêreld en dat dit waansin sal wees om direkte toegang tot 400 miljoen Europeërs prys te gee. Op stuk van sake gaan meer as 50% van die Britse uitvoere na Europa. Ryan het gewaarsku teen ʼn ekonomiese insinking as die Brexits seëvier. Dit lyk werklik na ‘n moontlikheid, aangesien die bankwese en finansiële instellings sowat ʼn kwart van die binnelandse inkomste genereer en dienste, in teenstelling met fabrieke, feitlik oornag kan oppak en trek. Ek het met ‘n paar Suid-Afrikaners gepraat wat in dié sektor werk en dit lyk of hulle almal hierdie vrees deel. Die bestaande handelsooreenkomste sal beëindig word as die VK kies om die EU te verlaat en volgens Ryan sal daar van voor af oor almal onderhandel moet word; dit kan jare duur.
Ryan kon dit nie weerstaan om die pro-Europeërs ‘n bietjie aanstellerig voor te hou as verdraagsame, selfbeheerste wêreldburgers nie, in teenstelling met die eng EU-verlaters.
Die Europese Ekonomiese Gemeenskap
Ek het in die sewentigerjare in Londen gewerk. In die somer van ʼ75 het ons met ‘n kampeerwa deur Frankryk gery, al die pad tot in Marbella, en toe op tot in Noord-Italië en terug na Engeland. Een van die oorheersende herinneringe aan daardie reis is die armoede in sommige dele van Spanje. Ons het baie TV-antennas in die heuwels sien uitsteek waar mense in grothuise gebly het. Boervroue in stofbedekte swart klere het laatmiddag troppe kleinvee na die dorpe teruggebring. Een middag wou ons by ‘n winkeltjie in ‘n dorp in die heuwels buite Barcelona kos en snoepgoed koop, maar die rakke was byna leeg. Ons kon net ‘n paar olywe en ou brood kry. Die hoofpad van Madrid af suid na Marbella toe was smal en het ‘n swak oppervlak gehad. Dit kon nie naastenby vergelyk word met die breë teerpad wat Johannesburg daardie tyd met Kaapstad verbind het nie.
Draai die horlosie 25 jaar aan en Spanje is omskep in ‘n moderne industriële en welvarende land met ‘n padnetwerk wat vir geen ander agteruit staan nie. Dit is die gevolg van politieke veranderinge en die enorme voordele van die Europese Ekonomiese Gemeenskap. Al die lande het steeds hul eie grense gepolisieer en hul onderskeie geldeenhede gebruik. Dit was dikwels ongerieflik en soms baie verwarrend, maar die EEG het vir Europa ‘n nuwe era van ekonomiese samewerking en voorspoed ingelui.
Ons was verheug oor die vordering wat gemaak is met die Schengen-visums in 1990 en later in ʼ99 die euro-geldeenheid, maar die topswaar Europese Unie is moeiliker om te waardeer en bewonder. Hierdie anonieme burokrate is meer as net ʼn bietjie arrogant; hulle is deur niemand verkies nie en is dus teenoor niemand aanspreeklik nie.
Die groot besluit
Op die ou end sal die meeste mense volgens hulle persoonlike omstandighede stem; die Britse expats wat in Europa bly sal byvoorbeeld wil deel bly van die EU. Jong paartjies met wie ek gesels het, het vir my gesê hulle gaan stem om uit te gaan sodat huispryse kan daal. Dié wat vir maatskappye werk wat met Europa sake doen, sê hulle wil nie die rus versteur nie. Die vissers voel ander Europese lande soos Ysland en Noorweë het die VK se water oorbevis, daarom wil hulle uit. Meningspeilings toon ouer mense is meer geneig om die EU te wil verlaat, terwyl jonger kiesers, veral studente, verkies om deel te bly van Europa.
Wonder jy waarvoor bekendes stem? Die aktrise Keira Knightley, Arsène Wenger van Arsenal, die Top Gear-man Jeremy Clarkson en die bekende sjef Raymond Blanc wil deel bly van die EU, terwyl die krieketlegende sir Ian Botham, die akteur sir Michael Caine en die rock-legende Roger Daltrey van The Who wil uit.
Selfs ons gesin is verdeeld – drie stem om te bly en twee om uit te gaan. Maar ons almal is dit eens dat ontledings deur onafhanklike kundiges wat nie bande het met enige kant nie, werklik in hierdie veldtog ontbreek. Hierdie verkiesing kan nog tot op stemdag ernstig beïnvloed word deur eksterne gebeure. Dit gaan ‘n gespanne drie weke wees.