Fanie Os Oppie Jas: Howzit my China. Filippyne

06/04/2017
| Deur Sue-Ann de Wet
fanie-os-oppie-jas-howzit-china-filippyne

Deel 1

In die tyd van die Ou Testament was die Filippyne ’n regte klomp skoorsoekers. Dié aartsvyande van die Israeliete was van Genesis 10:14 tot by Sagaria 9:7 pál oorgehaal vir ’n vinnige potjie oorlog, maar kon selde daarin slaag om ewe veel binnegoed as bek te wys. Dink byvoorbeeld aan die Filippynse reus Goliat wat, ondanks sy verwaande braafheid, deur ’n snuiter met ’n slingervel terug aarde toe gebring is. Of aan die onverskrokke Simson wat op ’n kol sommer 6 000 Filippyne met ’n dooie donkie se kakebeen afgemaai het.

Met die verloop van die eeue het die Filippyne egter besef dat oorlogsugtigheid nooit hul grootste uitvoerproduk sal wees nie en het hulle besluit om hul nuutgevonde pasifisme elders te gaan uitleef.

Vandag bewoon sowat 103 miljoen Filippyne hulle land in Suidoos-Asië wat ’n samevoeging is van niks minder nie as 7 107 eilande. En omdat hierdie laslappieland ’n om-die-hoek-buurman van my tydelike tuisland is, het ek en my twee gunstelingreisgenote besluit om te gaan ondersoek instel na die welstand van hierdie spulletjie eertydse kwaadstokers.

Vervolgens dan ’n aantal onverbonde gewaarwordinge, gebeurtenisse en gedagtes wat uit ons besoek van twee weke gespruit het…

Die Filippyne voer nou wel nie vandag meer oorlog teen enige eksterne magte nie, maar daar is wél ’n burgeroorlog in die kleine aan ’t woed in hierdie land. Met hulle ongekunstelde president, Rodrigo Duterte, aan die spits, word daar ’n verbete stryd gevoer teen dwelms, dwelmsmouse, dwelmgebruikers en alles anders wat die woord “dwelm” as ’n voorsetsel dra. Dié stryd is egter nie net verbete nie, dis ook barbaars. En moordlustig. En dit druis in teen die VN se Handves van Menseregte. Sedert Duterte agt maande gelede die leisels oorgeneem het, is meer as 8 000 vermeende (VERMÉÉNDE!) dwelmgebruikers koelbloedig vermoor. Dis ’n gemiddeld van meer as 30 moorde per dag.

Ek was derhalwe diep verlig dat ek dié keer besluit het om die sak kokaïen waarmee ek gewoonlik op reis gaan, by die huis te los. ’n Koeël in my kop is nie juis die voorkeuraandenking waarmee ek van my reise af terugkeer nie.

Lees ook: Fanie wie?

Ons eerste bestemming was El Nido (Spaans vir “Die Nes”), ’n dorpie aan die noordelike kim van die vyfde grootste Filippynse eiland – Palawan. Om by dié nes uit te kom, moes ons ’n aansluitingsvlug haal uit Manila, die hoofstad, en met ons aankoms by die lughawe het ’n sonderlinge ervaring op ons gewag…

Die skroefvliegtuigie waarmee ons uit Manila gekarwei is, het neergestryk en tot stilstand gekom, waarna ons, sowel as ons 20 medepassasiers, deur ’n oopkaptrokkie opgepik en na die “aankomssaal” vervoer is. Dié was ’n muurlose dubbelverdiepinghoutstruktuur, afgerond deur ’n grasdak, wat veel meer gelyk het na ’n lodge iewers in die Bosveld as na die lughaweterminaal van ’n internasionale toeristebestemming.

Terwyl ons nog gestaan en kopkrap het oor dié minimalistiese ontwerp, het ses (ouerige) dames in lang, heldergeel rokke hul plotselinge verskyning gemaak. Saam met hulle was ’n manlike mandolienspeler, en voor jy kon sê “warrehel gaan hier aan?” het sy vingers oor die snare begin gly, terwyl sy vroulike metgeselle ’n reeks goed gesinchroniseerde hula-danspassies uitgevoer het. En ná die laaste stuiptrekkings van dié impromptu aflewering van “Strictly Come Dancing: The Tropical Island Edition”, het die dansers ons op koekies en limonade getrakteer terwyl ons op ons bagasie gewag het.

Deur die jare het ek al by ’n hele paar lughawens gearriveer, maar dié was ongetwyfeld een van die mees buitengewone/onvergeetlike/bisarre ondervindings wat ek nog ooit in daardie redelik eentonige lewenskategorie beleef het.

Lees volgende week weer verder oor ons avontuur in die Filippyne.

Besoek gerus Fanie se webblad, Fanie Os Oppie Jas, en sy Facebook-blad, Fanie Os Oppie Jas: howzit my China.

Foto’s: Fanie van der Merwe

 

Deel op

Nuutste artikels